News

Kuns en kreatiwiteit vloei deur Pretoria skilder se are

Van muurskilderye en uitstallings tot intieme kunswerkswinkels, hierdie Pretoria kunstenaar bewys dat kreatiwiteit nie net ’n passie is nie, maar ook 'n lewenswyse.

Pretoria-kunstenaar Rici Allison (70) hoop dat haar lewenslange passie vir skilder ander kan inspireer, terwyl sy haar kreatiewe wêreld met haar man en familie deel.

Haar reis, wat begin het om ’n kindervriend se deur te skilder, tot kunsuitstallings was vir die kunstenaar ‘energiek en diepvervullend’.

Haar mees onlangse projek is ’n selfportret gevul met kleur, tekstuur en ’n energie wat haar persoonlikheid weerspieël.

Sy verduidelik dat sy dit saam met haar seun in die studio geskilder het en beskryf die stuk as ’n weerspieëling van haar lewenslange liefde vir kuns.

“My persoonlikheid is kleurvol, vriendelik en gelukkig. Ek is lief vir tekstiele en teksture, en ek wou daardie gevoel in my selfportret voortbring,” vertel Allison.

“Dit gaan nie net oor die beeld nie. Dit gaan daaroor om die emosie daaragter uit te druk.”

Vir Allison, is skilder ’n getroue metgesel sedert haar kinderjare.

Sy is in Vereeniging gebore en in Pretoria getoë waar sy ’n kunshoërskool bygewoon het voordat sy tekstiel-ontwerp by die Technikon in Pretoria (nou bekend as TUT) gestudeer het.


IMAGE: Supplied
Rici Allison se kunswerk genaamd “Abundance”

IMAGE: Supplied
Rici Allison se kunswerk genaamd “Rags to Riches”

Haar liefde vir kreatiwiteit het haar Duitsland toe geneem, waar sy verskeie jare by ’n kunsakademie in Hamburg gestudeer het.

“Ek het nog altyd kuns geasem,” verduidelik sy, en sê dat haar kreatiwiteit verder as haar eie doeke strek.

“Ek leer mense stap-vir-stap hoe om te skilder, en ek hou daarvan om te sien hoe hulle hul eie kreatiwiteit ontdek,” sê sy.

Sy glo skilder is nie slegs oor kuns nie, maar ook om mense ’n vreugdevolle en opbouende ervaring te gee.

Allison sê haar kreatiewe energie vloei in elke aspek van haar lewe, en dat kuns nie net iets is wat sy doen nie, maar ook iets wat definieer wie sy is.

Sy bedryf ’n kunswinkel by House of Superior Clothing in Brooklyn, waar sy stap-vir-stap kunsgeleenthede en maandelikse kuns-en-vlytwerkswinkels aanbied.

Saam met haar man, Stephen, ’n mediese dokter en voormalige simfonie-orkesmusikant, het sy muurskilderye geskep en rekwisiete ontwerp vir geleenthede by hul trou-venue, Duck and Dine, in Arcadia.

IMAGE: Supplied
Pretoria kunstenaar Rici Allison met een van haar skeppings.

Hul kreatiewe vennootskap het ’n belangrike deel van hul lewe saam geword.

“Ek het ’n vriend se voordeur geskilder toe ek my man vir die eerste keer ontmoet het. Hy was destyds haar GP en het oorgekom vir ’n kuiertjie,” sê Allison.

“Ons het gou ontdek dat ons beide lief is vir die kreatiewe wêreld. Hy is ongelooflik talentvol en as gevolg van sy werk as ’n oogarts, het hy merkwaardige handkoördinasie. ”

Allison sê haar man help haar dikwels om die muurskilderye en rekwisiete te maak, en sê dat kunssinnigheid diep in hul familie ingewortel is, aangesien albei hul seuns kunstenaars is.

Een van hul seuns besit ’n galery in Kaapstad en die die ander een skilder groot muurskilderye vir ’n groot restaurantgroep.

“My familie is vol kreatiewe mense,” sê sy en voeg by dat haar dogter ’n professionele danser is wat in Hong Kong woon.

“Selfs my man, al is medisyne sy beroep, deel hierdie liefde om kreatief te wees met my.”


IMAGE: Supplied
Rici Allison en haar man.

Ten spyte van haar sukses, erken Allison dat ’n kunstenaar kom nie sonder sy uitdagings nie.

“Dit is nie ’n maklike loopbaan nie. Dit kan moeilik wees om mense te kry om dit wat jy probeer uit te beeld, met hulself te vereenselwig,” sê sy.

Haar passie is egter om mense op te bou en om hulle te wys dat enigiets moontlik is hou haar gemotiveerd.

Sy moedig aspirantkunstenaars aan om nooit hul drome op te gee nie. “Kuns gee meer as wat jy ooit kan droom.

“Dit word jou vriend, jou sielsmaat, jou doel. Dit gaan nie oor geld nie maar oor wat dit vir jou siel bring.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button