Kabeldiefstal, misdaad en verval teister wyk
Raadslid Leon Kruyshaar waarsku teen ernstige dienslewerings- en misdaadprobleme in Wyk 1 en areas daarrondom insluitend gereelde kabeldiefstal, kragonderbrekings, onwettige koppelings, en infrastruktuurverval. Misdaad neem toe, inwoners verloor geduld, en die metro se stadige reaksie veroorsaak groot ongerief.
In die hart van Pretoria se noordwestelike woongebiede heers daar ’n diensleweringskrisis – nie net van kragonderbrekings en diensleweringsprobleme nie – maar van toenemende misdaad, infrastruktuurverval, en ’n algehele gevoel van verwaarlosing.
DA-raadslid Leon Kruyshaar waarsku dat inwoners se geduld op is en dat sommige elektrisiteitsnetwerkstelsels selfs op die rand van ineenstorting is.
Kruyshaar verteenwoordig Wyk 1 insluitend die buurte Capital Park, Roseville, Eloffsdal en Les Marais sowel as Hercules en die omgewing.
“Die probleem begin by ondergrondse kabeldiefstal,” sê Kruyshaar. “In April alleen is daar verskeie voorvalle in my wyk aangemeld. Soms twee per dag. Substasies word oopgebreek en selfs elektriese meters op eiendomme word oopgeforseer om die koperdrade te steel.”

Hierdie dade van vandalisme het verreikende gevolge. Inwoners sit soms vir tot twee dae sonder elektrisiteit, week na week.
Kruyshaar verduidelik dat wanneer die kabels naby substasies afgesny word, herstelwerk bemoeilik word omdat die betonvoetstukke oopgekap moet word. Hierdie kapwerk kan die herstelproses met tot vier dae vertraag.
Volgens hom is die langsame herstelwerk deur die metro veral frustrerend aangesien die metro onlangs sy diensleweringsnorme verander het van 26 tot 28 uur na meer as 90 ure vir probleemoplossing.
Hierdie nuwe sisteem gee die metro langer tyd as vantevore na die aanmelding van ’n probleem om ’n oplossing vir diensleweringsprobleme te vind en in werking te stel.
“Met die hoeveelheid aangemelde voorvalle van kabeldiefstal, kom die metro ook nie eens dikwels by die res van die diensleweringsprobleme uit nie,” sê Kruyshaar.
“Die metro word veral so toegegooi met kabeldiefstal in ons omgewing dat ons nie eens met die basiese dienslewering kan byhou nie.”
Op 25 Julie om 12:20 is ’n kragonderbreking byvoorbeeld aangekondig wat Mountain View, Suiderberg en Lady Selborne sonder elektrisiteit gelaat het.
Met ’n besoek van Rekord aan twee substasies in die gebiede, was geen van die deure van die substasies gesluit nie en vandalisme kon dus maklik plaasvind.
Die impak van kragonderbrekings soos hierdie is ernstig: nie net vir huishoudings nie, maar vir groot besighede in die noordwestelike areas, insluitend nywerhede soos Distell, koeldrank-aanlegte en staalvervaardigers.


Party is genoodsaak om duur kragopwekkers aan te skaf en met diesel wat ook duur is aan die gang te hou, terwyl ander eenvoudig nie kan voortgaan met produksie nie.
Volgens Kruyshaar help ProShield-sekuriteit wel uit die goedhartigheid van die bestuur se harte gratis met patrollies rondom substasies indien hulle in die omgewing patrolleer. Maar die werklikheid is dat kabeldiefstal steeds elke tweede of derde dag plaasvind, veral in die fabrieksomgewings en naby informele nedersettings soos Gomorrah.
Wat hom werklik ook pla, is die mate waartoe hierdie kabeldiewe presies weet waar om te grawe.
“My vraag is: Hoe weet hulle presies waar die kabels is? Die moontlikheid bestaan dat hulle inligting van kontrakteurs kry wat juis die herstelwerk moet doen. Dit moet ondersoek word.”
Hy stel ’n bekostigbare oplossing voor: “Ek wil hê die stadsraad moet ondersoek instel na ’n sekuriteitstoestel van R2 000 wat op die elektrisiteitsnetwerk soos op die kabels geplaas kan word. Sodra iemand die kabels of substasie aanraak, skakel dit onmiddellik ses selfone met GPS-koördinate. Dan kan ons vinniger teen kabeldiewe en vandaliste optree.”

