Organisasie sê hul gaan voort om kameras by substasies in die Moot plaas
Die tyd vir politieke verskonings vir kragonderbrekings is verby meen ‘n burgerregte-organisasie. Die gemeenskap het daadwerklike optrede nodig, en dit begin met die beskerming van kritieke dienste: saam, of sonder die metro.
AfriForum het aangekondig dat hulle hierdie week begin met die installering van sekuriteitskameras by ’n hoërisiko-substasie in die Moot, met die doel om kabeldiefstal, sabotasie en vandalisme teen te werk.
Hierdie stap volg op voortdurende frustrasie oor die metro se versuim om kritieke infrastruktuur te beskerm ten spyte van verskeie pogings van die burgerlike organisasie se kant om saam te werk en gratis ondersteuning aan te bied.
“Ons gaan teen die einde van die tweede week in Julie ’n substasie in die Moot toerus met kameras wat aan ons hoofkantoor se operasionele sentrum in Centurion gekoppel is,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot-Pretoria Noord.

Hulle sal dan “daarvandaan enige misdaadbedrywighede in die substasie en daarrondom, soos met kabeldiefstal, kan monitor”.
Volgens Hemmens is hierdie projek deel van ’n groter inisiatief om infrastruktuur in Pretoria te beveilig, selfs al beteken dit dat die organisasie op eie koste en risiko moet optree.
Alhoewel AfriForum oor ’n memorandum van verstandhouding (MoV) met die metro beskik, sowel as oor ’n amptelike toestemmingsbrief van die metro, gedateer 3 Oktober 2024, word hulle steeds op grond daarvan weerhou om kameras te plaas.
Met die brief word hulle gemagtig om kameras aan te bring by substasies soos Garsfontein en Faerie Glen.
Toe beamptes van die organisasie met die toestemmingsbrief die metro se terreine in twee buurte wou betree om die kameras op te sit, is hulle verhoed, verduidelik Emmens.
Hy sien kans om voort te gaan met die projek in die Moot, al sou spanne van die organisasie ook vandeesweek toegang geweier word.
“Ons gaan ons regtig nie meer laat terughou deur die metro nie. Ons het ’n memorandum van verstandhouding en werk daarvolgens,” beklemtoon Hemmens.
Hy het na spesifieke voorvalle verwys waar AfriForum, ten spyte van skriftelike goedkeuring van die stadsbestuurder Johan Mettler, deur terreinpersoneel toegang geweier is.
’n Brief van AfriForum aan Mettler op 22 Mei spreek ernstige kommer hieroor uit: “Dit is betreurenswaardig dat, ondanks ’n formele memorandum van verstandhouding en ’n daaropvolgende geskrewe magtiging uitgereik deur u kantoor, AfriForum se spanne op die nippertjie deur munisipale amptenare toegang geweier is”.
Hierdie optrede ondermyn nie net die metro se eie beloftes nie, maar dui volgens die organisasie op ernstige administratiewe wanbestuur en ’n gebrek aan politieke wil om infrastruktuur se beskerming ernstig op te neem.
Pretoria se energie-infrastruktuur is onder druk. Voorvalle soos die Waltloo substasie-brand op 24 April en die Zwartkop-ontploffing op 20 Mei het groot dele van die stad sonder krag gelaat.
“Ons wil die gemeenskap se belange eerste stel en tans ly die gemeenskap onder kragonderbrekings as gevolg van kabeldiefstal en vandalisme wat met proaktiewe maatreëls verhoed kon word,” sê Hemmens.
Hy wys daarop dat wanneer ’n enkele substasie gesaboteer word, raak dit duisende huishoudings, besighede, hospitale en selfs waterinfrastruktuur.
Sonder elektrisiteit verswak sekuriteit, en misdadigers vind makliker toegang tot woonbuurte.
Die organisasie argumenteer dat hul oplossing nie net doeltreffend is nie, maar ook baie meer koste-effektief as die huidige model van die metro.
Terwyl die metro bereid is om meer as R230-miljoen aan sekuriteitswagte te bestee, het AfriForum kwotasies verkry waar drie substasies vir minder as R100 000 beveilig kan word.
AfriForum se operasionele sentrum in Centurion sal met buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en hul eie veiligheidspanne werk om vinnig op misdaad of vandalisme by substasies waar kameras gebruik word en dit uitgewys word deur bewegingsensors, te reageer.
Die organisasie beoog om teen die einde van Julie sekuriteitskameras by meer substasies op te rig, ondanks teenkanting of versuim van die metro om hul eie infrastruktuur te beskerm of saam te werk.
“Dis vir ons belangriker om nou vir inwoners verligting te gee as om langer op antwoorde van die metro te wag,” voeg hy by.
Die situasie is duidelik: die organisasie voel verplig om in te tree waar plaaslike owerhede faal.
“Dit is nie net ’n saak vir lede van AfriForum nie, maar vir elke inwoner van Pretoria wat basiese dienste soos elektrisiteit nodig het om hul daaglikse lewens voort te sit.”
Hemmens doen ’n dringende beroep op die metro om hul prioriteite te heroorweeg en begin saamwerk aan koste-effektiewe en volhoubare oplossings.
“Ons bly vasberade om in te tree waar die owerhede faal. Die metro kan nie aanhou om te talm nie. Hulle moet nou begin saamwerk met gemeenskapsorganisasies vir ’n veilige, volhoubare toekoms,” meen Hemmens. “Die bal is nou in die metro se hande. Hulle kan kies om ’n vennoot in oplossings te wees of ’n struikelblok wat tot groter krisisse lei.”
Metrowoordvoerder Lindela Mashigo het aan Rekord verduidelik die metro het ’n bestaande ooreenkoms met die organisasie.
“Die organisasie kan daarvolgens werk doen met die goedkeuring van departemente solank hierdie werk voldoen aan die metro se beleide en standaarde.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
