Honde steel harte (en koekies) by Boeremark
Die Dog Funfair by die Boeremark in Silverton, aangebied deur Monique en Gert de Jager van Jurassic Bark, was 'n vrolike sukses. Honde van alle groottes het hul slag gewys op die hindernisbaan, terwyl demonstrasies en modevertonings die skare vermaak het. Pitbulls, Malinois en selfs Chihuahuas het harte gesteel!
Honde van alle groottes en honderasse het op 26 April die Boeremark-arena oorgeneem tydens die vrolike Dog Funfair aangebied deur Monique en Gert de Jager van Jurassic Bark.
Van ou staatsmanne van die hondewêreld tot jong rakkers, het almal hul beste pootjie voorgesit.
De Jager het self gesorg dat die pret nooit ophou nie en het die hindernisbaan beman.

Hy glo vas dat jy ’n ou hond wél nuwe toertjies kan leer, al moet jy nou so hier en daar omkoop met snoepgoed en al word hierdie snoepgoed skelmpies uit jou sak gesnuffel.
Bewyse hiervan was oral te sien toe eienaars en hul vierpotige vriende sonder enige vooraf opleiding die hindernisbaan aangepak het met wisselende, maar altyd vermaaklike sukses.
Arista en Jacques Botha van Pretoria-oos se Tjokkie en Jenna, het behoorlik die skare bekoor met hul vaardighede, maar dit was Lily, die stewige ou Engelse bulhond van Matilda van Niekerk en Chris Richards, wat almal se harte gesteel het.
Lily het vasberade, al het haar kort bene soms “nee” gesê, geduldig elke hindernis probeer baasraak, en die baanroete voltooi.
Die soms omstrede Pitbull-honderas se beeld is danksy Leanda Rheeder en die beleefde en inkennige Nova ’n positiewe hupstootjie gegee.
“’n Goed gesosialiseerde Pitbull is ’n absolute plesier,” vertel Rheeder. “Nova was vandag ’n ster gewees.”
Michael Capazorio van Tame the Beast het demonstreer hoe opgeleide snuffelhonde iemand in ’n skare kan opspoor deur aan ’n kledingstuk soos ’n pet te ruik.
“Met al die kosgeure en reuke hier, is dit soos om ’n speld in ’n hooimied te vind,” lag hy, “maar hierdie snuffelhonde se neuse flous jy nie sommer nie.”
Onder die honde-kenners was Chris Erasmus van Cullinan, ’n Malinois-liefhebber en eertydse Weermag honde-opleier, wat sy gunsteling honderas aangeprys het: “’n Malinois leer binne ’n maand wat ’n ander hond dalk in ’n jaar sou leer.”
Hy het egter gewaarsku: “Dis nie ’n honderas vir elke huis nie. Om ’n Malinois-eienaar te wees is ’n voltydse projek! Hulle hou jou goed besig en hou daarvan om voltyds by jou te wees”.
Klein hondjies het ook nie teruggestaan nie. Sebastiaan, die langhaar-Chihuahua van Carin van der Westhuizen van Centurion, het met sy keurige strikdas almal se koppe laat draai. Moet hom net nie op sy Instagram-profiel, Sebastiaan_chiwawa, misloop nie: hy het baie karakter en weet hoe om te poseer.
Natuurlik was daar ook ’n modeparade met veral flambojante truitjies tot stylvolle serpies in die seisoen se gewildste kleure.
Veral honde-supermodel Spikkels van Centurion, het die wintermodes vir honde netjies vertoon.
“Hy het sewe uitrustings vir die koue dae,” verklap sy eienaar Danie Rusch. “En hy is nie skaam om elkeen te wys nie.”
Die Dog Funfair was ’n ware fees vir viervoetiges en hul tweevoetige vriende. Met produkte soos Mianca Esterhuizen se kleurvolle snuffelmatte, was daar selfs iets vir die slimkoppe onder die honde om hul snoepgoed tussen viltlinte uit te snuffel.
Een ding is seker: By die Boeremark op 26 April was die honde nie net die eienaars se beste vriende nie. Hulle was ook die ware sterre van die Boeremark-arena.
Die Dog Funfair by die Boeremark in Silverton was ’n groot sukses. Honde van alle groottes het hul slag gewys op die hindernisbaan, terwyl demonstrasies en modevertonings die skare vermaak het. Pitbulls, Malinois en selfs Chihuahuas het harte gesteel!
– Kliek hier om die supermodel van die modeparade, Levy, te sien in die herfs se nuutste skepping:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.












