News

Moot eis Eskom-ingryping ná kragkrisis-petisie

Inwoners van die Moot, gesteun deur DA-LPW Leanne de Jager, het ’n petisie aan die Gautengse Wetgewer voorgelê oor voortdurende kragonderbrekings. Hulle eis Eskom-ingryping en volledige vervanging van die vervalle Koedoespoort-substasie, nie net tydelike herstelwerk nie.

Ná nege maande van bykans daaglikse kragonderbrekings het inwoners van die Moot geduld verloor en het hulle saam met die DA ’n formele petisie aan die Gautengse Provinsiale Wetgewer oorhandig vir die Petisiekomitee om te oorweeg.

Goedkeuring is deur die komitee verleen aan die gemeenskap om by Eskom aan te klop om tot hul redding te kom.

Die petisie se fokus was die vervalle Koedoespoort-substasie, wat nie net opsigself bykans daagliks faal nie, maar feitlik daagliks iewers in die netwerk of by die substasie ineenstort en so die gemeenskap in ’n kragkrisis dompel.

DA-lid van die Wetgewer, Leanne de Jager, het die petisie namens die gemeenskap aan die wetgewer se petisiekomitee voorgelê in die eerste week van Julie en goedkeuring is verleen om met die aanbevelings voort te gaan.

Volgens haar vereis die toestand in Koedoespoort-substasie en netwerke wat daardeur bedien word, meer as gewone onderhoud.

“Wat hier gebeur is nie meer net ’n kwessie van instandhouding nie. Dit is nou ’n volle infrastruktuurkrisis,” meen De Jager. “Die Koedoespoort-substasie en netwerk daarrondom is disfunksioneel. Dit moet óf volledig opgeknap óf heeltemal vervang word. Die koste hiervan kan miljoene, indien nie biljoene rande nie, wees.”

Die Moot het oor die afgelope nege maande feitlik elke dag een of selfs twee kragonderbrekings beleef. Ná die aanvanklike ineenstorting van Koedoespoort-substasie sowel as die brand op 16 Junie 2023 en die verval van netwerke daarrondom, het verskeie gekoppelde substasies ook begin faal.

Hierdie petisie deur woedende inwoners van die Moot het binne twee uur 500 handtekeninge getoon op 29 Maart.

In die petisie maak die inwoners ernstig beswaar teen die byna tien dae wat baie van hulle, veral in Môregloed en Queenswood, dae sonder krag moes verduur.

Die krag is eers op 31 Maart in meeste van die areas herstel, met individuele geboue soos Huis Hersfblaar, woonstelblokke in Queenswood en individuele huise wat steeds sonder krag teen die einde van die maand gesit het.

Die petisievoerders het vereis dat onmiddellik aandag aan die kritieke situasie gegee word.

Die petisie is deur inwoner Gillian de Gouveia begin wat besluit het genoeg is genoeg.

Aan die einde van Maart het Moot-inwoners saamgestaan om ‘n petisie te onderteken. Inwoners Gillian de Gouveia en Frans Slabbert (links en tweede van links) handig ’n petisie oor aan Leanne de Jager, Anru Meyer, en Adriana Randall. Foto: Verskaf.

Sy het die DA gevra om in te tree en te help om ’n ondersoek te loods om ’n volhoubare oplossing te vind.

“Die gemeenskap is steeds desperaat. Nie veel het verander nie,” sê De Jager. “Ons mense het letterlik moeg geraak vir hierdie stuk-vir-stuk-laswerk. Daar is geen sekerheid, geen stabiliteit nie en geen oplossing van binne die munisipaliteit self nie.”

Volgens De Jager het die metro begin probeer om oplossings te bied, insluitend die oprig van alternatiewe kraglyne wat terug na Koedoespoort lei en ander onderhoudpogings.

Volgens haar is hierdie pogings onvoldoende en onvolhoubaar.

“Die metro probeer om ’n plan te maak, maar die realiteit is dat hierdie kragstasie nie meer net onderhou moet word nie. Dit moet van vooraf gebou word.”

Die petisie wat aan die Gautengse Provinsiale Wetgewer voorgelê is, vra vir onmiddellike Eskom-betrokkenheid.

De Jager het bevestig dat die DA aanbeveel het dat ’n formele versoek aan Eskom gerig word vir tegniese hulp en ’n terreinbesoek aan Koedoespoort.

“Ons het gevra dat die nasionale kragvoorsiener self moet kom kyk wat die omvang van die skade is en wat gedoen moet word om die stasie in ’n werkbare toestand oor die langtermyn te bring. Ons wil nie hê die sisteem moet elke paar dae weer inmekaar stort nie.”

Die Gautengse Provinsiale Wetgewer het op 8 Julie die petisie formeel aanvaar. Volgens De Jager is dit die eerste stap in ’n veel groter proses.

“Hierdie probleem lê nie meer binne die munisipale bevoegdheid nie. Die vervanging van ’n hele substasie is iets wat op provinsiale vlak en met Eskom se hulp hanteer moet word.”

Volgens De Jager wys die Moot-petisie dat gemeenskappe wat soortgelyke probleme ervaar, ook hul stem op provinsiale vlak kan laat hoor.

“Elke voorstad in Gauteng wat sukkel met verouderde kraginfrastruktuur het die reg om hierdie roete te volg,” sê sy “Maar dit beteken nie beheer word oorgedra van die metro na die provinsie nie. Dit gaan bloot oor die vlak van ingryping wat nou nodig is.”

Die petisie vra onder meer dat Eskom formeel die Koedoespoort-stasie inspekteer, die volle omvang van opgraderings bepaal en ’n kosteberekening verskaf.

Die DA verwag dat Eskom binne die volgende paar maande terugvoering sal gee oor watter minimum ingrypings nodig is om dienslewering te stabiliseer.

“Ons sal nie vrede maak met minimale opknapping of tydelike herstelwerk nie,” sê De Jager. “Die mense van die Moot verdien ’n volhoubare oplossing. Ons wil krag hê. Nie verskonings nie,” sê De Jager.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button