News

Pretoria-biblioteke weer oop op Saterdae ná ingryping

Die Tshwane-metro het opdrag gegee dat Pretoria se biblioteke vanaf 10 Mei weer op Saterdae oop sal wees.

Pretoria se biblioteke sal vanaf 10 Mei weer oop wees op Saterdae, ná ’n dringende opdrag van die Tshwane-metro se bestuur op 9 Mei.

Dié besluit volg nadat verskeie biblioteke lank reeds hul deure op Saterdae gesluit gehou het, tot frustrasie van gemeenskapslede en kultuurorganisasies.

Die opdrag is op 9 Mei gestuur deur Zukiswa Ntsekeni, groepshoof van gemeenskaps- en sosiale dienste, aan alle operasionele en streekshoofde, asook biblioteekhoofde regoor Pretoria.

Die instruksie verwys na ’n besluit van die stadsraad, reeds op 30 September 2021 geneem, wat die ure van biblioteke standaardiseer.

Die besluit van 30 September 2021 wat bepaal biblioteekure mag net deur die burgermeesterskomitee en nie die metro se bestuurders nie, verander word.

Volgens dié besluit mag enige verandering aan biblioteekure slegs deur die burgemeesterskomitee goedgekeur word.

Teen 18 April was slegs ’n paar biblioteke steeds op Saterdae oop soos dié van Brooklyn en Waverley.

Op 9 Mei het dit geblyk dat selfs dié biblioteke op Saterdae sou moes sluit ná ’n nuwe streekbestuursopdrag tot groot kommer van gemeenskapslede.

Onmiddellike aksie op hierdie opdrag oor sluiting van die Waverley-biblioteek is deur raadslid Peter Meijer van die Vryheidsfront Plus geneem.

Meijer het op 9 Mei gehoor dat ’n beplande Afrikaans 100-viering op 10 Mei by die Waverley-biblioteek gekanselleer is, omdat dié biblioteek volgens nuwe aanwysings ook sou sluit.

Die funksie, waarin ses bekende Afrikaanse skrywers sou optree, is gereël ter viering van die 100-jarige erkenning van Afrikaans as amptelike taal.

Meijer het direk met die stadsbestuurder, Johan Mettler, gekommunikeer en daarop gewys dat die opdrag om biblioteke op Saterdae te sluit teenstrydig is met die 2021-stadsraadsbesluit.

Hy het benadruk dat streeksbestuurders nie die bevoegdheid het om biblioteekure op hul eie te verander nie al het dit al telkens sedert hierdie besluit wel teenstrydig met die besluit gebeur.

Meijer het daarop gewys dat die bevoegdheid om biblioteek-ure aan te pas slegs by die burgemeesterskomitee lê.

“Hierdie besluit kan nie op streeksvlak afgedwing word nie. Die stadsraad het reeds in 2021 bepaal dat veranderinge aan biblioteekure slegs deur die burgemeesterkomitee goedgekeur mag word,” sê hy.

Die ingryping het daartoe gelei dat die Afrikaans-viering wel kon voortgaan op 10 Mei by die Waverley-biblioteek, en het ook tot gevolg gehad dat alle biblioteke in Pretoria nou weer op Saterdae oopgestel word, soos oorspronklik bepaal.

Skrywers wat aan die Afrikaans 100-viering sou deelneem, sluit in Leandra Naudé, Johan de Nysschen, Julius de Smedt, Anita van der Walt, Anria Breedt en Coen van Wyk.

Hulle was vasberade om die geleentheid te laat voortgaan, selfs al moes dit buite in ’n nabygeleë park plaasvind.

Naudé het aan Rekord gesê: “Ons was reg om met tafels in die park te sit as dit moes. Dis onaanvaarbaar om lesers se belangstelling en die viering van ons taal só te kelder.”

Volgens Meijer het Waverley een van tien biblioteke in Pretoria gebly waar personeel aangedui het dat hulle bereid is om op Saterdae te werk.

Ander biblioteke, wat voorheen op Saterdae gesluit was en nou weer op Saterdae sal moet oopmaak, sluit in:

– Akasia
– Pretoria-Noord
– Laudium
– Hammanskraal
– Atteridgeville
– Rooihuiskraal
– Soshanguve
– VT Sefora
-Winterveldt
– Suurman
– Stinkwater
– Steve Biko
– Temba
– Danville
– Eskia Mphahlele
– Hercules
– Saulsville
– Mountainview
– New Atteridgeville
– Lyttelton
– Pierre Van Ryneveld
– Olievenhoutbosch
– New Olievenhoutbosch
– Irene
– Erasmia
– Valhalla.

Gemeenskapslede het ook al ’n ruk lank hul stem dik gemaak oor die sluiting van biblioteke op Saterdae.

Dr. Michal-Maré Linden het gesê: “As iemand wat voltyds werk, is ek afhanklik van Saterdae om die biblioteek te besoek. Hierdie diens is belangrik vir studente, kinders, bejaardes en enigiemand wat gedurende die week nie tyd het nie.”

Vertoë om biblioteke in Pretoria op Saterdae oop te hou is ook aan die stadsraad gerig deur Estelle Coetzee, Reinette Boshoff, Madeleen Grobler, Irene Schoonraad en Kobie Grobler.

Die stadsraad se besluit van 30 September 2021 het die volgende biblioteekure goedgekeur:

Groep A (gemeenskapsbiblioteke, 150m² groot): Weeksdae 09:00–17:00; Saterdae 08:30–13:00.
Groep B (openbare takke, 350m² groot): Weeksdae 09:00–17:00; Saterdae 08:30–13:00.
Groep C (streeksbiblioteke, 800m² groot): Weeksdae 09:00–17:30; Saterdae 08:30–13:00.

Daar kan wel ook verlengde ure toegestaan word volgens die besluit in gemeenskappe waar daar ’n groot behoefte aan studieruimte is.

Met die jongste opdrag word bevestig dat biblioteke hul deure weer sal oopmaak op Saterdae tot groot verligting van inwoners wat afhanklik is van hierdie openbare diens.

LEES: Nuwe enkelsnit vir Sonnekus maak reeds ‘n merk

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button