News

Mampoerfees: Stook, skink en smul!

By vanjaar se mampoerfees kon gaste na hartelus van stroopsoet likeur tot skop-in-die-maag mampoer beproef. Alles ter viering van ’n trotse plaaslike stooktradisie.

Daar is min Suid-Afrikaanse tradisies wat so ’n gevestigde karakter het soos die maak van skop-in-die-maag mampoer.

Een van die beste plekke om hierdie tradisie te ervaar, is by die jaarlikse Mampoerfees wat laat in Junie weer mampoerstokers asook families, vriende, en musiekgroepe bymekaar gebring het om die kultuur en leefwyse rondom mampoer, boeremusiek, en lekker boerekos te vier.

Vir Pretoria-wenner van die stokerskompetisie, Annelie Craill van die Moot, was die groei- en leerkurwe om ’n mampoerstoker te word ’n pad van ontdekkings.

Craill, wat vroeër as haarkapster gewerk het, het haarself gedwing om iets nuuts te begin toe sy die gebruik van haar duime verloor het.

“Ek het ongelooflik verveeld geraak,” vertel sy. “Ek het geweet ek moet iets begin doen om myself besig te hou.”

Só begin haar avontuur met die stook van mampoer.

In 2018 het sy die Kultuurstokersgilde van Suid-Afrika ontdek, ’n organisasie wat jaarliks ’n mampoer-kampioenskap soos die Mampoerfees hou.

Sy het besluit om aan te sluit en haar reis na die wêreld van distilleerwerk het begin.

In 2019 het sy haarself verder opgelei deur ’n distilleerkursus te voltooi, wat deur die bekende Lofty Ellis aangebied is.

Sy het die basiese kursus in die Distillasie van Witblits, Mampoer en Likeur voltooi.

Die Mampoerfees is een van haar hoogtepunte van die jaar. Mense van regoor die land kom om die beste mampoer, witblits en likeure te proe.

Sy het al dikwels gesukkel in haar voorbereiding vir enige van die feeste om die regte vrugte te kry, en as gevolg van Pretoria se warm klimaat is vrugte dikwels nie op hul beste vir die stook van mampoer nie.

Pieter van den Berg skud hande met ‘n wenner van Pretoria, Jaco Swan. Hy het die prys vir die beste opkomende stoker sowel as die beste appelmampoer gewen. Foto: Verskaf.

Dit het egter nie haar passie gekeer nie.

“Swak vrugte maak vir swak drank,” sê sy met ’n glimlag. “Ek koop nie vrugte om te stook nie. Ek kry dit van vriende wat dit vir my gee.”

Sy het haar eie beginsels vir suksesvolle stook: “Indien die vrugte lekker soet en mooi ryp is, dan is daar geen suiker of gis nodig nie. Met vrugte gebruik ek min tot geen suiker sodat die smaak van vrugte beter deurkom.”

Sy het ’n verskeidenheid van lekkernye in haar katalogus, insluitend haar beroemde piesangmampoer en boomtamatie-mampoer.

Die mengsel van haar passie en kennis het haar reeds ’n klaswenner vanjaar gemaak vir haar kersielikeur en roosblaarlikeur.

Terwyl sy haar voete in die wêreld van mampoer gevind het, het sy ook begin eksperimenteer met ander distillasies.

“Omdat ek sukkel om vrugte te kry, het ek begin met graan om whiskey te maak,” verduidelik sy.

Hierdie stap het nie net nuwe moontlikhede vir haar geopen nie, maar haar whiskey het selfs al in vorige jare die eerste plek behaal in die Mampoerfees-kompetisie.

Haar ervaring is ’n bewys van die passie wat die gilde se lede in die kuns van distilleerwerk belê.

Die toewyding rondom die handgemaakte proses, die gebruik van tradisionele koperketels, en die verskeidenheid van kreatiewe resepte wat ontstaan, glo sy maak ook jaarliks die Mampoerfees ’n hoogtepunt op haar kalender.

Sy voel die Mampoerfees by juis die Voortrekkermonument is nie net ’n kans om die beste mampoer te proe nie, maar ook om die kultuur van Suid-Afrika se plattelandse erfenis te bewaar.

“Elke bottel mampoer is ’n weerspieëling van jare van kennis en vaardigheid, wat van geslag tot geslag oorgedra word.”

Sy is ook trots op mede-stokers soos Hannes Pieterse van Pretoria-Noord wat eerste klaswenner vir die jaar vir Whiskey is en mampoerkampioenne van die jaar, Willem en Hendrik Marais van Steynsrus, sowel as die Witblitskampioen, Marijké Kleynhans van Jongensfontein.

Na die kampioenskappe gaan Craill vrolik voort met haar toerusting ingestel om nog wensopies te maak.

“Christo [haar man] het vir my ’n bittermooi ketel gekoop in Pelgrimsrus, maar die ketel se neus was vir my te klein en die verkoeler was ook nie groot genoeg nie. Louis Grove van DistellBrew het die ketel verander dat hy elektries werk, ’n groter neus ingebou en ’n Shotgun koperverkoeler gebou. Ek voel bederf en soos ’n koningin met my nuwe ketel. Dis harde maar lekker werk om te stook.”

– Belangstellendes wat by die Kultuurstokersgilde van Suid-Afrika wil aansluit, kan Craill skakel op 082 454 2161.

– Kliek hier om die fees te sien: https://www.facebook.com/reel/1961705114638734

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button