News

Riool vanaf East Lynne-probleemhuis is ‘afstootlik’

’n Onwettige bouprojek in Meeustraat veroorsaak daaglikse riooloorstromings in bure se erwe en laat inwoners moedeloos. Inwoners eis dringende optrede teen die gesondheidsgevaar en verval in die buurt.

Inwoners van Meeustraat in Jan Niemandpark in East Lynne is ontstoke oor die onwettige konstruksie en inwoners op ’n perseel wat daartoe lei dat riool vanaf die eiendom se grense na nabygeleë eiendomme onderdeur heinings asook straat-af loop.

“Elke dag is daar riool wat vanaf die erf in ons erf invloei,” sê ’n inwoner in die area. “Dis afstootlik.”

’n Ander inwoner het aan Rekord gesê dat die konstruksie op die perseel voorlopig gestaak is.

Dit volg nadat burgemeester dr. Nasiphi Moya ’n besoek aan die perseel afgelê het en sy beloof het om ’n hofbevel teen die eienaar vir die onwettige konstruksie te kry.

Die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, het op versoek van inwoners die onwettige aanbouings op ‘n erf in East Lynne besoek. Foto: Verskaf

Die inwoner sê egter dat die eiendom in die interim ’n reuseprobleem is.

Volgens ’n buurman is die eiendom reeds so toegebou dat dit duidelik is dat die eienaar by voltooiing aan meer as 50 mense huisvesting in die aparte kamers op die terrein sal kan plek gee.

“Hierdie gedeelte van East Lynne is oud en daar is nie voorsiening gemaak dat die infrastruktuur in Meeustraat skielik soveel ekstra las ten opsigte van water, krag, rioolafvoer en vullisverwydering sal kan hanteer nie,’ glo die buurman.

“Dit is ’n nagmerrie. Dit lyk soos ’n informele nedersetting langs ons,” meen ’n inwoner.

Die inwoner sê die probleem is vererger deur ’n gedeelte van die nuutgeboude eenhede en aanbouings bo-oor ’n rioolafvoerpyp gebou is.

Volgens die metro is die pyp verstop en kan herstelwerk nie daaraan gedoen word nie.

Inwoners probeer ‘n plan met skerms maak teen riool wat vanaf ‘n erf in hul eiendomme instroom. Foto: Verskaf

Die gevolg is dat die riool in die nuutgeboude erf ophoop en oorloop in die straat en tot in die erwe langs die sogenaamde probleemhuis.

Volgens inwoners in die onmiddellike omgewing van die huis, is daar reeds een inwoner wat sy huis op die mark geplaas het as gevolg van die deurlopende stank wat vanaf die erf kom. Daar is ander inwoners wat ook beoog om te verhuis.

’n Inwoner wat reeds met haar gesondheid probleme het, voel die onhigiëniese omstandighede rondom die riool dra by tot haar toenemende slegte gesondheidstoestand.

“Ek het longprobleme wat met die nat riool in ons erf vanaf die erf langsaan net vererger,” glo sy.

Raadslid Freddie Pienaar sê die eiendom in Meeustraat is ’n probleem ten opsigte van onwettige aanbouings sonder goedgekeurde planne.

Hy voeg egter by dat hy reeds agt jaar lank in die buurt ’n stryd voer oor soortgelyke ontwikkelings waar planne nie ingedien word nie en behuising verskaf word.

Nadat hy die spesifieke klagte oor Meeustraat ontvang het sowat twee maande gelede, is dit na Streek Ses se bestuur geëskaleer en het dit momentum gekry na die burgemeester se besoek op versoek van inwoners.

“Tans is die saak hangende, maar ’n aansoek van die metro om die bouery by wyse van ’n hofbevel te staak sal eersdaags aangehoor word,” sê Pienaar.

Gerugte doen die rondte dat die eienaar wel vir hersonering van die eiendom aansoek gedoen het soos wat ’n bou-inspekteur aan van die inwoners verstrek het

Pienaar bevestig dat so ’n aansoek se sukses nie gewaarborg is nie, aangesien die area net vir residensiële doeleindes gemerk is en ’n beperkte aantal mense ’n perseel mag bewoon.

“Ek probeer nou al vir talle jare om ’n projek deur die metro ingestel kry waar ons die hele East Lynne van erf tot erf deur kan gaan.”

Die aantal wooneenhede wat op ‘n erf in East Lynne gebou is sou nooit volgens die regulasies van die metro goedgekeur wees nie, glo inwoners. Foto: Verskaf

Dis sodat hulle kan sien “watter bywette oortree word deur eienaars ten einde regstellings te maak en die buurt en eiendomme se voorkoms net weer op te knap”.

Pienaar voel dat erwe waarop te veel mense wederregtelik woon, ’n gevaar vir die buurt inhou aangesien die hele buurt onveiliger raak deur die toestroming van mense.

“Die aansoek vir ’n hofbevel teen die eienaar van die eiendom in Meeustraat is ’n stap in die regte rigting. [Dis] om te verseker dat die hele buurt nie ontaard in ’n area waar ontwikkelaars net doen wat hulle wil op erwe en areas wat nie die infrastruktuur het om die bykomende las te dra nie.”

Pienaar sê dat die burgemeester tydens haar besoek onderneem het om toe te sien dat die konstruksie voorlopig beëindig sal word. Dit terwyl ’n ondersoek ingestel word of planne ontvang en goedgekeur is en dat aandag aan soortgelyke onwettige konstruksie in die buurt aangespreek word.

“Ek dink ons kan moed hieruit skep dat daar oplossings is wat wel ingestel kan word.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button