Krog se nuutste boek ontbloot diepste gesinsbande en geskiedenis
Antjie Krog breek met haar vertellende outofiksie grense tussen genres en bied 'n nugter blik op die uitdagings van oudword en ideologiese verskille in gesinne. Die boek delf in Suid-Afrika se kulturele erfgoed, insluitend die Anglo-Boereoorlog en grondbesitkwessies, maar is ook grootliks 'n bewys van die literêre bloedband tussen twee gerekende skrywers, Krog en haar ma.
Professor Antjie Krog het onlangs haar mees persoonlike boek, Binnerym van bloed, bekendgestel tydens ’n gesprek op 21 Mei met prof. Jacomien van Niekerk van die Universiteit van Pretoria by die Blou Hond in Pretoria-oos.
Die boek, uitgegee deur Penguin Random House, ondersoek die verhouding tussen haar en haar ma, Dot Serfontein, wat in 2016 op 91-jarige ouderdom oorlede is.
Serfontein was ’n gerespekteerde Afrikaanse skrywer en joernalis, bekend vir haar kortverhale en haar outobiografie, Vrypas.
In Binnerym van bloed gebruik Krog ’n mengsel van briewe, dagboekinskrywings en versorgingsverslae om die dinamika van hul verhouding te verken.

Sy breek met haar vertellende outofiksie grense tussen genres en bied ’n nugter blik op die uitdagings van oudword en ideologiese verskille in gesinne.
“Vier boeke met aantekeninge oor my ma se verblyf in ’n versorgingsoord is aan my gegee,” vertel Krog. “Haar eie sowel as verpleegsters se handskrifte en aantekeninge vertel ’n storie van haar verblyf deur die kantnotas wat sy gemaak het. My ma se notas sluit in ’n verergde aantekening oor ’n tydsaanduiding wat sy voel verkeerd deur ’n versorger aangeteken is. Dis ook duidelik uit die aantekeninge sy was moeg om kos te eet wat deur ander voorberei is. Dis nie vreemd nie aangesien sy self borde en borde heerlike kos vir ander in haar lewe voorgesit het.”
Krog het verskeie opmerkings oor die omslag gemaak wat die Vrystaatse vlaktes uitbeeld, met ’n vroulike figuur op ’n perd in ’n blou rok, en moontlik ’n voorstelling is van Krog of haar ma. In die agtergrond is ’n rivier, wat ’n sentrale rol in die boek speel.
“Die foto’s is soms doelbewus verdof om die leser van die werklikhede te vervreem en só ’n nuwe, eie verhaal te skep,” verduidelik sy.
Die boek delf in Suid-Afrika se kulturele erfgoed, insluitend die Anglo-Boereoorlog en grondbesitkwessies, maar is ook grootliks ’n bewys van die literêre bloedband wat daar tussen die twee gerekende skrywers is.
“My ma het geskryf: ‘Ek bêre al ons briewe. Jy kan eendag soos Audrey Blignault se dogter ons twee s’n bymekaarsit vir ’n geplunderde boek’.”
Binnerym van bloed is egter geen “geplunderde boek” nie; eerder ’n unieke literêre werk wat ook die nalatenskap van ’n geslag ondersoek.


Krog vertel van sonderlinge oomblikke saam met haar ma waar hul respek vir mekaar se ideologiese verskille duidelik na vore gekom het.
“Die skryf van die boek het talle herinneringe gebring. Soos toe ek saam met my ma moes deurluister na twee kassette wat sy van Solidariteit gekry het. Al waar ons nog kassette kon luister was om in die motor in die garage te sit en luister. Dit was ongelooflik watter oomblikke uit die geskiedenis op die kassette was waarna ons geluister het vir twee ure, soos dele van Verwoerd se biografie.”
Serfontein het dikwels verhale vertel oor die Anglo-Boereoorlog, maar het dikwels met die vertel daarvan ook gefokus op ’n groep individue wat iets van hulself na die oorlog gemaak het. Krog het in haar navorsing oor die oorlog en met die deurgaan van die Havenga-versameling oor Afrikaners se lewens na die oorlog, van hierdie verhale teëgekom.
Die versameling van oudminister Klasie Havenga in die Vrystaatse en Pretoriase argiefbewaarplekke bevat meer as 50 verklarings deur boere, vroue en kinders oor hul ontberings gedurende die Anglo-Boereoorlog. Daar word vertel van aanrandings, die plundery van plaashuise en die mishandeling van veral vroue en kinders deur Britse soldate.
“My ma het enige slagofferskap na die oorlog teengestaan,” sê Krog wat veral in haar navorsing oor trauma na die oorlog ook op die perspektief fokus van hoe swart mense tydens en na die oorlog daardeur getraumatiseer is.
“Dit was ’n ongelooflike bevryding gewees om die boek te skryf.”
Krog se sin vir humor en selfspot het telkens deurgeskemer.
“My ma was altyd ontsteld as my gedig met die titel Ma voorgelees word by Vroue Landbou-unie vergaderings. Dan is sy gewoonlik gevra of sy trots is op die gedig. Sy sou antwoord: ‘Glad nie, die digter dink verkeerd oor my.’ Waaroor ek die dankbaarste is, is dat my ma juis ook die hele tyd vir my gesê het ek is nie spesiaal oor al my boeke nie. Sy het benadruk dat skryf nog altyd in ons familie se bloed is. Sy het my aangemaan om eerder fluks en eerlik te wees.”
Krog het ook in dieselfde week die huldigingsbundel oor haar werk en lewe by ’n bekendstelling van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Antjie Krog: ’n Ondersoekte lewe word uitgegee deur Protea Boekhuis met professor Louise Viljoen as redakteur.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


