News

Elarduspark se nuusster steel die GROOT skerm

Janke Terblanche is die wenner van 2025 se GROOT Ontbyt Jong Nuusleser van die Jaar. Met haar passie vir nuus, redenaarskompetisies, en liefde vir kinders, is sy ’n inspirasie vir ander.

’n 11-jarige graad 6-leerling van Laerskool Elarduspark in Pretoria-oos is die wenner van die 2025 Die GROOT Ontbyt TV-program se Jong Nuusleser van die Jaar-kompetisie.

Met haar aansteeklike glimlag, positiewe geesdrif en ’n ywer om die wêreld te verander, het Janke Terblanche ’n diep indruk op die beoordelaars gemaak en haar plek as jong nuusleser verdien.

Janke het haar reis as nuusleser begin toe sy saam met haar ma Adrien en pa Albert ’n video van een minuut gemaak en dit ingestuur het vir die kompetisie.

Voor haar optrede as nuusleser is Janke Terblanche ‘n paar van die kunsies van mikrofoonbeheer deur Mayne Kasselman gewys.

Die Terblanche-familie, wat reeds ’n passie vir nuus het, het geen verhoogvrees gehad nie. “Ons hou van ’n Kan doen-houding,” sê Adrien.

Adrien sê dat Janke ook ’n goeie sin vir humor het.

“Janke het die nuus lankal in haar bloed,” sê Adrien wat in die eiendomsbedryf betrokke is. “Sy was al van kleins af by ons wanneer ons nuus gekyk het, en het elke dag saam met ons die wêreldnuus gekyk.”

Janke glo haar deelname aan die kompetisie is makliker gemaak deur haar liefde vir lees, veral haar gunstelingboeke, Saartjie-reekse en Dork Diaries.

Maar sy het ook ’n ander groot passie: redenaarskompetisies.

Adrien vertel hoe Janke dikwels haar inskrywings vir redenaarskompetisies oor en oor oefen.

“Sy druk altyd deur om iets te wen, of dit nou ’n boekwedstryd is of ’n prestasie by die skool,” vertel sy trots.

Janke se pad na die lewendige voorlesing van die nuus tydens Die GROOT Ontbyt se Jong Nuusleser van die Jaar-aankondiging was geen maklike taak nie.

Janke Terblanche se neus is voor haar optrede op die TV-nuus gepoeier deur grimeerkunstenaar Annelize Campher.
Janke Terblanche se eerste beurt as nuusleser is goed deur die kykers van Die GROOT Ontbyt ontvang.

Dit het week na week van voorbereiding en oefening vereis.

“Ek het geleer om alles op kaartjies neer te skryf en dit kaartjie vir kaartjie te memoriseer,” vertel sy. “Ek het altyd vir myself gesê: ‘Ek moet koel bly en voorbereid wees, want dit is wat jy nodig het om ’n goeie nuusleser te wees’.”

Die hoogtepunt van die oggend van die aankondiging was Janke se foutlose lees van die nuus en dit sonder enige woorde op ’n geheime skerm: als uit haar kop. Vir haar persoonlik was die hoogtepunt ook die wegstap met ‘n stewige pak produkte van PNA wat die kompetisie geborg het.

Haar kalmte en voorbereiding het haar werklik onderskei. Sy het met gemak en selfvertroue voor die kamera opgetree en die nuus soos ’n professionele nuusleser voorgedra.

Wat Janke egter regtig kenmerk, is haar onblusbare liefde vir die regte van kinders regoor die wêreld.

“Ek glo kinders moet regtig gesien word en die kans kry om hulself te wees,” sê sy met ’n glinstering van geesdrif in haar oë. “Ek wil hê kinders moet weet dat hulle saak maak, maar ook die kans moet kry om net kinders te wees.”

By skool is sy veral lief vir natuurwetenskappe en wiskunde, wat sy glo van haar ’n goeie denker kan maak.

Sy is ook ’n aktiewe jong sportvrou, wat hou van hokkie en tennis.

Sy is veral lief om klas te loop by haar gunstelingonderwysers, Danel Streicher en Lizelle Grove.

“Hulle maak alles so lekker en ek leer elke dag iets nuuts,” sê sy met haar kenmerkende positiwiteit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button