Local newsNews

Nuwe iPad opvoedingstegnologie help leerders met outisme en spesiale behoeftes

Die tegnologie sal leerders se opvoedings-ervaring en ontwikkeling in die klaskamer verbeter.

Vir kinders met outisme wat die wêreld moet ingaan, bied die gebruik van tegnologiese toestelle soos ’n iPad ’n kans vir verbeterde kommunikasie, sosiale netwerke asook sensories-vriendelike omgewings.

Dit is luidens Zulaikha Goolam van iSchoolAfrica, wat hierdie voordele uitgelig het tydens die oorhandiging van iPads by Via Nova School vroeër vandeesmaand.

Via Nova School, vir kinders met outisme en spesiale behoeftes, het die nuwe iPad-opvoedingstoestelle ontvang om die leerders se opvoedings-ervaring en ontwikkeling te verryk.

Die doel was om leerders met outisme te help konnekteer, kommunikeer en om te floreer op maniere wat tradisionele metodes dikwels nie kan vermag nie.

Goolam sê dat die iPad-tegnologie ontwerp is om verpersoonlike, aanpasbare opvoedings-ervarings aan te bied wat aan individuele behoeftes voorsien, en kinders met spesiale behoeftes toelaat om op hul eie pas te leer.

’n Leerder is opgewonde om met ’n iPad te studeer.

“Die iPad kom met ingeboude toeganklikheidskenmerke vir elke gestremdheid, van blind- of doofwees tot kognitiewe gestremdhede soos outisme.

“Dié kenmerke word volgens gestremdheid gegroepeer en aangesien die onderwysers die leerder die beste verstaan, sal hulle die toestel wysig om aan elke leerder se behoeftes te voldoen.”

Om lig te werp om die impak van die toestelle op leerders met outisme, sê sy dat hulle sukkel om te kommunikeer asook met tipiese papier-gebaseerde opvoeding.

Sy sê dat die toestel toegerus is met spraak-genererende toepassings wat hierdie leerders help om komplekse konsepte te verwerk en te behou volgens hul eie leerstyl en om hul op maniere uit te druk wat hul voorheen nooit kon nie.

“Die iPad bied aan hulle ’n heel nuwe wêreld van gebruik van materiaal wat hul eie opvoeding pas, sodat hulle deur die toestel via die Aanvullende & Alternatiewe Kommunikasie-toepassing kan kommunikeer.

“Hulle kan ook boeke lees en op die toestel skryf, wat vaardighede is wat hul nie voor bekendstelling aan die iPads kon ontwikkel nie,” sê Goolam.

Sy sê dat die toestel leerders die geleentheid bied om hul volle potensiaal te demonstreer en vir almal om elke leerder se potensiaal te sien.

Goolam voeg by dat die iPad die organisasie [iSchoolAfrica] se spesifieke toepassings bevat, wat ooreenstem met die KABV-kurrikulum, en ook aan die leerders se opvoedingsbehoeftes voldoen.

“Tegnologie speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van kinders met outisme se vaardigheidsontwikkeling en deur virtuele omgewings en rol-spel toepassings op die iPad, kan leerders sosiale interaksie in ’n veilige en beheerde omgewing beoefen,” sê Goolam.

“Hierdie benadering laat leerders toe om hulle met werklike scenario’s vertroud te maak en om pragmatiese sosiale gedrag te beoefen sonder die druk van lewendige interaksies.”

Sy voeg by dat sensoriese sensitiwiteite ’n algemene eienskap onder vele leerders met outisme is en dat tradisionele klaskamers oorweldigend kan wees. Die iPad bied hul ’n buigsame en sensories-vriendlike omgewing waar die onderwysers die inhoud kan wysig volgens elke leerder se sensoriese voorkeure.

Via Nova skoolhoof Jeanette Sarpong verduidelik ’n iPad aan een van die leerders.
Leerders met spesiale behoeftes by Via Nova School.

“Of dit nou deur kalmerende toepassings is of om die skerpheid en volume van die skerm te verstel, verseker die tegnologie dat die leerders die materiaal kan gebruik op ’n manier wat gemaklik en nie-indringend is nie. Dit maak die klaskamer-omgewing meer bevorderlik vir opvoeding.”

Via Nova School se skoolhoof, Jeanette Sarpong, het haar dank uitgespreek oor die “verstommende” tegnologie wat aan haar leerders se behoeftes voldoen.

“Hierdie inisiatief sal baie help omdat meeste van ons leerders deur tegnologie leer. Dit is baie ideaal dat sulke tegnologie aan hulle voorgestel word, as mens in aanmerking neem dat dit aan die verskillende behoeftes van elke leerder onder die spektrum voldoen. Meeste van hulle gebruik bystandstoestelle om hul daaglikse pligte in die klaskamer te verrig.”

Sarpong beklemtoon die behoefte om bewustheid te verhoog van neurodivergente versteurings soos outisme, Downsindroom, disleksie en serebrale gestremdheid omdat meeste mense ’n gebrek van kennis oor hierdie ontwikkelingsgestremdhede het.

“Ons moet mense en gemeenskappe van outisme bewus maak, want ons besef dat meer en meer leerders met outisme gediagnoseer word. By Via Nova, strewe ons daarna om mense aanboord te kry om van hierdie neurodivergente versteurings kennis te neem deur aktiwiteite soos familiedae en konserte.”

Sy sê die skool hoop dat meer deure vir skenkers en borggeleenthede soos hierdie sal oopgaan, aangesien hul hulp nodig het in baie aspekte van die leerders se ontwikkeling, veral omdat die basiese mediese onkoste vir hierdie gestremdhede baie duur is.

“Vir middelklas-families en laer kan dit nogal veeleisend wees aangesien hulle nog ’n dak oor hul koppe moet kry en ook hul kinders na die baie duur doktersafsprake moet neem. As ons hulle nie as ’n skool kan ondersteun nie, vind die ouers dit gewoonlik baie moeilik, so ons het soveel hulp nodig as wat ons kan kry,” sê sy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button