Hoërskool Montana gereed om swem na volgende vlak te neem
Hoërskool Montana se swemprogram, wat onder leiding van TuksSwem en die Brent Holmes Swem-akademie gevestig is, het nou nuwe status gekry nadat Swem SA ook betrokke geraak het by dié program, wat die pad vir toekomstige swem-sterre noord van die Magaliesberg nóg meer moontlik maak.
Die dae dat ’n belangrike Olimpiese sport soos swem aan die agterspeen moes suig in die noorde van Pretoria, is verby.
Sedert Hoërskool Montana se spoggerige 25m swembad sowat vyf jaar gelede midde in die Covid-tyd voltooi is, het swem as sport dramaties uitgebrei by dié skool. Dis egter nie net Montana wat nuwe hoogtes bereik nie, maar die hele gemeenskap noord van die Magaliesberg is besig om by die ontwikkeling rondom Montana se swembad en swemprogram te baat.
Die eerste satelliet-swemskool van TuksSwem is reeds kort na die voltooing van die swembad by Montana gevestig in die vorm van die Brent Holmes swem-akademie. Met die hulp van hierdie akademie is daar ook ’n verhittingstelsel by die swembad geïnstaleer.
Hierdie program het onlangs nuwe stukrag gekry toe Swem Suid-Afrika (Swem SA) ook betrokke geraak het. Die Hoërskool Montana Hoëprestasie Swem-akademie, wat ondersteun word deur Swem SA se Uitnemendheidsprogram, is verlede week amptelik by die skool bekendgestel.

Foto: Koos Venter
Volgens Liza van Niekerk, swem-organiseerder en afrigter van Montana, het dié sport nuwe hoogtes bereik by die skool sedert die swembad in gebruik geneem is. Montana het vanjaar deelgeneem aan die Pretoria A-bond Interhoër Swemgala, terwyl die skool verlede jaar agt swemmers opgelewer het wat provinsiale kleure van Northern Tigers Swem ontvang het.
Sewe swemmers wat deel is van die skool se swemprogram het aan die jaarlikse junior nasionale swemkampioenskap deelgeneem en drie van hierdie swemmers is as kampioene gekroon. Swemmers van verskeie laerskole in die omgewing is ook deel van hierdie program.
Volgens Dean Price, bestuurder van Swem SA se Uitnemendheidsprogram, is Montana gekies om amptelik deel van hierdie program te word, nie net weens die skool se swemfasiliteit nie, maar ook weens die uitmemende ander fasiliteite én die uitstaande akademiese prestasies van die skool.
Price het gesê swemmers wat deel word van die program moet beslis in staat wees om tot Olimpiese standaard te vorder, maar daar is ook ’n vereiste dat hierdie leerlinge op elke ander moontlike gebied ontwikkel moet word. Swem SA glo dat Montana aan hierdie vereiste voldoen.

Foto: Koos Venter
Die bal is dus nou aan die rol by Hoërskool Montana om swem as sport tot nuwe hoogtes te bestuur. Dié skool staan reeds uit met hul prestasies op die atletiekbaan, sowel as in verskeie winter-sportsoorte.
As alles volgens plan verloop, sal lede van die Monties se swemprogram eersdaags ook oor die wêreld heen en by die Olimpiese Spele hul land in die swembad kan verteenwoordig.
Belangstelendes wat meer inligting verlang kan vir Liza van Niekerk per epos kontank : lvanniekerk@hsmontana.co.za
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
