Inkomstediens neem hande met metro om onwettige besighede te stuit
Die vennootskap het ten doel om programme in plek te stel wat onwettige besighede in die metro sal aanspreek.
Die Tshwane metro en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het onlangs hul gesamentlike voorneme aangekondig om onwettige besighede aan te spreek.
Burgemeester dr. Nasiphi Moya sê onwettige besighede benadeel die metro se gemeenskappe en ekonomie.
Moya is oortuig dat die onwettige handelsmark in Tshwane uitgewis kan word deur middel van vennootskappe met mede-regeringsbelanghebbendes.
“Ons verwelkom SAID as vennoot in die administrasie se verbintenis daaraan om onwettige ondernemings aan te spreek. Honderde veldtogte is oor die afgelope nege maande deur die Tshwane se polisiedepartement (TMPD), in samewerking met die SAPD, die Departement van Binnelandse Sake en die Gauteng se Gemeenskapsveiligheid Departement uitgevoer,” sê sy.
Sedert die begin van die jaar, het die metro weeklikse verorderningsveldtogte uitgevoer om ongebreidelde wetteloosheid in en om die middestad en ander dele van die metro aan te spreek deur die “Reclaim Our City”-veldtog.
Die burgemeesterskomitee en die stad se senior bestuur het op 27 Mei met SAID, onder leiding van Patrick Moeng, die voorsitter van die Inter-Agency Working Group on Illicit Trade, vergader.
Die doel was om programme oor onwettige handelspraktyke te bespreek.
Die burgemeester sê dat hierdie onderneming reeds suksesvol is, en met SAID aan boord, sal dit verder versterk.
Die programme het sluiting van besighede en die inhegtenisname van dosyne onwettige immigrante tot gevolg gehad.
Verlede week het die metro ’n onwettige paraffienverspreidingsentrum in Mamelodi ontbloot wat inwoners se lewens in gevaar gestel het.
“Hierdie SAID-samewerking sal ’n direkte impak op die stad se bestuursprosesse maak; korrupsie, bedrog en onwettige praktyke bekamp; en Tshwane se ekonomie en die lewens van ons mees weerlose inwoners verbeter,” sê Moya.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
