Eers Las Vegas-glans en dan huis toe na driejarige kiets op rusbank

Nádine in ’n neutedop na 27 jaar op die verhoog: ’n Stem van internasionale gehalte, ‘n vrou met styl met ‘n voorliefde vir glansryke uitrustings, en ’n baie spesiale kat.

As jy al ooit gewonder het wie gebore is vir die verhoogligte van Las Vegas, die koperblaasinstrumentklank van ’n regte groot orkes in die “swing”-tradisie en die uitbundige kleurvolheid van glansklere, dan is die antwoord eenvoudig: Nádine.

Moet egter nie dink dis net die verhoog en glansligte wat vir hierdie elegante en sjarmante ster saak maak nie.

Ja, haar melodieuse stem is wêreldgehalte. Ja, sy het haar plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf al op 13 oopgesing en treffers soos “Rooi Roos” en “Skildery” wys telkens meer as 100 000 trefslae op musiekstroomdienste soos Spotify.

Maar as jy haar vra waar sy werklik óók in haar element is?

Wel, dit kan maklik óf in haar leerbykomstighede winkel in Lynnwoodweg in Wapadrand wees. Of dalk op die gholfbaan. Of tuis op die rusbank met haar kat, Jackie, op die skoot.

Dié herfs bring Nádine nie net haar stem nie, maar ’n hele Las Vegas-ervaring na die Teatro by Montecasino in Johannesburg met die agt vertonings van Swingin’ Las Vegas.

Van 16 tot 25 Mei deel sy die verhoog met groot name soos Craig Urbani, Timothy Moloi en Harry Sideropoulos, én ’n 18-stuk Johannesburg Big Band onder leiding van maestro Adam Howard.

Van 16 tot 25 Mei deel sy die verhoog met groot name soos Craig Urbani, Timothy Moloi en Harry Sideropoulos, én ’n 18-stuk Johannesburg Big Band onder leiding van maestro Adam Howard.

Die vertoning beloof om vol glans en flambojante uitrustings en pure gehoorplesier te wees.

“Ek’s die nuwe lid in hierdie span,” lag sy gemaklik. “Hulle ken mekaar al jare, maar het my so mooi ingesluit. Ek voel rêrig geëerd.”

Waarna sy werklik uitsien, is die duette. “Ek sien baie uit na ‘Unforgettable’ saam met Timothy Moloi. Sy stem is net… fluweel. En dan ‘Shallow’ saam met Craig Urbani. Hy bring ’n rouheid wat hierdie gewilde lied uit A star is born net na ’n volgende vlak toe neem.”

Sy is bekend vir haar glansuitrustings en sien veral uit na die uitspattige en kleurvolle aanslag van die ontwerpe vir die vertoning.

“Geen detail is met die ontwerp van die uitrustings oorgesien nie en ek sien uit om in extravaganza-styl rokke te verskyn.”

Wanneer die laaste noot gesing is, is dit egter nie die glansstad Vegas wat wag nie.

Dis Pretoria-oos waar haar leerwinkel Nellie Vellies in Wapadrand oopstaan vir almal wat hou van gemaklike, stylvolle, eg Suid-Afrikaanse leer-handwerk waar elke item met liefde gekies is.

Na ‘n lang toer of optrede is dit altyd vir Nádine lekker om tuis te kom en deur haar driejarige kat Jackie verwelkom te word. Die vierpotige regeer eintlik haar lewe nadat sy die kiets uit ‘n werpsel katte by die Dierebeskemingsvereniging gekoop het. Jackie is egter ietwat kamera-sku.

Dan is daar natuurlik Jackie, haar driejarige kat wat eintlik haar lewe en die huis regeer.

Die grys kiets het uit ’n werpsel van die Dierebeskermingsvereniging gekom. Nádine het net geweet die kamera-skaam reddingskatjie moet na haar toe kom en nou dink die vierpotige die bank behoort aan haar.

As daar ’n fondsinsameling is, veral as dit vir diere of bewaring is, is Nádine waarskynlik ook op die gholfbaan.

“Ek sal altyd plek maak vir gholf. Veral vir ’n goeie doel, en boonop is dit buite, lekker sosiaal en baie pret.”

Tussen konserte, winkel, kat en gholf, beplan sy ook al aan haar volgende produksie: Rockshow 3, wat in Augustus by die Atterbury-teater op die planke gaan wees. Die eerste twee vertonings was só gewild dat aanhangers weer vir ’n ruk-en-rol vertoning gevra het.

Bewonderaars sal jou gou vertel, dis wat haar optredes so besonders maak: of dit nou met ’n groot orkes is of ’n rock-ghitaar, daar is altyd siel, geesdrif en elegansie aan haar vertonings.

Boonop het sy dit reggekry om in die super-mededingende Suid-Afrikaanse musiekwêreld en na ’n paar stormagtige jare en uitdagings in haar persoonlike lewe, sjarmant en gaaf, en net so mooi van binne as van buite, te bly.

“Ek dink die hele lewe bestaan uit hoogtepunte en laagtepunte. Daar is beter oomblikke en slegter oomblikke,” sê sy filosofies. “Dis amper soos musiek. Musiek is nie net klank nie. Dis emosie. Dis herinneringe. Dis wanneer iemand wat nie eens die taal verstaan nie, steeds voel wat jy probeer sê. Dán gebeur iets mooi. Musiek is ’n samevatting van die weefwerk van die lewe.”

– Kliek hier om na Nádine te luister:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

Exit mobile version