Nuwe TV-aanbieder steel reeds harte
“Ek moes myself ’n paar keer knyp om te besef dat dit nie ’n poetsbak-oproep was nie." - Lee-Ann Gerber, TV-aanbieder
Lee-Ann Gerber het die harte van kykers regoor Suid-Afrika verower toe sy haarself in die TV-realiteitsreeks Klein Paradys bewys het.
In Klein Paradys het die span gewen wat die indrukwekkendste, mooiste en mees praktiese mikro-woning kon inrig en daarin woon. Haar storie van oorlewing, moed en deursettingsvermoë het haar as een van Suid-Afrika se gunsteling realiteits-TV-persoonlikhede, gevestig.
Nou is sy gereed vir haar volgende avontuur, en dié keer is dit nie in ’n tent soos sy ’n maand lank in die werklikheidsreeks moes doen nie, maar onder die blink glansligte van die Fiësta TV-program.
As deel van Klein Paradys het Gerber en haar swaer Johann Gerber nie net die uitdagings van oorlewing in die veld hanteer nie, maar het hulle ook die hartsnare van Suid-Afrikaners aangeraak.
Toe hulle in die laaste episode van die eerste seisoen as wenners aangekondig is, het hulle die respek van kykers gewen en ’n stewige R1-miljoen in hulle sakke gesteek.
Hierdie oorwinning het die deur oopgemaak vir Gerber se volgende groot stap in haar loopbaan.
Fiësta is ’n program wat bekend is vir sy glans en opwinding, maar wat ook die kalklig op Suid-Afrika se ryk kultuur en mense plaas. Dit is nou al vir meer as tien jaar sinoniem met feeste in ons land, asook in buurlande soos Namibië.

Toe die span Gerber genader het om as mede-aanbieder aan te sluit, het sy vermoed dit is dalk ’n poets.
“Ek moes myself ’n paar keer knyp om te besef dat dit nie ’n poetsbak-oproep was nie,” sê Gerber.
Na ’n suksesvolle oudisie is sy tot haar verbasing gekies as die nuwe aanbieder.
Marius van der Wall, die vervaardiger van die program, het onmiddellik opgemerk hoe haar persoonlikheid die ideale pasmaat vir die program en ander aanbieders was.
“Fiësta is outentiek. Met die oudisies het Lee-Ann se egtheid as ’n mens so mooi deurgekom, en ons het gevoel dis wat ons op die program soek,” sê Van der Wall.
Volgens hom het sy die regte soort borrelende energie vir so ’n program oor feeste.
Haar vermoë om onder uitdagende omstandighede aan te pas, maak haar verder die perfekte kandidaat vir die pos.
“Die program mag glansryk lyk, maar ons skiet soms onder moeilike omstandighede. Die span moet ver reis, in vreemde beddens slaap, ure op die pad spandeer en duisende mense ontmoet. Jy moet taai genoeg wees daarvoor, en ons het gevoel sy het daardie toets al geslaag,” sê hy.

Vir Gerber is die vertroue wat die span en TV-netwerk in haar plaas nie iets wat sy as vanselfsprekend neem nie.
“Ek voel werklik bevoorreg en dankbaar,” sê sy.
Haar opgewondenheid oor haar nuwe rol is duidelik: “Ek sien veral uit na al die verskillende mense wat ek gaan ontmoet, om die dorpies waarvoor mense so lief is te besoek en om al die verskillende feeste in Suid-Afrika by te woon.”
Gerber se lewe is nie net beperk tot TV nie. Nadat sy haar dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het sy haar vlerke gesprei na die Verre Ooste, waar sy Engels onderrig het, en in die Midde-Ooste, waar sy as lugwaardin gewerk het.
Sy meen hierdie blootstelling aan verskillende perspektiewe het haar as persoon gevorm.
Sy het onlangs ’n binnenshuise ontwerpfirma begin. Haar fokus is om mense in hul aftrede te help om hul spasie te beplan sodat hulle die goue jare van hul lewe kan geniet en in harmonie leef.
Buiten haar besigheid is sy ook ’n natuurliefhebber. Sy leef haar passies uit op haar hoewe naby Pretoria, waar sy haarself besig hou met diere, plante, en selfs houtwerk.
Gerber benader alles wat sy doen met ’n gretige nuuskierigheid en opgewondenheid.
“Met moed, geloof in jouself, en die onblusbare begeerte om die lewe ten volle te leef, kan jy ver kom,” glo Gerber.
– Gerber maak haar debuut in Fiësta op Sondag, 6 Julie om 18:00 op kykNET.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
