Ons Tuis-boek: ‘n Feestafel van herinneringe
Op 22 Mei het ’n splinternuwe resepteboek van Ons Tuis, die lig gesien. Hierdie boek is 'n liefdevolle samestelling van kosherinneringe en -tradisies van die bejaarde inwoners van Ons Tuis.
Op 22 Mei was die gange en kombuis van Ons Tuis in Pretoria in rep en roer toe die amptelike bekendstelling van die splinternuwe resepteboek, Dek die tafel, plaasgevind het.
Hierdie boek is nie net ’n samestelling van kosresepte nie, maar ’n kosbare skatkis vol herinneringe, stories en die rykdom van bejaarde inwoners se kookerfenis.
Ons Tuis bestaan uit agt tehuise verspreid oor drie provinsies en bied verblyf vir persone ouer as 55 jaar.
Volgens Mari-lizé Beukes, die besturende direkteur van Ons Tuis, is Dek die tafel meer as net ’n resepteboek.
Dit is ’n poging om die kostradisies van die ouer generasies te bewaar en aan toekomstige geslagte oor te dra.
“Ons bejaarde inwoners het só baie kennis en ervaring wanneer dit by kookkuns kom. Hierdie boek gee hulle die geleentheid om daardie rykdom met die wêreld te deel,” sê sy.
Die boek is deur Lig in Duisternis Uitgewers uitgegee, met behulp van ’n ruim skenking vanaf die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die reis na die publikasie van Dek die tafel was een van samewerking en gemeenskapsgees.
Daleen Gouws van Edge Communications vertel hoe die projek in 2023 begin het, toe die span begin beplan het om die koserfenis van die inwoners te bewaar en ’n beroep om resepte gedoen het.
“Agter elke gereg is ’n storie, en ons het dus elke resep deurgegaan en almal se bydraes respekteer,” sê sy.
Die atmosfeer tydens die deurvoer van die projek was vrolik en vreugdevol.
Die geoliede span het saamgewerk om die boek op die rakke te kry, en selfs die doilies en outydse toebehore is met sorg gekies om die projek se samesyn en liefde te weerspieël.
Vicky Pretorius, geliefde ko-ördineerder by Ons Tuis, deel met trots die storie van Tannie Judy se “Smartiekoek” wat nie net ’n gunsteling by haar kleinkinders is nie, maar ook as ’n “wiskundekoek” bekend staan.
“Hulle moes eers die lekkergoed tel voordat hulle kon wegval,” sê Pretorius.
Sy het ook vertel van die ongewone pêrelgortsopresep uit Nederland wat soos poeding, yskoud bedien word. Volgens haar is dit so verfrissend soos waatlemoen.
Die boek deel ook die dadelvingerresep van ’n bakster wat alewig tydens die uitsaai van die sepie 7de Laan moes hoor hoe lus haar man vir eksentrieke kok Hilda se dadelvingers was en dan van haar eie gebakte dadelvingers vir tee moes voorsit.

Rina du Preez, hoof van die kombuis by Ons Tuis, vertel dat die kombuisspan en assistente op 26 Augustus 2024 begin bak en kook het.
Sy werk al 36 jaar by Ons Tuis en vertel dat die grootste uitdaging vir haar die standaardisering van resepte se bestanddele was.
By een handgeskrewe resep is daar aangegee dat “die vleis van een bokkie” gebruik moet word. Du Preez moes maar wonder en uitwerk watter bokkie dit sou kon wees! “Klipspringer of Springbokkie? Hopelik nie ’n eland nie!” lag sy.
Die standaardisering en afronding van resepte om suksesvol deur ander kokke gemaak en voorgesit te kan word, was geen maklike taak nie want die boek sluit resepte in vir geregte soos Skurwe Abrahams-koekies, Gerty se kraakkoekies, Verpleegsterpoeding, Sardienbobotie, Mangohoender en Rooibok-en-Koedoepastei.
“Ek kan nou waarlik sê: Vele hande maak ligte werk,” vertel Du Preez.
Alle opbrengste word aangewend vir die versorging van die inwoners, wat beteken dat elke boek wat gekoop word, ’n direkte impak het op die welstand van die bejaardes.
Vir meer inligting, kontak info@otmt.org.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


