SEB bring SA ekonomie op sy knieë – nuwe verslag
’n Nuwe studie deur die Free Market Foundation en die Solidarity Research Institute het bevind dat Suid-Afrika se weergawe van swart ekonomiese bemagtiging is die mees indringende en ekonomiese beskadigde weergawe hiervan.
’n Verslag wat op 12 Junie vrygestel is deur die Solidariteits Navorsingsinstituut (SNI) en die Free Market Foundation (FMF), het skokgolwe deur Suid-Afrika se politieke en ekonomiese landskap gestuur.
Die verslag lewer skerp kritiek op die land se Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagting (BBSEB) beleid en beweer dat dit aansienlike skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aanrig terwyl dit slegs ’n klein polities-verbonde elite verryk.
SEB was aanvanklik bekendgestel as ’n transformerende beleid wat daarop gemik is om die ekonomiese wanbalanse van apartheid reg te stel deur groter insluiting van swart Suid-Afrikaners in die ekonomie.
Die jongste bevindinge skets egter ’n ander prentjie, en benadruk ’n beleid wat ekonomiese groei belemmer, ongelykheid vererger en werkskepping tot stilstand bring.
Volgens die verslag, wissel die jaarlikse nakomingskoste vir SEB van R145-miljard tot R290-miljard, wat tussen 2–4% van SA se Bruto Binnelandse Produk (BBP) verteenwoordig.
Die enorme ekonomiese las het gelei tot ’n jaarlikse afname van die BBP-groei deur tussen 1.5–3%, met ’n gepaardgaande verlies van tussen 96 000 en 192 000 werksgeleenthede elke jaar.
Oor die jare het dit opgehoop tot ongeveer 3.8 miljoen verlore werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners.
“Hierdie groot ekonomiese koste is nie bloot net die gevolg van nalatigheid of die blote swak toepassing van ’n plan nie. Dit is ’n doelbewuste regeringsbeleid wat dit veroorsaak,” sê Theuns du Buisson, SNI-navorser en medeskrywer van die verslag.
“Dit is irrelevant wanneer iemand sê die beleid is bekendgestel met goeie bedoelings. Vandag dien dit as ’n meganisme om die elite te verryk ten koste van ons land se ekonomie en veral ten koste van die armste inwoners.”
Die verslag gee verdere besonderhede dat terwyl daar bietjie vordering gemaak is terme van swart-eienaarskap en vaardigheidsontwikkeling, hierdie winste swaar oorskadu word deur die nadelige gevolge van SEB.
Dit sluit in toenemende ongelykheid, elite kaping van beleidsvoordele, en wydverspreide ekonomiese stagnasie.
“Die beleid plaas ’n swaar las veral op kritieke sektore soos myn en finansies en dit belemmer buitelandse beleggings, moedig kapitaalvlug (vinnige vloei van bates of geld land uit) aan en versmoor tegnologiese vooruitgang.”
Suid-Afrika se ekonomiese stand op die wêreldtoneel het aansienlik agteruitgegaan en val nou agter ander lande met middel-inkomste, waarmee dit eens vergelykbaar was.
Die verslag lewer kritiek oor die gebrek aan fokus en doeltreffendheid in die toepassing van SEB-beleide, wat kontrasteer met meer suksesvolle regstellende aksie of bemagtigingsprogramme oorsee.

Du Buisson noem lande soos Brasilië en Amerika, wat begin het om soortgelyke rasgebaseerde ekonomiese beleide uit te faseer.
“Boonop, in ander lande, is regstellende aksie juis daar om te keer dat diskriminasie plaasvind, terwyl in Suid-Afrika dit diskriminasie verpligtend maak,” wys hy uit.
“Suid-Afrika moet die pad van ander lande volg en daarmee wegdoen. SEB het ’n instrument geword wat ’n klein, polities-verbonde elite bevoordeel en het lank gelede opgehou om ’n beleid te wees wat ’n minderbevoorregte gemeenskap te bekragtig.”

Connie Mulder, hoof van die SNI, beklemtoon die dringendheid van die saak: “Suid-Afrika kan nie bekostig om voort te gaan met hierdie pad nie. Die data is duidelik. SEB, in sy huidige vorm, beskadig die ekonomie en rig skade aan diegene vir wie dit veronderstel was om te help. Ons benodig beleide wat regte ekonomiese deelname bevorder en groei sonder raskwotas wat vooruitgang verlam.”
Die beroep op aksie van die skrywers van die verslag is vir beleidmakers om onmiddellik die huidige SEB-raamwerk af te skaf en dit te vervang met ’n beleid wat inklusiewe groei bevorder sonder om die ekonomie te belemmer.
“Ons benodig ’n ekonomiese omgewing waar alle Suid-Afrikaners, ondanks ras, die geleentheid het om by te dra en om te floreer,” sluit Du Buisson af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
