News

Ryk verlede belowe volhoubare toekoms vir SA Noodhulpliga

Die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga het gegroei van ’n behoefte aan Afrikaanse onderrig in noodhulp tot ’n kultuurbeweging. Deur die dekades het dit ’n betroubare naam geword in gesondheidsonderrig, met rangtekens en uniforms wat trots deur jonk en oud gedra is.

Op 22 Augustus vier die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga (SANL) hul 90ste bestaansjaar, ’n besonderse mylpaal in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse burgerlike diens en gesondheidsonderrig.

Die geleentheid word by die Centurion Teater in Lyttelton Manor gevier, simbolies naby die plek waar die organisasie se hoofkantoor ook gesetel is.

Hierdie geleentheid is nie net ’n terugblik op nege dekades van dienslewering nie, maar ook ’n viering van opleiding en gemeenskapsdiens.

Een van die mees gesiene figure in die liga se geskiedenis is sonder twyfel prof. Oppel Greeff, wat reeds 52 jaar aan die liga verbonde is in verskeie hoedanighede. Tans is hy president van die liga.

“Die organisasie was op sy grootste in die laat tagtigjare en vroeë negentigerjare, toe baie mense aangesluit het as deel van die burgerlike beskermingsbeweging,” vertel Greeff. “Hierdie hoë ledetal was vir my ’n hoogtepunt. Ek het in daardie tydperk maklik meer as 46 000 sertifikate aan lede uitgedeel.”

Hy skryf die liga se volhoubaarheid en groei toe aan aanpasbaarheid en toewyding aan opleiding: “Soveel Afrikaanse organisasies het verdwyn, maar die liga het bly bestaan omdat ons kon aanpas. Ons is vandag ’n mededingende organisasie, toegespits op opleiding.”

Hy is ook trots op die talle handleidings wat die liga sedert 1938 uitgegee het.

“Ons handleidings het ’n groot bydrae tot ons sukses gemaak. Verder glo ek ons nederigheid en wortels op voetsoolvlak het ons laat oorleef. Ons was nog altyd diensgerig, en dit is ’n resep vir volhoubaarheid.”

Uit sy eie pen het daar reeds twee belangrike werke verskyn: Gevorderde Noodhulp Handleiding van die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga en Wees Paraat! Handleiding van die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga vir Praktiese Noodhulp.

Die wortels van die SANL strek terug na die vroeë 1930’s. In 1932 het George A. Nezar die idee van ’n Afrikaanse noodhulpliga voorgestel: ’n voorstel wat steun gekry het van die invloedryke H.J. Klopper.

Die eerste Afrikaanse St. John-afdeling het reeds in 1933 ontstaan, en in 1935 is die liga amptelik gestig.

Die eerste tak is in Bloemfontein geopen. Slegs ’n jaar later is die eerste noodhulpwedstryde gehou en werk aan ’n Afrikaanse handleiding aangepak.

Die jaar 1938 was ’n belangrike jaar: die eerste Transvaalse tak is gestig en die liga het deelgeneem aan die simboliese Ossewatrek, wat die Groot Trek herdenk het.

Dieselfde jaar is ook die eerste Afrikaanse noodhulp-handleiding uitgegee: ’n baanbrekerprestasie vir die bevordering van Afrikaans as onderrigtaal in die veld van gesondheid en noodhulp.

Voor: Marina Basson en Hélène van Wyk. Agter: Prof. Oppel Greeff en dr. Neville Vlok. Foto: Verskaf

Teen 1942, ondanks die uitdagings van die Tweede Wêreldoorlog, was daar reeds 340 takke met meer as 6 600 lede landswyd.

In 1943 is die liga as ’n welsynsorganisasie geregistreer, en ’n jaar later is noodhulp en volksgesondheid as verpligte vakke aan onderwyskolleges ingevoer. Hierdie stap het die organisasie se impak verder versterk.

Die liga se kwartaalblad Gesondheid het in 1946 begin verskyn, en in 1954 is ’n junior handleiding vir jonger lede gepubliseer.

Tussen die 1960’s en 1980’s het die liga voortgegaan om sy materiale, uniforms en kentekens te verbeter, wat bygedra het tot ’n sterk en trotse organisasie.

Volgens die liga se hoof operasionele beampte, Hélène van Wyk, sluit die grootste mylpale van die afgelope 90 jaar ook in die 1944-invoering van noodhulp as verpligte vak aan die Normaalkollege in Bloemfontein, en die Stigting van ’n Instituut vir Volksgesondheid in 1945.

Sy is trots daarop dat die liga deesdae steeds verskeie vorme van noodhulpopleiding aanbied: van basiese en intermediêre tot gevorderde noodhulp.

Die liga bied ook noodhulpbystand tydens sportgeleenthede en ander gemeenskapsgeleenthede.

Verder verkoop hulle ook noodhulpstelle, en fokus op die verspreiding van die nuwe Afrikaanse handleiding, wat deel van die 90-jarige feesvieringe vorm.

Volgens Van Wyk bly dit belangrik om “steeds relevant te wees in ’n veranderde wêreld met baie riglyne en ons wil dit in Afrikaans bly doen”.

Sy voeg by: “Ons is trots dat ons vir só lank staande gebly het, en dat ons steeds met hardwerkende, toegewyde mense werk. Alles is ook deur die genade van die Here.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button