News

Pretoria-snuffelneuse landwyd helde

By 'n honde-opleidingsentrum net buite Pretoria is dit meer as net hondeopleiding wat tel. Dis 'n gemeenskap van mense en diere wat elke dag saamwerk, leer en groei om landwyd veiligheidswerk te gaan verrig met respek, dissipline en 'n hele paar hondesnoete op die grond.

Dis amper soos om oor ’n gesoute polisie-legende te praat.

Xavier (11), een van Genesis K9 Group se betroubaarste Malinois-werkshonde, is nog nie reg vir die rusbank nie.


Gershwin Rhode is ‘n munisipale hondehanteerder van die Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap wat by die honde-opleidingsentrum meer kom leer het om ook met honde wat perlemoen by stropers moet uitruik, te werk. By hom is Xavier. Foto: Elize Parker

Christine Voorendyk, opleier by die opleidingsentrum, lag as sy vertel: “Xavier wil glad nie aftree nie. Jy kan sien hy wil nog werk. As hy agterkom ons is besig om te oefen, probeer hy sommer self by die aksie inspring. Ons het al telkens probeer om hom op pensioen te plaas, maar hy word so neerslagtig, ons trek hom maar weer in!”

Dis hierdie tipe lojaliteit en werksetiek wat die span honde uitstaande maak.

Dit lyk ook asof hoe kleiner die pote, hoe groter die harte.

Nie al die honde by die opleidingsterrein net buite Pretoria is van die Malinois-ras met intense werkdrang en spierkrag nie.

Flower, ’n vrolike Springer Spanjoel, en haar Spanjoel-span, bring ’n sagte balans tot die span.

“Hulle is van geboorte af hier,” vertel sy. “Hoewel ons nie teel nie, was dit waardevol om die werpsel van kleins af hier te hê. Dit help ons met hul sosialisering en blootstelling. Die ma was ook eers hier totdat hulle gespeen kon word.”

Die spanjoele word veral gebruik in skole of plekke waar mense dalk bang kan wees vir groter honde.

“Hulle is kleiner, vriendeliker op die oog, en baie maklik om in beperkte ruimtes te gebruik. Kinders is dikwels meer gemaklik met hulle,” voeg sy by.

Henri Fourie en Christine Voorendyk met Flower. Foto: Elize Parker

Hierdie Pretoria opleidingsentrum dien ’n wye verskeidenheid instansies. Van privaat studente tot veiligheidsmaatskappye en tot SANParke se veldwagters wat leer om hier hondehanteerders te word.

“Ons werk ook saam met verskeie munisipaliteite soos Mosselbaai en Hermanus,” sê sy. “Die perlemoen-opsporingshonde speel ’n groot rol in die beskerming van ons natuurlike hulpbronne omdat hulle teen stropers ingespan word.”


Christine Voorendyk en Quick by die reukpype waarmee inprenting van reuke tydens opleiding gedoen word. Foto: Elize Parker

Daar is tans tussen 60 en 70 honde op die terrein, alhoewel die getal wissel soos honde uitgaan na werkspersele of terugkeer vir heropleiding.

En ja: hulle kan lekker weglê!

“Gemiddeld tussen 20–25kg kos per hond per maand,” sê sy.

’n Dag in die lewe van ’n K9-hond by die opleidingssentrum, begin vroeg. Studente en personeel maak die hokke skoon. Nie sommer net vinnig nie, maar deeglik en volgens streng standaarde. Daarna volg oggendsessies van opleiding wat bytwerk, reukopsporing en spoorsny insluit.

Teen 11:00 is dit ontbyt en dan rus die honde. Hulle werk nie ’n uur voor of ná etes nie, juis om gesondheidsredes. Middagsessies duur van 13:00 tot 16:00, en dan kry die honde weer kos. Elke Vrydag is dit dipdag teen parasiete.

Opleiding is nie net oor opdragte nie.

“Ons eerste prioriteit is altyd die hond. Dis iets wat ons die studente van dag een af leer: Maak nie saak wat gebeur nie, jou hond kom eerste.”

Dis geen verrassing dat die Malinois-ras so ’n groot deel van talle K9-opleidingseenhede se sukses is nie. Hulle is slim, lojaal, atleties, en gebore vir werk. Hul sensitiewe aard en intense fokus maak hulle ideale spanmaats in stresvolle situasies.

“Hulle is egter nie vir almal die ideale hond nie. Sonder struktuur en werk raak hulle vinnig angstig of destruktief. Dis hoekom goeie opleiding en hantering so belangrik is.”

Laastens, en dalk een van die belangrikste rolle, snuffel sommige van die honde vir springstof wanneer geboue en motors ondersoek moet word.

Die hond word spesifiek geleer om die reuk van ’n stof soos springstof te herken en word “ingeprent” daarop. In plekke soos lughawens, stadion-omgewings of strategiese punte, maak hul oplettendheid die verskil tussen veiligheid en gevaar.

Henri Fourie en Brewer. Foto: Elize Parker

Vir dié honde is een van die grootste belonings na ’n dag of paar ure se harde werk om hul speelgoedbal te kry.

“Ons werk volgens die Verenigde Nasies se voorskrifte, en hulle verkies ’n Kong, [wat dien] beide as ’n inprentingshulpmiddel en as beloning. ’n Kong is ’n rooi rubber hondespeelding met ’n kenmerkende reuk. Die honde is mal daaroor!

“Ons werk op positiewe beloning, wat beteken dat jy die hond beloon as dit ’n taak of instruksie reg uitvoer. Natuurlik verkies ons om die honde te beloon met iets wat hulle graag mee wil speel, en hulle is mal oor ’n Kong!”

Xavier hou nog in sy semi-aftrede ook van sy speelbal. Daar is net een bevel wat hy nie wil gehoorsaam nie en dis: “Xavier, dis tyd om af te tree!”

Dis bes moontlik omdat hy weet soos die res van die hondehelde by die opleidingsentrum: Jy los nie jou span nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button