News

Nuwe skoolhoof wil tradisies voortsit

Met haar empatie, ferm leierskap en onwrikbare geloof, is Zinette de Wet ’n aanwins vir die onderwys-gemeenskap in Pretoria en Afrikaanse Hoër Meisieskool. Sy is boonop ’n herinnering dat onderwys nie net oor akademie gaan nie, maar oor die vorming van jong vroue met selfvertroue.

Die nuwe skoolhoof van Afrikaans Hoër Meisieskool, Zinette de Wet, is nie net ’n ervare onderwyser en leier nie.

Dié aangename en vriendelike voormalige inwoner van die Vaaldriehoek, en oudleerder van Hoërskool Vereeniging, is ’n passievolle gemeenskapsbouer en ’n gelowige mens wat verstaan wat dit beteken om ’n impak te maak.

As nuwe hoof van die vooraanstaande skool bring sy nie net dekades se ervaring saam nie, maar ook ’n vars visie van egtheid, verbondenheid en nuwe hoop elke dag.

De Wet se pad in die onderwyswêreld het begin by die Universiteit van Pretoria waar sy haar studies voltooi het. Sy het as adjunkhoof by Potchefstroom Gimnasium gedien en was vir die afgelope tien jaar die hoof van Eunice Meisieskool in Bloemfontein, ’n tydperk waarin sy met liefde en wysheid haar merk op die leerders, personeel en ouers gelaat het.

“Onderwys is ’n nering en ’n roeping,” sê sy met oortuiging. Dit is die leuse wat haar loopbaan definieer.

Oor haar nuwe beroepspad by die gesogte skool, sê De Wet: “Ek wil graag Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria leef en beleef. Dis ’n uitstekende skool met ryk tradisies, stylvolle dogters en vriendelike personeel. Die dogters verstaan hul tradisies en leef dit uit. Ek glo tradisievastheid bring ’n gevoel van veiligheid en trots.”

Die nuwe skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Zinette de Wet, word op die tradisionele wyse gekroon met ‘n skoolhoed deur die skool se president (hoofdogter), Amoré Knoetze.

Met haar aankoms het De Wet dadelik die warmte en styl van die Affies-dogters opgemerk.

“Ek was beïndruk met hul ingesteldheid teenoor vroulikheid en die stylvolle manier waarop ek verwelkom is. Dit sê baie van die gees van die skool.”

Sy is op 8 April amptelik simbolies gekroon met die skool se hoed wat hul op Vrydae met saalgeleenthede en vir spesiale funksies dra deur die skool se president (hoofdogter), Amorè Knoetze.

Met hierdie tradisie kry die nuwe hoof ook ’n skoolhoed om te dra. Die hoed het deur die jare verskeie gedaantes gehad vanaf ’n panama-hoed, beret en nou die meer lugwaardin-vorm hoed.

Haar visie vir Affies is diep gewortel in haar waardes: ’n klem op familie, toeganklikheid, eerlike kommunikasie, en die aanvaarding van elke individu.

“Ons is almal verskillend en dit moet ’n mens in ag neem,” verduidelik sy. “Wanneer jy mense werklik raak sien, kom jy nader aan mekaar. En daardie nabyheid bou ’n gemeenskap, ’n eiesoortige familie.”

Die De Wet-gesin: Lize-Mari, Kobus Sr., Zinette met kleinseun, Ezra, Kobus Jr., Hiliza en in die stootwaentjie, kleinseun Sion.

De Wet glo vas dat die rol van ’n skool is om ruimte te skep waar selfvertroue en drome kan groei.

“Ek glo ’n onderwyspersoneel en hoof se doel moet wees om basiese selfvertroue by die leerders te kweek. Dit is die een eienskap wat hulle vorentoe nodig gaan kry.”

Sy is ook dankbaar teenoor haar voorgangers en beheerliggame wat die fondament gelê het waarop sy nou kan bou.

“Ek wil elke hoof voor my eer gee. Vaste, goeie tradisies bring veiligheid, en vorming kan net binne veilige plekke plaasvind. Hulle het tradisies onderhou en ook nuwes ingestel.”

Vir De Wet is dit belangrik dat elke dogter by die skool weet elke leerder se drome maak saak.

“Maar om dit te bereik, moet jy weet wat jy glo en besef jy staan nie alleen nie. Die pad vorentoe kan ek net met die Here stap.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button