News

“Uil-ouma” help nonnetjiesuile in biblioteektuiste

Die Universiteit van die Vrystaat se nonnetjiesuile wat hulle tuisgemaak het in die kampusbibioteek is ’n voorbeeld van stedelike wildlewebewaring, verbondenheid en verandering.

Hoog bo die rakke en stil lees- en leerareas van die Sasol Biblioteek aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein, ontvou ’n stille, maar betekenisvolle suksesverhaal van stedelike bewaring.

Sedert 2016 broei ’n paar nonnetjiesuile in die dakruimtes van die biblioteek. Hulle maak hul kuikens in die biblioteek groot en jag snags op die kampus.

Die uile het vir studente, personeel, navorsers en biblioteekgebruikers ’n onwaarskynlike simbool van ekologiese balans én interdepartementele samewerking geword.

Hul oorlewing in die stad in ’n ruimte soos ’n kampus is egter meer as net ’n aangrypende voorbeeld van stedelike wildlewe.

Die Sasol-biblioteek op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat spog met ‘n broeipaar nonnetjiesuile in die dak wat die kampus se knaagdierpopulasie laag hou.

Die uile daag ook die konvensionele idees oor akademiese ruimtes uit.

Die projek het werklik momentum gekry in 2023 toe ’n verswakte uil buite die biblioteek gevind is. Tanya Scherman van die Sentrum vir Onderrig en Leer was die eerste wat opgetree het.

“Dit het gelyk of die uil vergiftig is; waarskynlik sekondêre vergiftiging van ’n vergiftigde knaagdier,” verduidelik sy.

Een van die uile van die broeipaar nonnetjiesuile in die dak van die biblioteek op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Verskaf

Hierdie voorval het ’n plaaslike bewaringsinisiatief ontketen wat personeel, studente en navorsers betrek het.

“Ek het begin rondbel om kundige mense te kry wat kon help,” vertel Scherman. “Ek het met ’n plaaslike veearts, die Owl Rescue Centre in Pretoria, en professor Francois Deacon gesels. Ek wou weet hoe ons die uile op kampus veilig kon hou.”

Deacon, verbonde aan die Departement van Dierewetenskappe, het dadelik die potensiaal gesien.

“Ek is passievol oor stedelike wildlewebewaring, en dit was ’n uitstekende geleentheid, nie net om die uile te ondersteun nie, maar ook om studente praktiese ervaring te gee,” sê hy.

Hy en sy nagraadse studente, Ruan Higgs en Kaitlyn Taylor, het die uile se gedrag gemonitor en gehelp met die ontwerp van ’n geskikte nesstruktuur.

Hulle het ook ’n infrarooi veldkamera geïnstalleer wat beweging opspoor, om die uilgesin se aktiwiteit sonder versteuring op te neem.

Die bou van die nesstruktuur was egter vir Scherman iets persoonliks.

“Ek het saam met my pa daaraan gewerk. Hy’s net so lief vir diere soos ek. Ons het ’n naweek lank gesaag, geskuur en die nesstruktuur aanmekaar gesit volgens ’n aanlyn plan.”

Die nonnetjiesuile se nes op die Sasol-biblioteek se dak op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat word met ‘n deurlopende webkamera dopgehou. Foto: Verskaf

Met die hulp van Deacon se span is die vervaardigde nes op ’n plek waarvan die uile hou in die dakruimte geplaas.

“Dit was regtig ’n spesiale oomblik om saam met my familie te deel,” sê sy.

Vir haar het die projek ook kulturele betekenis.

“Uile word soms verkeerd verstaan met hul swewende vlug en geheimsinnige geluide,” sê Scherman. “Hulle is egter ook simbole van wysheid en beskermers in baie tradisies.”

Sy glo opvoeding is die sleutel tot begrip: “Ons moet leer om met respek saam met die natuur te leef, selfs in stedelike ruimtes.”

Vir haar was dit ook persoonlik. “My grootouers het ’n spesiale band met uile gehad. Hierdie projek het soos ’n huldeblyk gevoel. Toe ons die baba-uiltjies sien, het ek gevoel soos ’n regte ‘uil-ouma’,” lag sy.

Scherman en Deacon se pogings het gou vrugte afgewerp. In 2023 het die broeipaar twee kuikens suksesvol grootgemaak.

“Hierdie jaar het ons ses eiers gevind,” deel Scherman. “En tans sien ons drie kuikens.”

Volgens Deacon het die kamera ’n unieke venster oopgemaak na die voëls se wêreld.

“Dit dokumenteer voedingsgebeure, ontwikkeling van die kuikens, en selfs die ouers se gedrag. Hierdie tipe monitering is onskatbaar. Dit gee ons langtermyn-data sonder menslike inmenging.”

Hierdie data vorm reeds die basis van verskeie studentewerkstukke oor uil-dieet, groei van kuikens en hul voorkeur vir sekere nesmateriaal.

“Hierdie uile is leermeesters,” sê hy. “Hulle bring handboeke tot lewe vir studente wat ekologie, dieregedrag of volhoubare grondgebruik studeer.”

Nonnetjiesuile speel boonop ’n belangrike ekologiese rol. “’n Uilpaar kan honderde knaagdiere per broeiseisoen vang. Dit verminder ons afhanklikheid van gifstowwe,” sê Deacon.

“Bewustheid kweek respek,” voeg hy by. “As mense besef daar is ’n uilgesin bo hul koppe, verander dit hul gedrag. Ons vra dat daar nie hard gepraat of flitsfotografie naby die nesplek gebruik word nie. Selfs eenvoudige aksies soos om vensters snags toe te hou, help.”

Die baba uiltjies in die spesiale geboude uilhuis in die biblioteek se dak. Foto: Verskaf

Deacon sê die projek het nuwe verhoudings gebou. “Van bibliotekarisse tot wetenskaplikes, almal het saamgewerk.”

Hy hoop dit is net die begin van groter eko-bewustheid “Ons droom van groen korridors, dakbiodiversiteit, en projekte vir vlermuise en bestuiwers. Miskien sluit departemente soos Dierkunde en Plantkunde ook aan.”

Namate die projek gegroei het, het dit ook ’n simboliese betekenis gekry.

Prof. Vasu Reddy, die adjunk vise-kanselier van Navorsing en Internasionalisering sê: “Dit het ’n pedagogiese en bewarings-mylpaal vir ons geword.”

Vir hom wys dit hoe biblioteke kan transformeer: “Waar dit eens net as stil ruimtes gesien is, word dit nou ruimtes waar stilte en stories mekaar ontmoet. Die uile het ’n gesprek oor natuur, kennis en sorg aan die gang gesit.”

Soos die uile voortgaan om hul nes bo in die Sasol-biblioteek te versorg, daag hul teenwoordigheid die universiteit uit om sy ruimtes anders te sien as plekke waar kennis, natuur en deernis hand aan hand gaan.

Reddy sluit af: “Die uile het hulself genooi omdat hulle verward en bekommerd was. Ons optrede wys dat ons as universiteit met ’n hart reageer met empatie. Ons biblioteek huisves nie net boeke nie. Dit is ’n ekosisteem van omgee.”

LEES: Beweerde Mzansi Resorts-skandaal ontbloot ernstige vrae oor adjunkburgemeester

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button