Die probleme in die noordwestelike wyke en buurte soos Capital Park en die Moot strek egter veel verder as net elektrisiteit.
Die groei van informele nedersettings soos Gomorrah, wat sedert 2008 van ’n klein groepie tot meer as 20 000 inwoners gegroei het, lei tot onwettige kragkoppelings en infrastruktuurvernietiging. Dit plaas ekstra druk op ’n reeds oorbelaste sisteem.
“Die metro het 12 nuwe hystoestelle gekry om ligte reg te maak gekry volgens die burgemeester, maar nog geen een is in my wyk deurlopend aan die werk gesien nie,” voeg Kruyshaar by.
“En as jy kyk na die proses om oortyd te magtig vir enige nood-onderhoud en -herstelwerk van die metro se kant, dit vat eenvoudig te lank. Dit maak nie sin nie. As jy die ongerief van die inwoners in aanmerking neem, is dit duidelik dat die stelsel gestroomlyn moet word.”
Volgens hom is misdaad in die noordwestelike en Moot-areas soos Capital Park ook aan die toeneem.
Volgens statistieke van die polisieringsforums in sektor 3 en 4 is daar ’n skerp styging in huisbrake en motordiefstalle, veral in gebiede soos Daspoort en Claremont waar straatligte buite werking is.

In Capital Park, vertel Kruyshaar, is dit ’n daaglikse stryd teen kabeldiefstal en oortredings van stadsverordeninge.
“Oorhoofse kabels word amper daagliks gesteel. Die probleem is veral nie die oorhoofse kabels in die straat nie, maar waar daar nog oorhoofse kabels tussen die straat en die woning of gebou self is.”
Vir Kruyshaar is dit ook lank nog nie die einde van die uitdagings in hierdie areas nie.
“Eiendomme word opgekoop en ombou tot kommunes of besighede in soneringsgebiede wat uitsluitlik vir enkelwoning residensiële gebruik bedoel is. Veral in gebiede rondom Paul Krugerstraat word residensiële eiendom gebruik vir besighede. Geen soneringsaansoeke word daarvoor ingedien nie.”
Hierdie verontagsaming van bywette lei tot ander probleme.
In Roseville en Eloffsdal word swaar vragmotors van meer as vyf ton daagliks deur nou woongebiedstrate gestuur.
Inwoners het reeds ’n petisie hieroor aan die petisie portefeuljekomitee van die metro oorhandig, wat goedgekeur is en verkeersbeheerborde is aangebring deur die metro sowel as die inwoners. Kruyshaar meen veel meer optrede deur die metropolisie is egter nodig om die probleem op te los.
Nog ’n brandende saak in hierdie area is die talle klagtes van onwettige koppelings aan krag-, water- en rioolnetwerke.
“Veral die rioolkonneksies veroorsaak blokkasies. Bou-inspekteurs moet dringend meer gereeld besoek aflê by persele om te verseker dat regte prosesse gevolg word,” sê Kruyshaar.
Hy sluit af: “Dit is die werklikhede. Dienslewering in Tshwane verswak daagliks. Inwoners begin praat van belastingbetalersverenigings en weiering om belasting te betaal. Ek kan dit nie goedpraat nie. As die metro tot niet gaan, baat dit niemand nie. Maar die inwoners se frustrasie is regtig. Ons veg daagliks vir verbeterde dienste, maar dit voel asof die stadsraad net eenvoudig nie omgee nie. Die inwoners verdien beter.”
Kommentaar is van die metro aangevra maar nog nie teen druktyd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
