News

Dominee met hoogtevrees kampeer op kerk se dak vir fondse

Dominee Ds. Derick Claassens het sy 60ste verjaarsdag vanaf 29 Mei tot 1 Junie op die dak van die NG Kerk Meyerpark deurgebring om R60 000 in 60 uur in te samel vir fondse vir die geloofsgemeenskap. Met die steun van die geloofsgemeenskap het hy sy doelwit vinnig bereik.

Wanneer jy straat-af ry in Erasmusstraat in Meyerspark, moenie verbaas wees as jy twee tente op die dak van die kerksaal sien nie.

Ds. Derick Claassens, leraar van die NG Kerk Meyerpark, het ’n ruk gelede besluit om sy 60ste verjaarsdag op 24 Mei letterlik op ’n hoë noot te vier.

Hy het beplan om vanaf Donderdag, 29 Mei om 19:30 tot Sondag, 1 Junie om 07:30 vir 60 uur op die dak van die kerksaal deur te bring vir ’n fondsinsameling.

Op 29 Mei het hy toe inderdaad sy 60-uur lange fondsinsameling in twee tente op die dak van die kerksaal in Pretoria-oos begin om R60 000 vir die geloofsgemeenskap in te samel.

Ds. Derick Claassens se fondsinsamelingspoging om R60 000 in 60 uur in te samel is ‘n groot sukses. Foto: Elize Parker

Na ’n enkele nag het Claassens reeds sy doelwit bereik, maar dit is hef aan!

Hierdie datum, 29 Mei, is juis gekies omdat dit die herdenking van die kerk se stigting is.

Die gemeente is op 29 Mei 1959 gestig, met die eerste predikant, ds. B. Lombard.

Wat die saak nog interessanter maak, is dat hy “’n bietjie hoogtevrees het” en met ’n stewige leer op en af moes klim om by die tente te kom.

“Ek het nie gedink die straat gaan so lawaaierig wees nie,” sê hy, “maar die bietjie koue het my vinnig wakker gemaak sommer al so 04:45!”

Die geloofsgemeenskap van Meyerspark het die projek met ope arms ontvang. Mense het hom per uur geborg of ’n enkel donasie gemaak.

“Ek het nie veel voorbereidings gedoen nie, maar die gemeentelede is opgewonde en werk lekker saam,” sê hy. “Dit voel amper soos ’n vakansie – al is ek in ’n tent op die dak in ’n woonbuurt.”

As proviand het hy biltong en naartjies gehad, met ’n paar ekstra ontbyt- en middagete-gaste wat gereeld opgedaag het.

“Ons het laas gekampeer toe ons in Namakwaland was. Dis ietwat anders!”

Sy vrou, Karien, het die eerste ontbyt gebring, en later het ander gemeentelede ook kom kuier.

Claassens word in sy werk deur mede-leraar by veral die jeugbediening, ds. Rikus Blom, bygestaan.

Ds. Derick Claassens se fondsinsamelingspoging om R60 000 in 60 uur in te samel is ‘n groot sukses. Foto: Elize Parker

Daar is ook tans ’n teologiese student, Ilze-Mari Coetzee, wat besig is met haar gemeentejaar.

Die kerkgebou word ook deur die NG Kerk in Afrika asook deur die Lutherse Kerk vir dienste gebruik.

Werkloosheid is ’n groot probleem in die buurt.

Die kerk het ’n voedingsprojek vir diegene wat aanklop, sowel as om gesinne maandeliks met pakkies by te staan.

Belangstellendes kan hom steeds borg. Skakel die Kerkkantoor by 012 803 1531.

– Kliek hier om ’n video van die dominee op die dak te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button