Nuwe era vir Magnoliadal breek aan
Onder leiding van twee gemeenskapslede het die Magnolia-Masekhane-projek die verwaarloosde park in 'n veilige, estetiese gemeenskapsruimte omskep. Die projek het inwoners, besighede en werkers verenig in 'n inspirerende herlewingsinisiatief.
Op 14 Mei het die Magnoliadal-gemeenskap in Pretoria-oos ’n merkwaardige mylpaal gevier: die inwyding van hul herstelde dam, ’n projek wat die hart en siel van die buurt weerspieël.
Die inwyding van die dam simboliseer nie net die herstel van ’n fisiese ruimte nie, maar ook die herlewing van gemeenskapsgees, samewerking en hoop.
Dit is ’n bewys van wat moontlik is wanneer individue saamwerk met ’n gedeelde visie en toewyding.
Hierdie inisiatief, onder die vaandel van die Magnolia-Masekhane-projek, is gelei deur die dinamiese duo, Janét du Preez en Lydia Maree, wat hul passie en toewyding gebruik het om ’n verwaarloosde ruimte in ’n lewendige gemeenskapspark te omskep.
Du Preez vertel hoe die droom ontstaan het: “Ons het in Japan gewoon waar my man, Fourie, rugby gespeel het. Na Japan het ek net gesien hoe dinge agteruit gaan en heeltyd gedink as my kinders hoërskool toe gaan sal ek hier begin plan maak. Ek het nou twee kinders in skole in die omgewing. My hande het gejeuk om die area reg te maak, en ek het met Lydia daaroor gesels. En hier staan ons vandag!”
Maree, wat na haar uittrede uit musiekteater en tydens die grootmaak van haar drie kinders ’n verfraaiingsprojek gesoek het, het dadelik ingestem.
“My betrokkenheid is baie persoonlik. My pa, Conrad le Roux, het gereeld vertel hoe hy met seilbootjies op die dam gespeel het. Hy en my ma, Esther, het ook hul troufoto’s in die park geneem.”
Die twee vroue het saam aansoek gedoen vir toestemming om Magnoliadal te verfraai onder die metro se gemeenskapsopheffingsprojek en ’n sakeplan ontwerp.
Maree benadruk die belangrikheid van estetika: “Dit gaan nie net oor skoonmaak nie. Iets moet esteties mooi wees. Ons ontwerpers-aanvoeling moes ook hard werk rondom die kreatiewe oplossings.”
Hulle het begin deur self hul waterstewels aan te trek en die dam se filtrasiesisteem uit te sorteer en te verstaan hoe die vertakking van Walkerspruit daarby aansluit.
Die dam is met motorbande onder gepak om stabiliteit te bied.
“Ons moes terugdink aan graad 4-eksperimente!” sê Du Preez met ’n glimlag.
Haar droom is om atlete weer te sien landloop in die park en families op die gras te sien piekniek hou.
Die sukses van die projek lê in die gemeenskap se betrokkenheid.
Werkers soos Kudakwashe Murape, Alex Mussa en Elliot Phahlane het onvermoeid gewerk om die dam en die omliggende area te herstel.
Martin Brutten het gehelp om mense te mobiliseer en het uitgehelp met leiding met Muckleneuk se skoonmaakspan.
“Ons kan so baie in die buurt doen. Hier is soveel potensiaal. Mens wil deel wees van só ’n projek,” sê hy.
Jean Buckley, wat haar hele lewe in Muckleneuk gebly het, het besluit om self betrokke te raak.
“Ek onthou vantevore altyd die kunstentoonstellings en het jare gelede, toe die een groot populierboom by die dam doodgegaan het, twee nuwe populiere geplant. Dis nou elke keer heerlik om hier te wees, terug te dink daaraan en om nou die bome weer in die herfs geel te sien word langs die vol dam.”
André van Niekerk het betrokke geraak deur kos te maak vir werkers tydens die projek. Hy onthou sy studentedae in die park en hoe hy op Lentedag 1979 die eerste keer ’n meisie hiernatoe gebring het.
“Ons het dikwels in die parkie gekuier tot ons getroud is,” vertel hy nostalgies.
Dylan Brewer van Huckleberry’s restaurant het tydens die Covid-19-pandemie sy werkers in Magnoliadal laat werk om die afgeskeepte area van die metro te verfraai en instand te hou.
Hy het begin gras sny met sy ouers se grassnyers. Vandag, vyf jaar later, betaal Huckleberry’s se span drie werkers en het stewige grassnyers om die gras in toom te hou.
Hy gee graag erkenning aan mense met visie soos Elizabeth Diedericks, wat ook met haar eie tuinwerkers ingespring het om die area skoon te hou en te verfraai.
Sy ma, kunstenaar Nellien Brewer, wys op een van die voetpaadjies deur ’n verwaarloosde, onkruid-gevulde bedding, waar sy ’n kliptablet ontdek het.
“Iemand het jare gelede, seker toe die park uitgelê is, Psalm 66:4 op ’n kliptablet geverf: “Laat die hele aarde U aanbid en psalmsing tot U eer; laat dit U Naam verhef in psalmgesang”. Die besoekers aan Magnoliadal is vandag baie meer kosmopolities as in die verlede, en ons wil graag dieselfde versie in al 11 Suid-Afrikaanse tale op soortgelyke kliptablette laat aanbring langs die paadjie.”
Die bou van die dam is die eerste van vyf fases wat afgehandel is, met verdere planne om die parkgedeelte te omhein met slegs drie toegange en die gebruik van die kiosk weer in te stel.
Tiaan Dippenaar, die DA se genomineerde raadslid vir die Junie-byverkiesing vir die wyk waarin die dam val, voel dat sulke vernuwingsprojekte in die wyk ondersteun moet word.
“’n Projek soos hierdie is ingestel om verval te voorkom en die buurt vir ons almal veiliger te maak. Ons moet almal ons gewig ingooi om die momentum te behou wat met die voltooiing en inwyding van die dam bewerkstellig is.”
– Kliek hier om die inwydingseremonie van die nuwe dam te sien:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







