News

Winterhulp vir DBV: Diere het jou nodig

Die Tshwane Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Waltloo het hul hande vol om honderde diere wat verlate, mishandel of afgestaan is, warm en gevoed te hou.

Soos die koue winteraande nader kruip, is daar talle huise in ons gemeenskap wat nie ’n warm bed of ’n bord kos het nie en dit sluit nie net mense in nie, maar ook ons viervoetige vriende.

Die Tshwane Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Waltloo het hul hande vol om honderde diere wat verlate, mishandel of afgestaan is, warm en gevoed te hou.

Hulle vra dringend vir die gemeenskap se hulp.

“Hul kosvoorrade is bitter min, en die behoefte aan warm komberse en beddegoed groei daagliks,” sê Sajedah Ameer, ’n toegewyde diereliefhebber en verkoopsbestuurder by Rekord.

Ameer het ’n projek aangepak om saam met die Rekord-span en lesers uitkoms te bied vir die DBV se diere.

“Hierdie diere het reeds soveel deurgegaan. Die minste wat ons hulle kan bied, is ’n vol magie en ’n warm slaapplek.”

Sy doen ’n beroep op Rekord se lesers om voor 21 Mei enige van die volgende items op die wenslys van die DBV in die donasiekas in die voorportaal gemerk vir DBV-donasies by die Capital Media-gebou, Orpenstraat 32, Brummeria, Pretoria af te lewer. Sy en haar verkopespan sal toesien dat die items voor einde Mei die twee takke van die DBV bereik.

Wat is op die wenslys?

Die DBV sorg vir honde van alle vorms en groottes: van oulike hondjies tot ouer troeteldiere. Hulle benodig:

– Kos vir klein hondjies en melk
– Droë en nat kos vir volwasse honde
– Hondebederfies en aanvullings

Die DBV sorg ook vir katte van alle ouderdomme wat ’n veilige hawe gevind het by die DBV. Die katte het die volgende nodig:

– Katjiekos en melk
– Katbrokstukke en nat kos

In beide gevalle red komberse dierelewens en die versoek is vir nuwe of sagte gebruikte komberse in ’n goeie toestand, sowel as handdoeke of lakenmateriaal.

Kontak sajedaha@rekord.co.za vir meer inligting.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button