Jong kunstenaar met ou siel skyn opreg
Juaney Nieuwoudt oftewel Zonnebloem, ’n 16-jarige sanger van Pretoria, bring vars hoop en liefde met haar alternatiewe Afrikaanse musiek. Met haar debuutbenoeming vir ’n Afri-Indie-toekenning, straal sy geloof, uniekheid en opregtheid uit.
In die Afrikaanse musiekwêreld is daar soms ’n stem wat sag én sterk deur alles breek en wil lééf in mense se harte.
Juaney Nieuwoudt se stem het onlangs haar verskyning gemaak op die Afrikaanse musiektoneel, en haar verhoognaam is so digterlik soos haar sang: Zonnebloem.
Die 16-jarige kunstenaar van Pretoria-oos, is onlangs benoem vir haar heel eerste Afri-Indie toekenning in die kategorie Beste Pop Enkelsnit (Onder 18).
Hierdie erkenning beteken vir haar veel meer as net roem.
“Om genomineer te word vir my heel eerste enkelsnit is iets wat nog steeds onrealisties voel,” sê sy opgewonde. “Ek wil hê mense moet voel wat ek voel as ek sing. Hierdie nominasie beteken dat mense regtig luister en dat dit iets in hulle aanraak.”
Met haar unieke styl, liefde vir die natuur, en diep geloof is Zonnebloem ’n kunstenaar wat nie probeer wees soos iemand anders nie: sy blom heeltemal op haar eie manier.
Haar musiekreis het nie begin op verhoog of in ’n ateljee nie, maar eerder in ’n liefdevolle huis tussen familie en vriende wat haar eerste gehoor was.
“Ek het nog altyd gesing, maar net vir my mense. Jy weet mos, jou familie sê altyd jy sing mooi,” lag sy.
Dit was egter eers in 2024, toe sy begin video’s op TikTok deel en regstreeks begin optree het, dat sy werklik besef het haar stem het ’n wyer gehoor.
“Die terugvoer was ongelooflik. Mense het my aangemoedig en my laat glo dat daar iets spesiaal in my is.”
Die verhoognaam “Zonnebloem” is nie lukraak gekies nie.
“My oom het my gebel en gesê die naam het net in sy gedagtes opgekom. Dit was liefde met die eerste aanhoor van die naam,” vertel sy.
Toe sy die betekenis van die woord ontdek – geloof, hoop en liefde – het dit soos ’n teken gevoel.
“Dis presies wat ek wil uitdra. Dis wie ek is, en dis wie ek wil wees vir ander.”
Haar musiek, soos haar naam, is diep gewortel in emosie. Haar debuut-enkelsnit “Weet, weet jy” is ’n voorbeeld van hoe sy klank en betekenis verweef.
Die liedjie, geskryf met die hulp van Roelf Fritz van Zondagkraal, is geïnspireer deur die platteland, liefde en, natuurlik, sonneblomme.
“Maar vir my is dit meer as net ’n mooi prentjie. Dis daai plek en daai persoon wat vir jou rus bring.”
Sy beskryf haar kreatiewe proses as iets wat sy nooit alleen aanpak nie. “Ek sê altyd almal het ’n bydrae,” sê sy.
Zonnebloem se lirieke is deurspek met temas van geloof, hoop en liefde: temas wat diep met haar eie lewe verweef is.
As ’n jong student in teologie, met ’n droom om ’n Christelike berader te word, sien sy haar musiek as ’n verlengstuk van haar roeping.
“Ek wil musiek gebruik om lig en liefde te bring waar dit dalk verlore gegaan het. Mense het nie altyd antwoorde nodig nie. Soms net ’n liedjie wat hulle laat onthou wie hulle is.”
Sy beskryf haarself as “bietjie van ’n hippie en lief vir diere, die natuur, en alles wat werklik voel. Ek droom dikwels in beelde van berge en bome as ek skryf. Dis waar my hart tuis is”.
In ’n era waar musiek dikwels oor styl en sensasie gaan, is Zonnebloem se opregtheid welkom.
Sy is nie bang om anders te wees nie. Trouens, sy glo dis haar grootste krag. “Ek sê altyd: hoe meer uniek, hoe beter. Ons is almal geskape om te skyn op ons eie manier.”
Skyn doen sy inderdaad: nie net soos ’n sonneblom wat na die lig draai nie, maar soos een wat self lig uitstraal.
– Die toekenningsaand van die SA Onafhanklike Kunstenaar Musiektoekennings (oftewel Afri-Indie-toekennings) vind op 5 Augustus in die AfriForumteater plaas.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
