Dringende oproep vir aksie teen alge en modder
Die damme by die Austin Roberts-voëlreservaat in Pretoria-oos is oortrek van besoedeling, alge en modder, wat die natuurlewe bedreig. Die VF Plus het die metro versoek om die ekosisteem te herstel en die omgewing vir die gemeenskap te bewaar.
Die metro se Austin Roberts-voëlreservaat in Pretoria-oos en die omgewing daarnaas, se damme en spruitaflope is in ’n kritieke toestand.
Die damme, wat met modder en alge oortrek is, stel nie net die voël- en dierelewe in gevaar nie, maar ook die omgewing en gemeenskapsveiligheid aangesien die reservaat en die omgewing daarrondom nie meer so dikwels besoek word nie.
Die VF Plus het op 16 Mei ’n beroep op metro se Departement van Omgewingsake gedoen om die damme skoon te maak en die ekosisteem te herstel.
Die dam in Nieuw Muckleneuk by die Blue Crane-restaurant is tussen ambassades en kantoorgeboue geleë.
Die restaurant en omgewing word gereeld deur mense besoek wat ’n ete in ’n natuurlike omgewing wil geniet.
Die slik en modder wat in die dam opgebou het, stel die dam se ekosisteem só in gevaar, dat die voël- en dierelewe nou ernstig daardeur benadeel word.


Die modderige toestande in die damme het nie net die voëls nie, maar ook die plaaslike visbevolking beïnvloed.
VF Plus-raadslid Anne-Marie Sparg, wat ook voorsitter is van die Vriende van die Austin Roberts-voëlreservaat, het op goedgesinde konsultante se kundigheid gesteun om ’n helpende hand te verleen om die ekosisteme te herstel.
Die hulp van omgewingspesialiste, siviele ingenieurs en vrywilligers is dringend hiervoor nodig.
Die dam voor die restaurant was aanvanklik ’n steengroef wat die munisipaliteit in ’n dam omskep het. Oor die jare heen het grond daarin gespoel wat die watervlak verminder het.
“Die dam is tot so ’n mate met modder gevul dat die eende nie behoorlik kan swem nie,” sê Sparg.
Die Walkerspruit, wat verby talle winkelsentrums in die omgewing loop, vloei in die dam en dit is duidelik tot ’n groot mate besoedel deur besighede wat nie sorg dra met hul afloop nie.
Die VF Plus het reeds in 2020 via die Vriende-groep begin planne beraam oor hoe om die area rondom die park op te knap en te vernuwe ten einde ook die waterbronne in die omgewing te suiwer en in stand te hou.


Dit sluit ook die eens beplande trimpark aan die westekant van die Voëlpark in, waarvan die grond ook aan die metro behoort.
Die organisasie het reeds talle nuwe inheemse bome in die trimparkgedeelte geplant om voëls te lok.
Studente van die Tshwane Universiteit van Tegnologie het vir hulle ’n multisensoriese park ontwerp wat vriendelik is teenoor mense met gesiggestremdhede, maar hiervoor het die metro geen geld nie.
“Hier is talle ouetehuise in die area wat baat sal vind indien die nou feitelik nuttelose en ontoeganklike ruimte so omskep kan word met wandelpaadjies en blindvriendelike aanwysings vir die plante. Indien die park ook meer gebruik kan word, sal die hele omgewing veiliger word en daarby kan baat,” glo Sparg.
Bo en behalwe vir die voëls, is die trimparkgedeelte ook ’n tuiste vir dierelewe in die omgewing soos krimpvarkies, hase en seldsame vlinders.
Die Vriende van die Austin Roberts-voëlreservaat in samewerking met die De Jong Park-stadsverbeteringsdistrik het ook verantwoordelikheid geneem om die eens bekende en enigste Olimpiese duikswembad in Pretoria, die De Jong-swembad, se buite-areas op te knap.


Die organisasie het ook groot drome om die swembad weer beskikbaar te maak vir diegene wat nou hul duiksport in Johannesburg moet gaan beoefen omdat die metro nie die swembad en geboue onderhou nie. Die metro dui ook aan dat waterbeperkings hul buitendien verhoed om dit bruikbaar te maak.
“Dit sal egter volgens berekening R10-miljoen neem om die swembad funksioneel te maak,” verduidelik Sparg. “Dit sal samewerking tussen die gemeenskap, besighede en die metro kos om die damme en die omgewing te bewaar vir die nageslag sowel as om die swembad weer funksioneel te maak.”
Sparg doen ’n beroep op die publiek om betrokke te raak en die omgewing te help bewaar. “Die damme in die Tshwane-metro se reservate moet vir die nageslag bewaar word en ook aan inwoners ’n geleentheid bied om die natuurskoon te geniet,” sê sy.
Volgens Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, is die damme al ’n geruime tyd ’n probleem weens vermoddering en die algegroei.
Hy verduidelik die algegroei is ’n kombinasie van natuurlike faktore soos watertemperatuur en menslike aktiwiteite wat voedingstowwe in die water inbring.
Mashigo het aangedui dat die metro moniterings-aksies regdeur Pretoria onderneem om die oorsake van besoedeling in waterbronne te identifiseer en te hanteer.
“Wanneer besoedeling vermoed word, voer die metro se omgewingsinspekteurs nakomingsmonitering uit om waarskynlike bronne van besoedeling en potensiële besoedelaars te identifiseer,” sê hy.

Sulke bronne kan swaar boetes opgelê word.
Mashigo het erken dat daar geen deeglike ondersoeke gedoen is oor die impak van besoedeling op vis- en voëlbevolkings nie.
“Die effek van algegroei op die status van vis- en voëlbevolkings in die volle stad is nog nie bepaal nie,” sê hy.
Hy verduidelik dat die algegroei ’n teken is dat daar besoedelingstowwe in waterliggame in die gebied afgevoer word.
Gevolglik moet spesifieke watermonsters uit die damme geneem en ontleed word om te bepaal watter moontlike besoedelingstowwe tot algebloei in die gespesifiseerde damme kan lei.
Hy moedig plaaslike besighede aan om betrokke te raak by bewaring in die omgewing.
“Deur samewerking kan die stad hulpbronne benut, kennis deel en innoverende oplossings implementeer,” sê Mashigo.
“Tans behels samewerkende programme vir hierdie damme wat deur die metro geïmplementeer word, die betrokkenheid van die Paaie- en Vervoerdepartement by die bestuur van waterlope en die dam langs die Blue Crane-restaurant.
Volgens hom het hierdie betrokkenheid by, veral stormwater-infrastruktuurbestuur, ’n positiewe impak op die omgewing.
Mashigo het die publiek versoek om enige gevalle van vermoedelik onwettige wegdoening van vaste afval, afvalwater en chemikalieë in die munisipale stormwaterstelsel en waterlope aan te meld by greenscorpions@tshwane.gov.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
