News

Projek bemagtig te midde van agteruitgang

Raadslid Rina Marx van Pretoria-Noord het ’n unieke gemeenskapsprojek begin om inwoners op te lei in eerstehulp en kardiopulmonêre resussitasie.

Sommige van die strate en buurte van Pretoria-Noord, eens ’n trotse buurt, getuig vandag van jare se versuim aan die metro se kant.

Dit is die mening van raadslid Rina Marx.

Sypaadjies is gebreek, mangate met klippe toegemaak en die besigheidskern is verlate en plek-plek sonder basiese dienslewering.

Tydens haar oorsigbesoeke as raadslid aan Pretoria-Noord en dele van Akasia, het Marx self bewyse versamel van die agteruitgang: slaggate wat voertuie beskadig, onwettige handel wat voetgangers verdring en kragonderbrekings wat nywerhede tot stilstand dwing.

“Pretoria-Noord het op plekke sy karakter en veiligheid verloor. Hierdie inwoners is moeg om te kla. Hulle soek oplossings.”

Sy staan egter nie terug vir die uitdagings nie en het ’n gemeenskapsprojek aangepak waarby alle inwoners kan baat.

Marx gebruik tans haar unieke agtergrond as gesondheidspraktisyn om gemeenskapslede deur opleiding toe te rus met noodsaaklike eerstehulpvaardighede en kardiopulmonêre resussitasie (KPR),’n kombinasie van reddingsasemhaling en borsdrukke wat op ’n pasiënt met klaarblyklike hartstilstand toegepas kan word. Die noodhulptegniek poog om die pasiënt by te bring of sy sirkulasie aan die gang te hou tot gespesialiseerde hulp opdaag.

“Ek het die afgelope paar maande meer as 20 mense gratis opgelei wat beide privaat sekuriteitsmaatskappye se beamptes en polisie-forums se lede ingesluit het om terug te ploeg in die gemeenskap,” sê Marx.

Die enigste voorvereiste vir die opleiding? Fisiese vermoë en die wil om ’n verskil te maak.

“Ek het al kinders geleer hoe om te reageer wanneer ’n maatjie in nood is. Hulle word eerste-reaksiehelpers, selfs by die huis,” sê sy.

“Hierdie mense kan nou ’n verskil maak in iemand se lewe op ’n noodtoneel tot die ambulans daar kom en by hulle oorneem.

“Kennis is mag en mag kan ’n verskil maak tussen lewe en dood. Om soveel energie en kennis terug te ploeg in die gemeenskap is bevredigend. Dit gee my die gemoedsrus dat ek ’n verskil gemaak het,” sê sy.

Hoewel infrastruktuur-instandhouding belangrik is, glo Marx dat bemagtiging van inwoners deur opleiding ’n onmiddellike en bekostigbare impak het.

Sy vergelyk dit met primêre gesondheidsorg: voorkoming eerder as genesing.

Vir haar is dienslewering nie net herstelwerk aan infrastruktuur nie, maar ook die herstel van die sosiale en fisiese weefwerk van gemeenskappe.

“Te veel mense sterf voordat ambulansdienste eers opdaag,” sê Marx. “Dis die gemeenskapsforumlede of sekuriteitsbeamptes wat eerste opdaag, maar sonder opleiding staan hulle dikwels magteloos.”

Marx, ook ’n lid van die Resussitasieraad van Suider-Afrika, glo dat onmiddellike ingryping in noodsituasies ernstige gevolge soos breinskade kan voorkom veral in gevalle soos byna-verdrinking of hartstilstand.

“Daar’s niks vir my lekkerder as om iemand toe te rus om ’n lewe te red nie. Dít is voorkoming in aksie. Ons leer mense hoe om gesond te bly én hoe om in krisisse op te tree. In albei gevalle verminder ons druk op ons gesondheidstelsel.”

Sy roep ook ander leiers op om soortgelyke programme te begin waardeur die gemeenskap bemagtig kan word.

“In ’n tyd van begrotingstekorte en stygende misdaad, kan ons nie wag vir die metro nie. Ons moet self die verskil wees.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button