News

Noodbystanddiens vra inwoners om hulp te verleen om lewens te red

Die span is ’n groep vrywilligers sonder winsbejag wat nooddienste bystaan.

Vrywilligers van die Noodondersteuningspan (EST) vra dat inwoners by hul aansluit in hul pogings om lewens te red.

Dit kom nadat hul nooddienspersoneel die lewe van ’n voetganger verlede maand gered het wat deur ’n voertuig in Daspoort in Pretoria-Wes getref is.

Die organisasie sonder winsbejag is in 2019 geregistreer, al het lede die gemeenskap sedert 2015 onder ’n ander naam bedien.

Stigter en direkteur, Xander Loubser, sê EST is tot stand gebring toe hy besef het dat daar ’n behoefte aan nooddienste binne die gemeenskap was, aangesien hy ’n geregistreerde paramedikus by Best Care is.

“Hierdie is nie soseer ’n gereguleerde bedryf nie en die naaste regulasies wat jy sou vind is die noodbestuurdienste wat in 2017 uitgereik is, en dit is spesifiek vir mediese nood- en ambulansdienste.

“Ons wil seker maak dat enigiets wat die gemeenskap doen nie uiteindelik misbruik word nie.

“Dis nie ’n nooddiens nie maar ’n nooddiens-ondersteuningspan, of dit nou ambulanse, sekuriteit of brandweer is.

“Ons span eerste hulpverleners het die nodige kennis en kwalifikasies om hulp aan bestaande nooddienste te verleen,” sê Loubser.

Hy verduidelik dat die organisasie slagoffers bystaan totdat hulle mediese aandag kan bekom.

Loubser voeg by dat die span nie genoeg mense het nie, en dat hulle nie by alle noodgevalle kan uitkom nie.

Hy beklemtoon dat alhoewel daar ’n behoefte is aan hierdie tipes organisasies, dat hulle op wettige en amptelike wyse bestuur moet word.

EST-vrywilligers mag nie rooi ligte of sirenes aan hul voertuie hê nie, en voertuie moet geregistreer word, Vrywilligers moet ook korrek geklee wees wanneer hulle op noodgevalle reageer.

“Mense moet daarby inkoop om ’n verskil te maak.

“Ons hulpverleners doen alles uit hul eie sak, en al die fondse wat ons van ons kant af insamel, word in benodigdhede belê.

“Weggooibare benodigdhede soos verbande, spalkverbande en brandskerms, sowel as suurstofafleweringsdienste, en dit kos alles geld.
“So, ons ondersteun ons lede deur toerusting aan hulle te voorsien waar ons kan, maar meeste van die lede gaan ’n stap verder en koop hul eie.

“Hulle maak seker dat hul benodigdhede het soos noodkegels, veiligheidsligte, uniforms – alles wat geld kos.

“Die duurste, dink ek, vir enige organisasie wat dit deesdae doen, is brandstof. Hulle kom by noodtonele uit, indien hul in staat gestel is om by ’n sekere plek uit te kom, dan is die mannekrag daar en kan hulle ’n verskil maak,” sê Loubser.

“Na die laaste kwart van die maand neem aktiwiteite onder die lede af.”

Die span is besig om ’n Payfast-rekening op te stel, waar maandelikse bydraes gemaak kan word wat onder andere gebruik sal word vir benodigdhede, brandstof en mediese stelle.

Vrywilligers verleen hulp by die tref-en-trapongeluk. Foto: Verskaf

Loubser sê ambulansdienste word dikwels misbruik, aangesien nie elke situasie ’n geval van lewe of dood is nie.

“Byvoorbeeld as iemand op die straat lê met maagpyn is dit nie ’n lewensgevaarlike situasie nie.

“Indien die persoon pyn vir verskeie dae verduur, ja, dan moet ons hul menswaardigheid in aanmerking neem, maar jy kan nie verwag dat die ambulans daar binne vyf minute sal wees nie.

“Die ambulans wat binne vyf minute kom, is vir iemand wat se hart gaan staan het of nou net verdrink het of verbrand het. Mense moet dit verstaan.

“Staatsnooddienste en selfs private nooddienste sal nie binne vyf minute by sulke gevalle wees nie, waar die pasiënt vir die ambulans mag wag.

“Dit is waarom EST so belangrik is, omdat hulle die pasiënt kan help terwyl hulle vir die ambulans wag,” sê Loubser.

Motoriste word aangeraai om die padreëls te respekteer, veral oor naweke, aangesien die span sê dat hul dan bystand moet gee by veel meer motorongelukke as gedurende die week.

Vrywilligers wat by ’n tref-en-trapongeluk uithelp. Foto: Verskaf

EST het nie ’n 24/7-noodlyn nie, en hul bystand hang af of daar vrywilligers beskikbaar is.

Inwoners word gemaan om meer betrokke te raak by hul gemeenskappe deur forums, groepe en ander inisiatiewe.

Loubser meen dat laasgenoemde noodsaaklik is om noodgevalle te vermy en, as daardie wél ontstaan, om vinniger daarop te reageer.

“Betrek jou eenvoudig by jou gemeenskap. Jy ken jou gemeenskap beter as enigiemand anders, beter as die diewe wat inbreek, beter as kuiergaste, dus raak betrokke. Weet wat by jou bure aangaan en stel noodprosedures in plek,” sê hy.

“Ons werk in Pretoria en is op meeste gemeenskaps-WhatsApp-groepe oraloor, meeste van ons direkteure deel telefoonnommers indien nodig, Namate wat ons gevalle kry en monitor, sonder om spesifiek daaraan toegewy te wees, sal ons opdaag wanneer ons beskikbaar is.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button