News

Mosambiek-tragedie: Drie van Centurion verdrink, een oorleef

’n Vakansie in Xai Xai, Mosambiek, het in tragedie geëindig toe drie volwassenes – Chris Louw, André Kritzinger en Monique Kritzinger – op 28 April deur ’n seestroom by die Wenela-blaasgat meegesleur is. Lelani Louw, die enigste oorlewende, is nou verantwoordelik vir haar twee kinders én dié van haar broer en skoonsuster.

Wat ’n sorgvrye vakansie aan die kus van Mosambiek moes wees, het op 28 April in tragedie geëindig toe drie volwassenes van Centurion die middag in ’n noodlottige seestroom by die Wenela-blaasgat buite die dorpie Xai Xai in Mosambiek meegesleur is.

Die 43-jarige Lelani Louw is die enigste oorlewende. Haar man, Chris Louw (’n bestuurder by ExecuJet), haar broer André Kritzinger en haar skoonsuster, Monique, het omgekom.

Louw het met Rekord gepraat waar sy tuis was in Centurion. Sy en die kinders van beide egpare is op 29 April per vliegtuig deur ExecuJet teruggebring.

Volgens Louw was die groep, wat uit die twee egpare en hul vier kinders bestaan het, op ’n daguitstappie by die Wenela-blaasgat, ongeveer 5km vanaf die Go Wild-vakansieoord waar hulle tuisgegaan het.

Die laaste foto wat van die gesinne in Mosambiek geneem is. Foto: Verskaf

Terwyl sy en die Kritzingers in die getypoel voor die rif gestaan en gesels het, het ’n sterk seestroom hulle skielik verras.

“My skoonsuster het ’n paniekaanval gekry toe die stroom haar intrek,” vertel Louw. “Ek kon op my rug dryf, al het die water oor my gespoel. Ek het die hele saak aan die Vader oorgegee en kon mettertyd uitswem.”

Haar man, Chris, het die nood vanaf die strand opgemerk en het in die water ingegaan om hulp te verleen, maar is self deur die stroom meegesleur. Al sy pogings tot redding was tevergeefs.

Die kinders van die twee egpare, Nicci (19), Christo (16) van die Louw-egpaar, en Ryan (13) en Lika (10) van die Kritzingers het gelukkig nie die tragedie sien gebeur nie, danksy die vinnige ingryping van ander strandgangers wat hulle van die toneel weggeneem het.

Die liggaam van Chris Louw is nog nie gevind nie.

Intussen wag die familie op die voltooiing van lykskouings deur die Mosambiekse owerhede voordat die liggame van die Kritzingers na Suid-Afrika gerepatrieer kan word.

“Dit sal vir ons sluiting bring as my man se liggaam gevind kan word,” sê Louw emosioneel.

André en Monique Kritzinger. Foto: Verskaf

Louw, wat 22 jaar lank met Chris getroud was en hom reeds geken het sedert sy 16 jaar oud was, het bevestig dat sy die versorging van die twee Kritzinger-kinders op haar sal neem.

“Die kinders is almal geskok en hul harte is seer,” voeg sy by.

’n Verteenwoordiger van die vakansieoord het aan Rekord gesê dat hy die Wenela-blaasgat al jare lank besoek, en dat hy nog nooit sulke sterk seestrome ervaar het nie. “Ek kan dit net ’n fratsongeluk noem,” het hy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button