Local newsNews

‘n TV-reeks waar drome, diere en doelwitte ontmoet

’n Unieke TV-werklikheidsreeks bied jongmense ook toerisme-opleiding deur uitdagings soos wildsplaaswerk, hotelbestuur en bemarking baas te raak. Deelnemers groei persoonlik én professioneel, en kan met werklike loopbaangeleenthede ná afloop van die reeks begin.

As jy ooit gewonder het hoe dit sou wees om toerisme te studeer én op TV te wees, het die TV-program Toerbroers: Jou Toekoms dalk net die antwoord.

Hierdie unieke werklikheidsreeks op kykNET is meer as net drama en kompetisie.

Dis ’n intensiewe toerisme-opleiding gemeng met lag, trane en baie modder.

Van olifantstalle skoonmaak tot besigheidsplanne bou: dis hoe ’n dag lyk vir die deelnemers aan die TV-reeks.

Die 13 episodes is ’n oorsig van wat die 49 permanente studente oor ’n 12-maande tydperk prakties en teoreties leer, waarna hulle dan die werksmag kan betree.

Dié reeks het begin met 49 hoopvolle jongmense wat hul plek in die toerismebedryf wou vind. Die aantal deelnemers is vinnig teruggesnoei na ’n meer hanteerbare 15 waaronder Luan O’Callahan van Pretoria-Noord.

Soos enige goeie werklikheidsreeks betaam, moes dié 15 hul staal wys in elke episode.

“Dis moeilik om soveel mense vir 13 weke op TV te wys. Die kykers moet hulle leer ken, hulle gunstelinge kies en natuurlik, so bietjie op hulle verlief raak,” sê Andries Hendrik Potgieter, mede-skepper van die program. Potgieter is een van die gesigte agter die sukses van die Toerbroers Kampus, die opleidingskool vir die deelnemers.

Hy is van Montana en was oorspronklik ’n rekenmeester. Hy het vir groot JSE-maatskappye gewerk en het daarna ’n interessante loopbaanpad geloop. Hy was op die verhoog saam met die sanggroep DZL, asook as model op modeparades in New York en Kaapstad.

Hy weet wat dit is om drome na te jaag. Sy passie vir jongmense en opleiding het hom egter na die toerismebedryf gelei. Nou bou hy aan die volgende geslag toerismeleiers.

“Ons het ons merk in die toerismebedryf gemaak as reisagentskap en is besig om jongmense op te lei om hul plek in hierdie dinamiese wêreld te vind,” sê hy.

Een van die uitdagings aan die TV-werklikheidsprogram se deelnemers was om in ‘n skuiling vir olifante handjie by te sit met die versorging van die grootvoete.

Die oorspronklike idee vir die program het egter nie by Potgieter begin nie, maar by een van hul reisagentskap se gidse, Nicky Meiring.

“Ons het nooit beplan om ’n TV-reeks te doen nie, maar Nicky het ’n konsep gehad wat regtig by ons aanklank gevind het. Ná ’n paar aanpassings het die program ontstaan, en dis nou ’n groot sukses,” sê Potgieter met trots.

Wat die program uniek maak, is die kombinasie van praktiese opleiding en werklikheidstelevisie.

Elke week word die deelnemers aan nuwe uitdagings blootgestel.

Dit sluit in werk met renosters en olifante, kamerdiens of die bou van ’n draagbaar vir ’n slangbyt-noodgeval.

“Die deelnemers kry ’n voorsmakie van wat hulle in ons geakkrediteerde 12-maande kursus sal leer. Dis nie net die teorie nie, hulle moet dit ook prakties toepas,” verduidelik Potgieter.

Al word daar elke week ’n topdrie gekies, is die klem op spanwerk en persoonlike groei.

“Dis mooi om te sien hoe die deelnemers mekaar leer ken. Party van hulle het nog nooit eers naby ’n olifant gestaan nie, en nou skrop hulle skielik dierehokke saam. Jy sien hoe vriendskappe vorm, en hoe hulle begin besef dat toerisme spanwerk is,” sê Potgieter.

Een van die uitdagings gedurende die TV-program vir deelnemers, was om met weesrenosterkalfies te werk.

Vir Wiaan Fourie, mede-aanbieder van Montana en ook deel van die sanggroep DZL, is die reeks ’n hartsaak.

“Ons inspireer jongmense om groot te droom. Ek spandeer baie tyd in my musiekateljee, maar dié program gee my kans om jongmense regtig te sien groei. Dis ongelooflik,” sê hy.

– Kliek hier om meer van die program te sien:

Die geleenthede ná afloop van die reeks is nie sommer net beloftes nie. Deelnemers word voorberei vir loopbane in hotelbestuur, wildsplaasbestuur, bemarking, fotografie, gasvroukoördinasie. En dit is nie net binne Suid-Afrika nie, maar oor grense heen.

“Ons kykers gee ongelooflike terugvoer. Mense identifiseer met die deelnemers. Of dit nou Barbie is wat ouer as 60 is en steeds ’n nuwe loopbaan aanpak, of jongmense wat hul eerste kans kry om iets van hul lewens te maak,” sê Fourie.

Elke episode is vir hom ’n herinnering dat ’n loopbaan in toerisme nie net oor vakansies gaan nie: dis harde werk, passie en mense.

“Ek glo nie daar is nog so ’n TV-program op die kassie nie,” sê Fourie. “Dit bevat al die bestanddele vir ’n ongelooflike reis vir die deelnemers én die kykers.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button