News

Pretoria-denkers kry spesiale toekennings by Dink-of-Sink

Met sterk verteenwoordiging van Akademia en die Universiteit van Pretoria het plaaslike deelnemers hul staal gewys teen topspanne van Stellenbosch – en boonop twee spesiale toekennings huis toe gebring.

Pretoria-studente het hul stem dik gemaak en hul debatvernuf gewys toe hulle aan AfriForum se landswye Dink of Sink-kompetisie deelgeneem het.

Twaalf spanne van onderskeidelik StudentePlein Metakampus van Stellenbosch, Dagbreek-manskoshuis van Stellenbosch, die Universiteit van Pretoria en Akademia het mekaar die stryd aangesê.

Ná ’n naelbyt-finaal tussen StudentePlein 1-span en StudentePlein 2-span het laasgenoemde as wenners uit die stryd getree.

Verder is daar ook vier spesiale toekennings aan verskeie studente toegeken, onder meer twee van Pretoria: Die D.F. du Toit-prys vir navorsing aan Elsomé Thuynsma (Akademia 1) en die Arnoldus Pannevis-prys vir die “Wooden Bell” aan Hanco Stone van die Universiteit van Pretoria.

Studenteplein is ’n organisasie waarvan die lede hulle op die Stellenbosch-kampus vir die regte van Afrikaans beywer.

Megan Jones, Simoné Shirley, Isabella Burgers en Megan Kruger van StudentePlein 2 het koning gekraai, terwyl StudentePlein 1 se Righardt Pretorius, Ignus Ferreira, Neelsie van Dyk en Stephan Ehlers as naaswenners van die kompetisie aangekondig is.

Die kompetisie het op 17 Julie met ’n sosiale geleentheid afgeskop waarna die spanne die daaropvolgende dag in die uitdunrondes en Saterdagoggend in die uitkloprondes by Hoërskool Montana deelgeneem het.

Die finaal het Saterdagaand tydens ’n gala-geleentheid by Akademia se Leriba-kampus in Centurion plaasgevind.

AfriForum-woordvoerder, Nicolene Müller, verduidelik vanjaar se mosies het gefokus op politiek, regte, ekonomie, filosofie en taal.

Die spanne het voor elke ronde slegs een uur gehad om hul argumente voor te berei.

“Die vlak van analitiese denke en retoriese vaardigheid wat deelnemers tydens die debatte ten toon gestel het, getuig van die uitsonderlike gehalte van akademiese debatvoering onder ons jong leiers,” sê Müller.

Die finale mosie was: “Hierdie huis glo dat die prioritisering van Engels as lingua franca in Suid-Afrika ’n voortsetting van koloniale hegemonie is, ten koste van ware meertaligheid en kulturele regverdigheid”.

Dit het gesorg vir ’n debat wat die gehoor op die punte van hul stoele gehad het.

LEES: Ex-police officer and three others remain behind bars for alleged murder of popular Pretoria DJ

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button