News

Betereinders glo samewerking rondom slaggate genees

Betereinders se werk is 'n bewys dat klein aksies, wanneer dit deur die gemeenskap gedoen word, 'n groot impak kan hê. Hulle wys dat 'n slaggat nie net 'n probleem is nie, maar ook 'n geleentheid om iets te herstel: nie net op die pad nie, maar ook in die harte van mense.

In die hart van Pretoria-oos, waar slaggate op talle plekke in die middel en aan die kante van teerstrate gemerk word, het ’n groep mense besluit om nie net te kla nie, maar om aksie te neem.

Die leiers is die lede van die Betereinders: ’n organisasie sonder winsbejag wat nie net slaggate herstel nie, maar ook verhoudings bou en mense bymekaar bring.

Hulle reël saamkom-geleenthede soos ’n braai in die townships met ’n sokkerwedstryd of om saam ’n taak aan te pak om sosiale geregtigheid te bewerkstellig.

Johan Erasmus, mede-stigter van Betereinders

Onlangs het die organisasie meer as 100 lede van die Oosterlig NG Kerk en die kerk Dialogue Community gemobiliseer om na 17:30 slaggate op ’n weeksaand in Pretoria-oos saam reg te maak.

Johan Erasmus, een van die medestigters van Betereinders, verduidelik: “Almal praat oor hoe die land agteruitgaan, maar jy kan nie net op jou bank sit en kla nie. Jy moet self inisiatief neem. Dit is sielkundig goed vir mense om iets self te doen en nie net te voel dat hulle oorgelewer is aan groter kragte wat hulle nie verstaan nie.”

Die organisasie het ontstaan na ’n inspirerende daad van gemeenskaps-aksie toe boere en taxibestuurders in Ficksburg hande gevat het om die regering se versuim om paaie te herstel aan te spreek. Plaaslike forums en netwerke in Ficksburg het verskeie sektore ingesluit by die aksie, soos onderwysers en opkomende boere, om die staat van die paaie aan te dui.

Hulle het ’n vreedsame protes gehou wat die aandag van die stigters van Betereinders getrek het. Erasmus het ’n foto van die minibustaxibestuurders en die boere wat saam in ’n reuseslaggat ’n braai gehou het op sosiale media geplaas en op talle versoeke toe die Betereinders-organisasie in die lewe geroep.

Betereinders het as een van hul samelewingsherstelprojekte, mettertyd ’n unieke produk, die “Gatvol Mix”, ontwikkel: ’n mengsel wat gebruik word om slaggate vinnig en doeltreffend te herstel.

Hulle het dit nie net as ’n oplossing vir infrastruktuur-agteruitgang gesien nie, maar ook om werkgeleenthede in townships te skep.

Die produk is oorspronklik gemik op informele gebruik deur individue, maar het vinnig ’n groter belangstelling gewek en word nou op grootmaat gemaak. Sementmengers word nou gebruik om die mengsel in emmers te plaas en dit terug te verkoop aan Betereinders en ander organisasies. Die Suid-Afrikaanse Padagentskap, Sanral, het die mengsel die amptelike goedkeuring gegee.

“Ons het die produk nou geoptimaliseer. Dis ’n veilige en doeltreffende oplossing vir slaggate, en voldoen aan wetlike vereistes en regulasies.”

In Brandvlei het hulle ’n produksie-eenheid met twee inwoners se hulp opgerig en die mengsel word daar vervaardig.

Hierdie besigheid bevoordeel nie net die gesinne en gemeenskap van die area nie, maar is ook ’n voorbeeld van hoe inisiatief ’n verskil kan maak.

“Ons het al duisende slaggate reggemaak in Gauteng en landwyd,” sê Erasmus. “Maar wat vir ons die meeste waarde het, is die gemeenskapsbou wat daarmee saam plaasgevind het. Dis vrywilligers wat die slaggate regmaak. Ons glo mense wat saamwerk, ongeag hul agtergrond, bou vriendskappe en verstaan mekaar beter.”

Die organisasie het ook ’n interessante benadering tot saamwerk rondom die slaggate. “Dit is nie net oor die slaggat nie, dit is oor die gesprek wat daaruit ontstaan.”

Maar vir Betereinders gaan dit nie net oor slaggate nie. Hulle is betrokke by gemeenskapsgeleenthede, sokkerwedstryde, braai-geleenthede en ander aktiwiteite wat mense bymekaar bring. Hulle glo dat deur saam te werk aan iets prakties, mense nie net fisies nie, maar ook emosioneel en sosiaal herstel.

Erasmus beklemtoon: “Suid-Afrika is ’n komplekse land. Dit gaan nie net oor die regering nie; dit gaan oor ons almal. Ons moet verantwoordelikheid neem en nie net wag vir ander nie.”

Hy beklemtoon mense is nuuskierig oor wat hulle doen en help met die aandra van koeldrank wanneer hulle werk aan die slaggate.

“Soms vra mense: Is dit wettig wat julle doen? Ons het ’n regskenner wat op grondwetlike vlak werk in ons span en hy bedien ons van raad. Hy het ons aangeraai om voort te gaan met ons werk. Volgens hom oorskry jou reg op veiligheid altyd die reg oor burokratiese rompslomp om alles volgens die proses te doen. Ons glo ons reg op veiligheid op die pad dra meer gewig as om die regte prosesse te volg.”

LEES: Provincial health department ready for water supply disruption

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button