Tshwane-raadslede bots oor die begroting
Ondanks die feit dat die begroting met 113 stemme goedgekeur is, het opposiepartye beduidende bekommernisse soos dubbelbelasting uitgelig.

Raadslede het die jongste begroting noukeurig bekyk en gedebatteer tydens ’n onlangse vergadering van die Tshwane metroraad by Tshwane Huis.
Die begroting van R50-miljard is laas maand deur burgemeesterskomiteelid van finansies en adjunkburgemeester Eugene Modise bekendgestel.
Die debatte, gekenmerk deur politieke spanning en uiteenlopende standpunte, het die metro se voortgesette finansiële uitdagings en ingewikkeldheid van bestuur beklemtoon.
Modise het ’n ten volle befondse begroting vir die 2025/26 fiskale jaar ter tafel gelê in ’n poging om finansiële volhoubaarheid en dienslewering te verbeter.
Die Nasionale Tesourie het die begroting formeel bekragtig wat beskou word as ’n prestasie vir die munisipaliteit wat voorheen deur finansiële onstabiliteit geteister is.
Modise het die begroting geprys as ’n keerpunt in Tshwane se fiskale bestuur.
Die begroting steun nie op eksterne lenings of geld leen nie wat Modise bestempel as “histories en ’n weerspieëling van verantwoordelike leierskap”.
Ondanks die feit dat die begroting met 113 stemme goedgekeur is, het opposisiepartye hul bekommernisse uitgespreek.

Die DA verwerp die begroting en sê die metro gebruik inwoners as “kontantkoeie”.
DA-raadslid Jacqui Uys benadruk dat die ANC in Tshwane steur hul nie aan die opposisie nie en het nog ’n strafbelasting op inwoners ingesluit.
Uys sê die plan is om elke inwoner wat nie die metro se vullisversamelaars kan bekostig nie teen R500 per maand te belas, deur hulle te dwing om R200 per maand te betaal in die vorm van ’n skoonmaakheffing.
“Private vullisversamelaars betaal reeds ’n fooi om die metro se stortingsterreine te gebruik en diegene wat van private diensleweraars gebruik maak, moet nou dubbel betaal. Diegene wat nie die metro se tariewe kan bekostig nie, sal gepenaliseer word omdat hulle arm is,” sê Uys.
“R20-miljoen is toegeken om ’n raadgewer te betaal wat die transaksies sal vergemaklik om die Rooiwal- en Pretoria Wes- kragstasies privaat te bedryf. Die fynskrif maak dit egter duidelik dat daar geen plan is om Tshwane van Eskom se 93x/kwA Wheeling tarief ontslae te raak nie,” sê Uys.
Sy sê geen onafhanklike kragverskaffer sal elektrisiteit kan verkoop teen die verlies wat hierdie tarief sal veroorsaak nie.
“Die adjunkburgemeester het in sy begrotingstoespraak gevier dat die waterprobleme van Ikageng iets van die verlede is. In Ikageng is die krane droog, maar daar is oral watertenkwaens. Die begroting het die Water en Sanitasie departement se watertenkwaensbegroting amper verdubbel.”
Terwyl Tshwane sy finansiële herstel navigeer, sal die doeltreffendheid van die toegepaste maatreëls en die administrasie se verbintenis tot billike dienslewering onder die loep bly.

Die EFF se Godwin Ratikwane het Modise geprys vir ’n verbeterde begroting wat direk aandag skenk aan die jarelange sosiale ongeregtighede wat deur gemeenskappe in die informele nedersettings geopper word.
Ratikwane sê die begroting “weerspieël ’n beslissende vertrek van die verwaarlosing van vorige administrasies en staan as ’n testament tot die party se verpligting om die gemarginaliseerde op te hef.
“Die ten volle befondse begroting wat deur die Nasionale Tesourie ondersteun word is ’n duidelike teken dat hierdie administrasie nie net leë beloftes maak nie, maar konkrete stappe neem vir transformerende verandering.
“Laat dit bekend wees dat die R1.7-miljard wat aan nooddienste toegeken is die departement sal laat herleef wat lankal verwaarloos is en die gemeenskap en die personeeltekorte aanspreek wat openbare veiligheid in gevaar stel,” sê Ratikwana.

ActionSA se Tshepo Modiba sê hierdie begroting is nie net ’n nakoming nie maar ’n plan vir inklusiewe ontwikkeling, dienslewering en versnelling en finansiële veerkragtigheid.
“Dit gee lewe aan dienslewering prioriteite wat ons as ’n kollektief gestel het. Dit is ’n begroting wat beide die wettigheid- en die visietoetse slaag.
“Ons erken dat die meerderheid van inkomste van diensgelde afkomstig is en ons versterk die maatskaplike pakket om die kwesbares te beskerm. Hierdie begroting verseker dat ons die balans tussen finansiële volhoubaarheid en sosiale verantwoordelikheid handhaaf,” sê Modiba.

Die VF Plus-raadslid Grandi Theunnissen verwerp die begroting en sê dit plaas finansiële druk op inwoners, besighede en eiendomseienaars.
Hy sê in plaas daarvan dat die begroting groei en stabiliteit bevorder, prioritiseer dit inkomste, onttrekking bo etiese bestuur, ignoreer dit ekonomiese realiteite en slaag nie daarin om finansiële geregtigheid te handhaaf nie.
“Die nuwe waardasierol veroorsaak dat eiendomswaardes gemiddeld met 24.17% gestyg het, ’n drastiese toename in munisipale belastingverpligtinge. Die metro beweer dat dit die impak teen 4% versag en die drempel van R150 000 tot R250 000 aanpas.
“Die omstrede skoonmaakheffing is onregverdig gerig op huishoudings en besighede wat nie staatmaak op munisipale vullisversameling nie en dwing hulle om vir dienste te betaal wat hulle nie gebruik nie. Hierdie heffing kom neer op dubbele belasting,” sê hy.
Modise sê die goedkeuring van die begroting deur die raad is ’n keerpunt vir Tshwane se finansiële bestuur en diensleweringsvermoëns.
“Die goedkeuring van hierdie begroting herstel geloofwaardigheid aan die stad se institusionele kapasiteit en stuur ’n duidelike boodskap dat Tshwane vorentoe beweeg met doel, dissipline en eenheid van visie.
“Hierdie uitkoms weerspieël uitgebreide werk agter die skerms, van raadsbetrokkenheid tot tegniese beplanning, alles in diens van die bou van ’n stad wat beter vir sy mense werk,” sê Modise.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
