News

Eerste Mej. Heelal huiwer nie om standpunt in te neem nie

Vir die voormalige Mej. Heelal, model, skrywer en joernalis is daar altyd 'n rede om jouself te beskerm en nie toe te laat dat boelies oor jou loop nie.

Vir Margaret Gardiner is dit Suid-Afrika se natuurkleure en veral dan die groen van bosveldbome, ’n stukkie boerewors en kuiers saam met haar susters en skoonsuster in Kaapstad, die dinge waarna sy verlang wanneer sy in Kalifornië by haar tuiste is.

“Dis asof die kleure, veral die blou van die hemel, wil uitspring om jou te omarm,” sê die vriendelike, bedagsame en geesdriftige oud-Kapenaar.

Gardiner het Los Angeles al vir etlike jare haar tuiste gemaak en is bekend is vir haar werk as druk- en TV-joernalis.

Sy is ’n bekende gesig op die rooi tapyte van geleenthede soos die Golden Globes, Oscars en filmpremières, en voer onderhoude met Hollywood-sterre op die A-lys.

Dié oud-student van die College of Charleston is in die St. George-katedraal in Kaapstad op Valentynsdag in 1987 getroud met André Nel, ’n professor in Pediatrie en Openbare Gesondheid aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles. Sy dra haar nuwe boek aan haar wederhelftte en haar seun, Brandon, op.

As ’n wêreldburger met ’n wye verwysingswêreld, haal Gardiner digter Sylvia Plath sommer so terloops aan, het ’n positiewe oorsig en insig in wêreldgebeure en is nie skugter om hierdie menings uit te spreek nie. Sy het haar eerste gedigte op 16 gepubliseer.

“Ek is baie ver van ’n stereotipe in enige opsig. Ek weet wie ek is en dis moeilik om my van hierdie wete te vervreem. Ek sal nie toelaat dat jou opinie oor wie en wat ek is my skade aandoen nie en staan hierdie gedagte vir alle mense voor wat die prooi van boelies word.”

Margaret Gardiner tydens haar Mej. Suid-Afrika jaar. Foto: Facebook

Sy was die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat die Mej. Heelal-titel in 1978 gewen het.

Dis juis ’n soortgelyke wêreld van glans en faam, en die uitwerking daarvan op rolspelers se psige, waaroor sy skryf in haar boek, Bedorwe Skoonheid: Joey Superster (ook in Engels en uitgegee deur Naledi in Afrikaans).

Dit is die verhaal van ’n vrou gemanipuleer deur haar man sodat sy in ’n senu-kliniek moet beland sodat hy nie onderhoud hoef te betaal nie. Alhoewel sy na die ontbinding van haar huwelik, die lewe weer in ’n delikate emosionele posisie aanpak, is sy vasbeslote om haar status as Joey Superster in ’n wispelturige wêreld van roem te herwin.

“Ek was senuweeagtig terwyl ek die boek geskryf het. Ek wou juis skryf oor hoe mense hulself dikwels self vernietig in die proses om hierdie voortdurend ontwykende teikens na te jaag,” sê die steeds sjarmante langer as 1.8 eertydse model.

Sy het in 2024 as beoordelaar vir die 73ste Mej. Heelal-kompetisie opgetree.

Sy beklemtoon egter die boek is nie haar lewensverhaal nie, maar sy is geïnspireer deur sommige van die ervaringe wat sy in die glanswêreld beleef het.

“Nie almal kan van die boeie van roem herstel nie en dis waaroor my boek onder meer gaan,” sê Gardiner wat weet waarvan sy praat nadat sy onlangs op sosiale media moes deurloop oor haar jeugdige voorkoms in haar middel-sestigs.

“Menopouse is ’n wonderlike tyd. Ek glo daaraan om fisies fiks te wees deur na Amerika se groot nasionale parke te gaan en berg te klim en te stap, en ek bly weg van vetterige kosse. Ek glo as jy aan jou gesondheid bou, kan jy stres baie beter hanteer. Ek glo nie in die gedagte om vir ewig jonk te probeer wees nie, maar glo ons het elkeen die reg op ’n vervulde en vervullende lewe. Gesondheid maak ’n groot deel hiervan uit,” sê sy.

Margaret Gardiner soos onlangs deur Pretoria-fotograaf Willem Botha afgeneem.

Gardiner het diep wyshede geleer uit veral die verlies van haar ma, sowel as ervaringe opgedoen gedurende die onlangse brande in Hollywood in laat-Januarie vanjaar toe hul huis telkens deur die naderende brande bedreig was.

Haar huis het net-net die vlamme vrygespring. Sy is dankbaar dat sy en haar gesin veilig was en is steeds besorgd oor diegene wat minder bevoorreg was.

Dit is een van vele traumas wat al oor haar pad gekom het. Gardiner se lewensverhaal is ook ’n aangrypende herinnering aan beide die veerkragtigheid en kwesbaarheid van kankerlyers.

Sy het haar uitdagende stryd met gesigkanker, wat die eerste keer in 2018 by haar gediagnoseer is, met vasberadenheid in die oë gekyk.

“Ek het soveel uitdagings met kanker gehad, en ek dank God vir my welstand.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button