Leerders toegerus om lewe na skool aan te pak
Solidariteit het onlangs 'n bemagtigingsprojek in Pretoria aangebied wat 73 jongmense van vier kinderhuise die geleentheid gegee het om aan vaardigheidsontwikkeling, loopbaanadvies en netwerkgeleenthede deel te neem.

Tussen 30 Junie en 2 Julie het ’n groep van 73 leerders die geleentheid gekry om hulself bloot te stel aan die wêreld van studie en werk, danksy die Kinderhuis-bemagtigingsprojek van Solidariteit.
Hierdie verrykingsgeleentheid is aangebied vir inwoners van East Lynne se Jakaranda-kinderhuis, Groenkloof se Bramley-kinderhuis, en Villieria se President Kruger- en Paul Kruger-kinderhuise.
Die projek het ’n drieledige doelstelling gehad en wou die deelnemers nie net blootstel aan loopbaan- en studierigtings nie, maar wou hulle ook toerus met die nodige vaardighede, selfvertroue en netwerke om die lewe na hul skoolloopbane te betree.

Solidariteit-woordvoerder, Felicia Richardson, verduidelik dat die doel van die projek is ook om hierdie jongmense voor te berei op die oorgang van kinderhuis na die buitewêreld.
“Jy is nog ’ kind, maar word op 18 in die wêreld ingestoot en dit dikwels met niks agter jou naam nie. Ons projek poog om daardie oorgang van kinderhuis na onafhanklikheid sinvol te ondersteun,” sê Richardson.
Die deelnemers van die projek het toegang gehad tot verskeie waardevolle werksessies soos vaardigheidsontwikkeling, loopbaanadvies en toegang tot mense wat in die werkplek of op die akademiese pad suksesvol is.
Hulle het ook geleenthede gehad om inligting te ontvang oor verskillende studierigtings en vakleerlingprogramme wat hulle verder kan help om hul drome te verwesenlik.

Een van die grootste hoogtepunte van die projek was die insette van Albert van Wyk van die Maak My ’n Miljoenêr TV-program.
Hy het elkeen van die 73 leerders gratis entrepreneurskapsopleiding gegee.
Van Wyk se boodskap aan die jongmense was duidelik: “Jy hoef nie te wag vir iemand om jou te red nie. Jy kan self begin.”
Hierdie boodskap het die deelnemers nie net inspirasie gegee nie, maar hulle ook die nodige vaardighede om hul eie ondernemings te begin of nuwe loopbaangeleenthede te ontdek.
Die Skoleondersteuningsentrum het ook ’n belangrike rol gespeel deur gratis toegang tot die Wolkskool-platform aan die leerders aan te bied.
Hierdie platform bied waardevolle akademiese ondersteuning en sal die deelnemers help om in die klas die nodige prestasie te lewer totdat hulle klaar is met hul studies.
Volgens Richardson is die doel van hierdie inisiatief deel van ’n groter visie van Solidariteit.
“Ons wil hê hierdie kinders moet nie net oorleef nie. Hulle moet floreer,” sê sy. “Deur betrokke te raak, kan ons ’n verskil maak in die lewens van hierdie jongmense.”
LEES: Tee, toebroodjies en testamente: ’n Veilige resep vir seniors
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
