News

Moot Meander beeld prestasies van drie jaar uit

Die leiers skryf die sukses van die projek toe aan talle faktore soos opofferinge, leierskap en die gemeenskap se bereidwilligheid om saam te werk.

Die Moot-projek het die totstandkoming van die projek drie jaar gelede en die prestasies daarvan gevier deur ’n kaart, Die Moot Meander, saam te stel sodat daar met een oogopslag na die omvang van die projek gekyk kan word.

Die opstel van die grafiese oorsig was lank beplan. Marlize van der Westhuizen het nou met die uitleg ’n oorsig gegee van meeste groot projekte wat die projek sedert Julie 2022 aangepak het.

“Dit was een van die lekkerste projekte wat ek in ’n lang tyd aangepak het. Baie dankie vir die geleentheid. Ek wens ek kon elke liewe projek – groot én klein – op die kaart sit, maar ek sou ’n groter bladsy nodig hê!” vertel Van der Westhuizen.

Johan Oberholster, mede-stigter van die projek, kyk terug na die hoogtepunte van die drie jaar en sonder veral die areaverteenwoordigers se bydraes uit.

“Hulle maak groot opofferings aan tyd om dinge te organiseer en te laat gebeur. Om ’n skropsessie te reël verg groot beplanning en tyd agter die skerms en dis nie altyd sigbaar nie en word ook nie altyd waardeer nie. Baie brandstof word uitgery en oproepe gemaak om seker te maak dinge verkoop glad op so ’n dag. Baie mense en besighede gee deurlopend finansiële bydraes en sommige besighede gee tot R5 000 per maand vir straatskoonmakers se salarisse. Baie besighede verskaf items wat ons nodig het teen groot afslag ten spyte van moeilike ekonomiese omstandighede. Dis werklik ’n riem onder die hart om te sien hoe mense saamwerk om hul gemeenskap op te hef,” sê Oberholster.

Hy sonder ’n paar aspekte van die projek uit soos die verf van die vyf treinbrûe onder leiding van ’n plaaslike kunstenaar en die hulp van ander plaaslike kunstenaars (spesifiek die Pierneef- en Esther Mahlangu geïnspireerde brûe). Die opgradering van die groot poort tot die Moot by Queens Quarter en Queens Corner en die Moot Slothuispark met sy wandellaan was ook hoogtepunte.

“Dis net so wonderlik om te sien watter fantastiese mense in die Moot woon en dat hulle bereid is om hande uit te steek en te help waar hulle kan,” meen hy.

Hy wys daarop dat alhoewel die struikelblokke grootliks oorkom is, het die oorspronklike ywer om die gemeenskap en besighede betrokke en entoesiasties te kry, heelwat tyd in beslag geneem. Om redelike samewerking met die metro op dreef te kry, het ook heelwat moeite gevat en tyd in beslag geneem.

Een uitdaging deurgaans is “die feit dat die meeste werk herhalend van aard is, soos skoonmaak, wat heeltyd moet gebeur, en mense wat heeltyd aanhou mors en soms opsetlik ’n area bemors”.

Hy het weer ’n beroep op die Moot se inwoners en besighede gedoen om die 20m sypaadjie reg voor hulle huise deurlopend skoon en netjies te hou.

“So kan ons die Moot binne ’n baie kort tyd verder transformeer na ’n topwoongebied. Dis ons woongebied, Tshwane is ons stad en die munisipaliteit kom duidelik nie by alles uit nie. Dit help nie om te heeldag en aldag te kla nie, steek jou hande uit en doen selfs iets kleins net voor jou huis of besigheid,” versoek Oberholster.

Hy moedig inwoners aan om rondom hulle te kyk na geverfde lamppale, kragbokse en gesnoeide bome en geverfde brûe.

“Die Moot van vandag lyk vir seker totaal anders as drie jaar gelede. Die verbeteringe stem mense amper onwetend meer positief en plaas gereeld glimlagte op Moot-mense se gesigte. Mense wat van buite die Moot kom, noem gereeld aan ons dat dit amper is of mens in ’n ander stad inry as mens oor Gordonweg in die Moot inry. Volgens hulle is die verskil, relatief tot ander gebiede in die stad, werklik opmerklik en bemoedigend.”

Die Moot-projek het talle gebiede in die buurte met kleiner en groter projekte verfraai, verbeter en veiliger gemaak oor die drie jaar wat die projek bestaan en het onlangs ‘n grafiese voorstelling, die Moot Meander, rondom die projek se verbeteringe aan die buurte gepubliseer sodat mens met een oogopslag die werk van drie jaar na waarde kan skat. Voorstelling: Marlize van der Westhuizen.

Hennie Mostert, medestigter van die projek, sê vir hom is dit ’n hoogtepunt om met ongelooflike mense uit die gemeenskap saam te werk.

“Die Moot Projek is die gemeenskap wat omgee en wat opoffer. Dis ongelooflik om te sien dat mense opofferinge maak en niks terug vra nie. Al die resultate van elke skrop of skoonmaak elke dag, laat mens trots voel en is elkeen elke keer ’n hoogtepunt.”

Vir Mostert is die grootste struikelblok dat mense nie die projek se siening deel om in ’n skoon, netjies en ordelike omgewing te bly nie.

“Vir party mense maak dit eenvoudig nie saak nie. Ons het oor die jare baie hard daaraan gewerk om daardie ingesteldheid te verander by die publiek. En is baie dankbaar dat baie mense saam ingespring het met dieselfde doelwitte. Ongelukkig sal daar altyd mense wees waaragter mens moet skoonmaak. Daar is mense en besighede wat groot en klein gee en opoffer. Vir ons maak dit nie saak hoe groot of klein nie. As jy iets vir jou gemeenskap doen, dan het ons respek vir jou en wil saam jou die pad stap.”

Hy glo nie daar is iets soos ‘ek kan nie’. Hy skryf ook die projek se sukses toe aan al die leiers wat hul kant bring.

“Die resep is om van voor te lei. Goeie leiers lei deur hul dade, nie hul woorde nie. Ons glo nie in baie praat en vra nie. Ons identifiseer probleme en takel dit dan. Dis ons motivering ook aan elke Moot-inwoner. Mense hou van en volg doeners en nie praters nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button