Kleuterskooljuffrouens leer hoe om te floreer in hul werk
Meer as 50 onderwysers het bymekaar gekom om kinders in hul fases van ontwikkeling tot negejarige ouderdom te bespreek.
Die tema van vanjaar se vroeë-kinderontwikkelingsimposium was “Lê jou grondslag reg en floreer”.
Die simposium is deur die Afrikaanse Onderwysnetwerk by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie se uitvoerende sentrum aangebied met Wilna van Rooyen van die netwerk.
Dr. Elda Thiart het ook tydens die geleentheid 56 onderwysers toegespreek wat met kinders van Pretoria en omliggende areas tot negejarige ouderdom werk.
“Die unie bied gereeld sulke geleenthede aan vir persone uit Pretoria en omgewing, wat kleuterskole besit of in kleuterskole werk,” verduidelik Maryna Besseling, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie,

Sprekers wat die onderwysers opnuut geïnspireer het, was Lizette van Huyssteen wat oor duidelike grense en riglyne gepraat het wat geborgenheid skep. Corné Kotzé het gesels oor hoe daar slim met musiek in die klaskamer gewerk kan word.
Elrika Beukes van Big Tree Therapy het wenke gedeel oor hoe jou sensoriese samestelling jou juffrou-skap beïnvloed. Janetta van Niekerk, skoolhoof van Laerskool Die Krans in Pretoria-oos, het ’n vrolike en opbeurende praatjie gegee oor hoe die lewe vir elke kind ‘ja’ sê.
Die organiseerder, Tharina Erasmus, glo die tema was “nie net treffend nie, maar ook diep inspirerend en relevant vir elke opvoeder. Ek het dit veral waardeer dat die tema nie net op professionele ontwikkeling gefokus het nie, maar ook op die dieper menslike en geestelike elemente van begeleiding”.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
