News

Voordele van moedertaalonderrig

Afrikaans vier vanjaar sy 100ste verjaarsdag en volgens Virseker is moedertaalonderrig in Afrikaans ‘absoluut fundamenteel’.

In ’n wêreld met Engels as primêre voertaal, is daar steeds ’n baie prominente plek vir moedertaalonderrig in Afrikaans, volgens Suid-Afrika se enigste trots-Afrikaanse korttermynversekeringsnaam, Virseker.

Virseker het hierdie stelling gemaak terwyl Afrikaans vanjaar sy 100ste verjaarsdag vier, met ’n paar deurslaggewende voordele wat voorstel dat dit nie net ’n plek het nie, maar “absoluut fundamenteel is”.

“Hoewel Engels se rol as algemeen aanvaarde wêreldvoertaal heeltemal sin maak, veral in die werksplek, is daar konkrete navorsing wat bewys hoe moedertaalonderrig talle voordele vir akademiese prestasie, kognitiewe ontwikkeling en kulturele identiteit inhou,” sê woordvoerder Riaan Pretorius.

“Dis waarom Virseker, veral deur middel van die Virseker Trust – waar ’n persentasie van elke polishouer se premie gebruik word om Afrikaans te bou en ontwikkel – reeds vir 14 jaar lank bankvas agter Afrikaanse onderrig staan, met meer as R171-miljoen wat reeds deur dié trust in Afrikaans belê is.”

Volgens bronne soos UNICEF, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) is daar ’n hele rits sleutelvoordele aan onderrig in ’n leerder of student se moerdertaal:

– Verbeterde akademiese prestasie: Kinders wat in hul moedertaal onderrig ontvang, toon beter begrip en prestasie in alle vakke. Navorsing het getoon dat leerders wat tot ten minste graad 4, maar verkieslik langer, moedertaalonderrig ontvang, akademies beter presteer as dié wat nie moedertaalonderrig ontvang het nie.

– Versterking van kognitiewe vermoëns: Moedertaalonderrig dra by tot die ontwikkeling van hoër-orde denkvaardighede. Deur komplekse konsepte in hul eie taal te leer, kan leerders kritiese denkvaardighede en probleemoplossingsvermoëns meer effektief ontwikkel. Dit word ook beklemtoon dat moedertaalonderrig ’n diepgaande invloed op ’n kind se kognitiewe ontwikkeling het, aangesien abstrakte konsepte makliker verstaan word wanneer dit in ’n bekende taal verduidelik word.

– Behoud en bevordering van kulturele identiteit: Onderwys in ’n kind se moedertaal help om kulturele waardes, tradisies en identiteit te bewaar. Taal is die draer van kultuur, en deur moedertaalonderrig word ’n sterker verbintenis tot die spreker se gemeenskap en kultuur bevorder.

– Verhoogde selfvertroue en deelname: Leerders wat in hul moedertaal onderrig word, voel meer selfversekerd en is meer geneig om aktief in die klaskamer deel te neem. Hierdie selfvertroue spruit voort uit die gemak en vertroudheid met die taal, wat ’n positiewe impak op hul leerervaring het. Moedertaalonderrig verbeter ook toegang tot onderwys vir minderheidsgroepe en inheemse gemeenskappe, wat deelname en behoud in die onderwysstelsel bevorder.

– Bevordering van veeltaligheid: ’n Stewige grondslag in die moedertaal vergemaklik die aanleer van addisionele tale. Leerders wat hul moedertaal goed bemeester het, vind dit makliker om ander tale aan te leer, wat hul kommunikasievaardighede en kulturele begrip verbreed.

– Ekonomiese voordele: Moedertaalonderrig dra by tot die ontwikkeling van ’n breë spektrum vaardighede in die arbeidsmark. Deur leerders toe te rus met ’n sterk taalbasis, verbeter hul toekomstige werksgeleenthede en ekonomiese vooruitsigte.

– Verbeterde geletterdheidsvlakke: Onderrig in die moedertaal dra by tot beter lees- en skryfvaardighede. In ’n onlangse internasionale studie is onthul dat agt uit tien Suid-Afrikaanse skoolkinders probleme met lees ondervind. PIRLS het in 2021 die leesvermoëns van 400 000 studente van 57 lande wêreldwyd geassesseer. Suid-Afrika het ongelukkig laaste in die studie geëindig.

– Verminderde uitvalsyfers: Die implementering van moedertaalonderrig hou verband met laer uitvalsyfers. In Ethiopië het plaaslike taalbeleide gehelp om uitvalsyfers te verminder en hoër deelname aan onderwys te bevorder.

– Groter ouerbetrokkenheid: Wanneer kinders in hul moedertaal leer, is ouers meer geneig om met onderwysers in gesprek te tree en betrokke te wees by hul kinders se opvoeding, wat leerprestasie en sukses bevorder.

Pretorius sluit af: “Afrikaanse moedertaalonderrig, en elke Virseker-polishouer se passievolle ondersteuning daarvan, maak seker dat Afrikaans vir minstens nóg ’n honderd jaar, en ’n honderd jaar daarna die taal van ’n diverse en kleurryke hoeveelheid Suid-Afrikaners – en selfs ander wêreldsprekers – se harte sal wees.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button