News

“Gee ons Krag”-veldtog vorder flink

Die projek is meer as net 'n reaksie op beurtkrag. Dit is 'n oproep tot aksie vir die bewaring van erfenis. Met die steun van figure soos Dricus du Plessis, gemeenskapsleiers soos Gawie Pienaar, en ’n steeds-groeiende groep donateurs, kry die veldtog momentum.

Die “Gee ons Krag”-veldtog van die Voortrekkermonument het sedert die amptelike bekendstelling op 16 Maart merkwaardige vordering getoon.

Die projek, wat ten doel het om die monument se elektrisiteit-selfstandigheid te versterk, het reeds bydraes van meer as R500 000 gelok.

Die beskermheer van die veldtog is niemand anders nie as die wêreldbekende UFC-middelgewigkampioen, Dricus du Plessis.

Sy betrokkenheid het nie net wye publieke aandag by die loodsing van die projek gelok nie. Hy het ook momentum gegee aan die monument se bestuur se beroep op die breër gemeenskap om saam te staan vir die bewaring van een van Suid-Afrika se mees ikoniese erfenisterreine.

Du Plessis het tydens die bekendstelling beklemtoon dat die Voortrekkermonument ’n nasionale simbool van geskiedenis en identiteit is, wat teen die gevolge van aanhoudende kragonderbrekings beskerm moet word.

Kort ná die bekendmaking van die projek, het ’n storm ontstaan toe Gayton McKenzie, minister van kuns, kultuur en sport, verklaar het dat die Voortrekkermonument in privaat besit is en dus nie onder die direkte beheer van die departement val nie.

“Die monument word onafhanklik bestuur en is nie geregtig op staatsubsidies nie,” het McKenzie gesê.

Staatsubsidies aan die monument is reeds in 2011 gestaak.

Hoewel die bestuur steeds aansoek kan doen vir finansiële ondersteuning, sal enige moontlike toekenning onderhewig wees aan die beskikbaarheid van fondse. Daar is R2.8-miljard in die departement se begroting vir erfenisbevordering en -bewaring geoormerk in die vorige boekjaar.

Die kommentaar van die minister het gemengde reaksie ontlok. Ondersteuners van die monument wys daarop dat, ten spyte van die monument se onafhanklikheid, dit steeds ’n belangrike erfenisbaken is wat internasionale toerisme lok en ekonomiese waarde vir Pretoria inhou.

Een van die mees betekenisvolle bydraes tot die veldtog kom van Gawie Pienaar, ’n gemeenskapsleier uit die Oos-Kaap. Pienaar, wat op 16 Desember op Geloftedag gebore is, het saam met lede van die Afrikanerbond in sy streek ’n groot donasie gemaak. Sy persoonlike verbintenis tot die monument het ander gemeenskapslede gemotiveer om ook betrokke te raak.

Johan Jansen van Vuuren het met die bou van die nuwe buiteluggymnasium by die Voortrekkermonument solank van die toerusting gaan uittoets.

Volgens Pienaar is die bewaring van die monument ’n kollektiewe verantwoordelikheid: “Die monument is meer as net klip en sement. Dit is ’n simbool van identiteit, opoffering en toekomsvisie.”

Dawid Brand, woordvoerder van die Voortrekkermonument, sê die behoefte aan elektrisiteit-selfstandigheid is nie bloot ’n wens nie, maar ’n noodsaaklikheid.

Kabeldiefstal, infrastruktuurveroudering en kragonderbrekings bedreig daagliks die monument se funksionaliteit en veiligheid.

“Ons ontvang jaarliks sowat 47 000 internasionale besoekers. Dit is nie net ’n historiese plek nie, maar ook ’n funksionele ruimte waar kulturele, opvoedkundige en toeriste-aktiwiteite plaasvind,” sê Brand. “As ons nie vinnig en proaktief optree nie, loop ons die risiko om nie net toerisme-inkomste te verloor nie, maar ook ’n stuk van ons geskiedenis.”

Die uiteindelike doel van die veldtog is om R7-miljoen in te samel om ’n volledige sonkragstelsel te installeer. Hierdie stelsel sal die monument onafhanklik maak van beurtkrag sowel as kragonderbrekings en dit in staat stel om sy dienste ononderbroke aan te bied.

Benewens die elektrisiteitsprojek, het die bestuur van die Voortrekkermonument onlangs ook ’n nuwe buiteluggimnasiumprojek aangekondig.

Die gimnasium sal besoekers vanaf middel Mei vanjaar in staat stel om in die buitelug fiks te bly teen die agtergrond van een van die mooiste uitsigte in Pretoria.

“Ons wil hê dat die monument ’n lewendige ruimte moet wees. ’n Plek waar mense kom leer, onthou en leef,” sê Brand. “Die gimnasium is deel van hierdie visie. Dit gaan nie net oor die verlede nie, maar ook oor ’n gesonde toekoms.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button