News

Afrikaans met ‘n glansryke gala-dinee gevier

Die Afrikaans 100-galadinee in Pretoria-oos het nie net die taal se geskiedenis gevier nie, maar ook die pad vorentoe aangedui. Met 'n samewerkende benadering en 'n fokus op innovering, is die toekoms van Afrikaans vol potensiaal, glo sprekers wat opgetree het.

Op 23 Mei het die Pretoria Buiteklub in ’n feestelike atmosfeer die Afrikaans 100-galadinee gehou ter viering van Afrikaans se eeufees as amptelike taal van Suid-Afrika.

Seremoniemeesters, Lizz Meiring en Christo Davids, het die aand met humor en hartlikheid gevul.

Vooraanstaande gaste was onder andere dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Afrikaans 100-direksie, en Michael Jonas, ondervoorsitter van Afrikaans Amptelik 100 wat perspektiewe op die taal se toekoms vorentoe gegee het.

Die Afrikaans 100-feesvieringe het op die amptelike herdenkingsdatum van 8 Mei in Kaapstad by die Kasteel afgeskop met ’n kleurvolle openingseremonie en gaste is daarvandaan na die Bo-Kaap waar ’n muurskildery vir Afrikaans 100 onthul is.

Elna Rossouw en Wilma de Bruin
Nolan en Rachelle Leyds van Eersterust

Die Afrikaans: Komvandaan-muurskildery is op die buitemuur van Faried en Faheema Matthews se huis in die Bo-Kaap aangebring.

Eloff het tydens die Pretoria-galadinee in sy toespraak benadruk dat die eeufees nie net ’n terugblik op die verlede is nie, maar ook ’n blik op die toekoms van Afrikaans.

“Afrikaans het oor die afgelope eeu nie net oorleef nie, maar het ook ’n beduidende rol in die samelewing gespeel. Ons het baie planne, veral met Afrikaans in die onderwys, en ons is opgewonde oor die dinamiese faktore wat die taal tans vernuwe.”

Eloff het sy kommer uitgespreek oor die langtermyn-invloed van ’n moontlik vyandige owerheid op die taal, maar het beklemtoon dat die Afrikaanse kultuurgemeenskap steeds ’n sterk nalatenskap het om aan vas te hou.

“Ons moet ook vorentoe kyk na hoe ons Afrikaans kan bevorder en beskerm in die komende eeu.”

Jonas het in sy toespraak gefokus op die belangrikheid van ’n nuwe taalbeweging wat nie net die taal bewaar nie, maar ook nuwe ruimtes vir Afrikaans skep.

“Ons moet nie net terugkyk na wat Afrikaans bereik het nie, maar ook vorentoe kyk na hoe ons nuwe landskappe en horisonne vir die taal kan skep, veral in die onderwys en digitale media,” sê Jonas.

Estel en Michal de Beer

Hy het die samewerking met ander inheemse taalgemeenskappe verwelkom en die belangrikheid van ’n inklusiewe benadering tot taalbevordering benadruk.

Jonas het die belangrikheid van samewerking tussen Afrikaanse organisasies, onderwysinstansies en die regering beklemtoon om ’n volhoubare toekoms vir die taal te verseker.

Met meer as 1 000 deelnemende organisasies, onderwysinstansies, gemeenskapsgroepe, ondernemings en individue, sluit die Afrikaans 100-veldtog ’n wye verskeidenheid projekte en feeste regoor die land ingesluit.

Franco Slabbert en Sue Pyler-Slabbert

Van entrepreneursprojekte en koorwerke tot skolekompetisies en leesprojekte: die veldtog bied ’n platform vir die viering en bevordering van Afrikaans in al sy vorme.

Met die eeufees as ’n mylpaal, is die fokus nou op die toekoms van Afrikaans.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button