Local Lifestyle

RESEP: Massabraai se Mariana deel gunstelingbykos

Mariana Kriel, Gautengse streekbestuurder van Solidariteit Helpende Hand, was een van 100 braaiers wat tydens ’n massabraai in Pretoria op 15 Oktober in die Moot gehelp het om 2 500 skaaptjoppies voor te berei vir organisasies wat kwesbare mense ondersteun. Sy het te midde van haar braaiery haar gunstelingbykos vir ‘n braai en praktiese braaiwenke gedeel.

Mariana Kriel, Gautengse streekbestuurder van Solidariteit Helpende Hand, het onlangs saam met 99 ander braaiers agter die roosters ingespring tydens ’n massabraai in Pretoria.

Die inisiatief het gehelp om 2 500 skaaptjoppies voor te berei vir 21 ouetehuise, kosblikkie-skole en ander organisasies wat kos aan kwesbare mense voorsien.

Die massabraai is vir die tweede keer in Derdepoort in die Moot aangebied. Die 100 braaiers het saamgewerk om die groot hoeveelheid vleis betyds gaar te kry, waarna dit volgens na die organisasies se behoeftes verpak is.

Die Helpjag/Solidariteit Helpende Hand-massabraai het gewys hoe ’n gedeelde poging kos kan voorsien aan organisasies wat dit nodig het. Altesaam 2 500 skaaptjoppies het gelyktydig op die vuur gesis en braai. Foto: Elize Parker

Die inisiatief is deur HelpJag en Solidariteit Helpende Hand aangepak, met ondernemings wat onder meer houtskool, brandaanstekers en ander praktiese hulp bygedra het.

Die massabraai het ontstaan uit ’n uitdaging wat Buffelsfontein Brandewyn verlede jaar aan Boerboel Wear gestel het. Nadat 2 000 skaaptjoppies tydens die vorige massabraai gaargemaak is, is die mikpunt vanjaar tot 2 500 verhoog. Boerboel Wear het die uitdaging aanvaar en saam met HelpJag en Solidariteit Helpende Hand gehelp om die projek moontlik te maak. Die hoop is dat ’n toekomstige borg die uitdaging sal voortsit en die mikpunt tot 3 000 tjoppies sal verhoog.

Kriel is reeds jare lank by Solidariteit Helpende Hand betrokke. Haar werk fokus op gemeenskaps- en opheffingsprojekte in Gauteng, met ondersteuning aan mense en gemeenskappe in nood as ’n belangrike deel van haar rol.

Wanneer dit by ’n braai kom, het Kriel ’n duidelike gunstelingbykos: krakerige broccolislaai.

“Die vars groente, romerige sous en effens soet smaak is ’n goeie teenvoeter vir die sout en rokerige geure van braaivleis,” vertel Kriel.

Sy verkies om fyn gekapte neute soos amandels of pekanneute, rooiuie en rooi druiwe by die slaai te voeg.

Sy doen aan die hand brosgebraaide spek moet apart bedien word sodat vegetariese gaste ook daarvan kan geniet.

Haar raad is om neute eers net voor opdiening oor die slaai te strooi, nadat die sous bygevoeg is, sodat die neute krakerig bly. Sy stel ook voor dat die rooi druiwe middeldeur gesny word wanneer dit as bestanddeel gebruik word.

Kriel se braaiwenke: Maak die bykosse vooraf klaar en sorg dat alles gereed is voordat die vuur aangesteek word. Wag totdat die kole gloei en met ’n grys lagie bedek is voordat die vleis op die rooster kom. Vermy onnodige omdraaiery.

Broccolislaai is ’n vars, krakerige en romerige slaai wat die smaak van broccoli kombineer met ’n effens soet-en-suur slaaisous. Rooiui en neute voeg ekstra geur, kleur en tekstuur by. Dit is ’n veelsydige bygereg wat net so goed by gebraaide hoender, koue vleis en ’n Sondagmiddagete pas as by ’n tradisionele Suid-Afrikaanse braai. Foto: Elize Parker

Broccolislaai vir 8 mense

Voorbereiding: 20 minute; Verkoeltyd: minstens 1 uur

Slaaibestanddele

2 groot broccolikoppe, in klein blommetjies gesny, harde stele uitgehaal
2 rooiuie, fyn gekap
1 tot 2 koppies sade, neute, gedroogde bosbessies of rooi druiwe

Romerige slaaisous

2 koppies mayonnaise
½ koppie kondensmelk (pas aan na smaak)
4 tot 6 eetlepels asyn (witwyn- of rooiwynasyn)
Sout en swartpeper na smaak
Opsioneel: Grasuie

Opsionele nie-vegetariese byvoeging: 300–400g spek, fyn gesnipper en bros gebraai

Vir vegetariërs: Dien op met ’n bakkie kekerertjies langs die slaai.

Metode

1. Berei die broccoli voor: Sny die broccoli in klein blommetjies. Gebruik dit rou vir ekstra krakerigheid, of dompel dit vir 3–5 minute in kookwater. Dreineer en spoel dadelik met koue water af. Laat goed dreineer.
2. Maak die slaaisous: Meng die mayonnaise, kondensmelk en asyn. Geur met sout en swartpeper en grasuie indien nodig. Proe en pas die soetheid en suurheid na smaak aan.
3. Meng die slaai: Plaas die broccoli, rooiuie, en rooi druiwe in ’n groot slaaibak. Meng die sous deur.
4. Verkoel: Bedek en verkoel vir minstens 1 uur sodat die geure kan ontwikkel.
5. Haal uit yskas en strooi neute oor.

Bedien die spek apart: Braai die spek tot bros en laat dit afkoel. Sit dit in ’n aparte bakkie voor sodat mense wat spek eet dit self by hul porsies kan voeg.

Ander geleenthede as ‘n braai: Bedien die broccolislaai saam met oondhoender en geroosterde aartappels. Dit is maklik, smaaklik en ideaal vir ’n Sondagmiddagete.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button