Geliefde leraar en skrywer sterf skielik
Die gewilde en geliefde ds. Johan Pienaar is op 20 Mei in die ouderdom van 74 in Pretoria-oos oorlede.
Een van Pretoria en die land se mees geliefde predikante, motiveringsprekers en skrywers, ds. Johan Pienaar (74) is op 20 Mei oorlede in sy tuiste in Pretoria-oos.
Sy seun Derek Pienaar, het aan Rekord bevestig dat sy pa stil heengegaan het soos wat sy hartsbegeerte nog altyd was. Die oorsaak van sy dood was nog nie op 21 Mei vasgestel nie.
“My pa het geen pyn gehad nie en ons is dankbaar daarvoor. Hy was ’n ongelooflike pa en oupa vir ons almal. Hy het in dialoog geglo en was ’n brugbouer. Hy het altyd daarop aangedring dat ons eerder ’n brug tussen mense en groepe bou as afbreek,” het Pienaar aangedaan gesê.
Pienaar laat sy eggenote, Rita, drie kinders en hul eggenote en agt kleinkinders agter.
Dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk se Algemene Sinode het aan Rekord gesê die NG Kerk-familie het met groot hartseer kennis geneem van sy skielike dood.
“Hy was ’n besonderse mens, storieverteller, bemiddelaar, diplomaat, liefhebber van mense en herder vir die kuddes wat God aan hom toevertrou het,” sê Venter.
“Ons simpatiseer met sy vrou, Rita en hulle kinders en kleinkinders, naby vriendekring en sommer almal wat hom sal mis en sy nagedagtenis koester.”
Pienaar het in die volgende gemeentes gedien: in die sewentigerjare in Boksburg-Oos en Witrivier en in die tagtigerjare in Potchefstroom-Noord, Arcadia en Riviera (nou Riviera-Jakaranda).
Al was hy afgetree, het hy voortgegaan om as emeritus leraar en besoekende prediker diensbaar te wees in die kerk.
Sy stem sal ook op radio gemis word. Hy het gereeld die boodskap gebring met oggend- en aandwydings en ander programme.
Lizelle de Bruin, regisseur van talle godsdiensprogramme, glo sy stem sal nooit werklik stil wees nie.
“Sy gereelde bydraes tot Binnekamer, RSG se godsdiensjoernaalprogram, het my program – en my lewe – op ’n besondere manier verryk. Daar is altyd iemand wat sê: ‘Johan het gesê…’ – ’n aanduiding van hoe diep sy woorde gewortel was in mense se harte,” vertel De Bruin.
Volgens haar neem sy afskeid van ’n man wie se lewe haar herinner aan ’n stuk houtwerk – sorgvuldig geskaaf, met fyn detail en ’n kern van karakter en betekenis. Vir haar was hy nie net ’n gerekende teoloog nie, maar ook ’n stem van kalmte, balans en wysheid. Sy en Pienaar het gereeld hout as voorbeeld gebruik in hul gesprekke aangesien hy ook ’n kranige meubelmaker was en bekend was vir veral sy keurige penne van hout.
“Hy het mense benader soos ’n meesterhoutwerker ’n ruwe stuk hout hanteer: met respek, met insig en met geduld. Sy insigte het diep spore gelos – elkeen ’n merker van geloof. Vir my sal sy stem altyd die pad aanwys, soos voetspore in die hout van die lewe.”
Paul Grobler, direkteur van die Noordelike Sinode, sê Pienaar se afsterwe is nie alleen vir die NG Kerk nie, maar vir die breër gemeenskap van Pretoria ’n groot verlies.
“Hy het altyd wyer gekyk as die dogma en die grense van denominasies. Hy het graag hande gevat oor kerk-, kultuur-, geografiese- en taalgrense heen. Gedurende sy bedieningstyd het hy ook vir ses jaar as voorsitter van die NG Kerk se Noordelike Sinode gedien. In 2010 het hy afgetree, maar nooit uitgetree nie. Hy het deur sy hele bediening die Noordelike Sinode se roepingsverklaring,
‘Bring hoop, maak ’n verskil’ hande en voete gegee. Ons eer die Here vir hierdie toegewyde dienaar.”
Uit Pienaar se pen het boeke soos Die dag na die rowers opgedaag het verskyn.
LEES: Hoërskool Montana gereed om swem na volgende vlak te neem
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
