News

Sonnekus byt terug

Vroeër vanjaar is Zaan Sonnekus se musiek van alle stromingskanale verwyder. 'Skree' is sy antwoord daarop.

“Try dié een delete,” daag alternatiewe rocker Zaan Sonnekus jou uit aan die begin van sy nuutste enkelsnit “Skree”.

Vroeër vanjaar is Sonnekus se musiek van alle stroomkanale verwyder. Sy stem is letterlik gesnoer.

Dit was klaarblyklik die poging van platemaatskappy Vonk Musiek om hom te straf oor sy ongetekende kontrak. Sonnekus was nie gelukkig met die ooreenkoms nie.

So ’n skuif kan rampspoedige gevolge vir kunstenaars inhou, aangesien hul staatmaak op stromingsyfers om gigs en toere te onderhandel. As hul musiek nie op die stromingskanale is nie, word hul inkomste, sigbaarheid en uiteindelike loopbaan in die wiele gery.

Om jou teenwoordigheid op stromingskanale te verloor moet vir ’n musikant voel asof jy saam met jou musiek letterlik en figuurlik vermink word.

Op Facebook het Sonnekus gesê: “Dit voel nog steeds onwerklik… om te dink al die liedjies is weg – soos om my hart met kaal hande uit my bors te ruk.”

Vir hom was die ervaring só erg dat dit hom teruggeneem het toe sy ma gesterf het. Van die afgehaalde musiek is juis geskryf as genesing toe hy besig was om haar dood te verwerk.

“Sal jy my eers kan hoor as ek my stem verloor?” sing hy op “Skree”.

“Trek my in, sluit my uit. Sagte honde, harde byt.

“Sal jy my dan hoor as ek skree? Ek raak hoog op wat jy my gee,” sing hy verder.

Videogrepe in “Skree” wys Sonnekus en sy band wat die sogenaamde bad boy rock-leefstyl uitleef.

Na Vonk se ekstreme aksie, het die maatskappy en sy paadjies geskei, maar Sonnekus het nie toegesien dat hy of sy musiek afgetakel word nie.

“Ons kom terug. Self. Sterker. Vry,” het hy op sosiale media gesê.

“Hulle het gedink dis die einde van die storie. Maar ek’s nog hier. Nuwe musiek op pad. En daai ou song? Ek bring dit terug. Beter. Harder. Met nuwe klank.”

Zaan Sonnekus Foto: Facebook

Hy is terug op die toneel as onafhanklike kunstenaar wat nou self sy eie musiek vervaardig in sy Son Studios, met behulp van medevervaardiger Kyle Botha. ‘Zaan’s version’ sê dit aan die begin van sy video’s.

Die enkelsnit gee hier uiting aan sy persoonlike credo – om homself rou en onbeperk deur sy musiek uit te druk.

Om te skreeu, beteken vir hom bevryding. Hy glo jy kan nie stilgemaak word as jy die waarheid nastreef nie.

En Sonnekus moedig al sy aanhangers aan om ook op te staan teen die stelsel.

As jy na sy Facebook-bladsy gaan, word jy gevra om saam te ‘Skree’. “Al my songs is terug. Jy staan nooit terug vir enigiemand nie. Staan altyd op vir wat jy glo,” deel hy.

Kliek hier om die video te kyk:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button