NewsScience

‘Slim’ klaskamers maak deure oop

Interaktiewe tegnologie help kinders beter leer, betrek ouers, en bemagtig onderwysers en wys kleiner skole kan steeds ’n groot impak maak.

Die dae van krytborde is nou besig om plek te maak vir tegnologie wat klaslokale omskep in dinamiese leeromgewings.

“Vandat ek in die onderwys en ook verlede jaar hier by Laerskool Pierneef in die Moot begin het, was dit altyd my droom om seker te maak dat leerders uit ’n laerskool by enige hoërskool en ook in die latere lewe sal kan aanpas.”

Só sê Stephan Thompson, hoof van Laerskool Pierneef.

Hierdie soeke na aanpasbaarheid is presies wat hy en sy personeel deesdae uitleef deur die oorgang van tradisionele bordkryt na digitale, interaktiewe witborde in die klasse van die skool onder die koeltebome waar meer as 700 leerders nou op ’n nuwe manier onderrig word.

“Ek het gou agtergekom dat hierdie interaktiewe borde wonderwerke vir kinders se klasleer kan doen na ’n demonstrasie by ’n onderwysvereniging. Dis nie meer ’n geval van raai wat juffrou probeer teken of skryf nie. Hulle kan nou duidelik sien, volg en verstaan,” sê Thompson.

Vir hom gaan dit nie net oor tegnologie nie, maar oor toegang.

“Hoe lekkerder dit is om te leer, hoe beter doen jy akademies. Dis belangrik vir my dat kinders dit self ervaar.”

Jonelia Theron, oorsitter van die beheerliggaam by Laerskool Pierneef in die Moot, wys hoe ‘n digitale onderwysbord self kan hoor as ‘n klas dalk ietwat raserig raak en hulle tot stilte kan maan.

Digitale interaksie is nou ’n alledaagse deel van die leerplanne en in die klasse vanaf graad 1 tot 7.

“Ons sien en hoor dit op die stoepe hoe die kinders en onderwysers hiervan praat. Dit gons behoorlik van opgewondenheid. Dis nie net die kinders wat gaande is nie, maar die onderwysers ook.”

Die digitale skerms met leerinhoud bring nie net kleur en beweging in die klas nie, maar maak ook die leerwêreld meer toeganklik.

In plaas van om bloot prentjies van byvoorbeeld hyskrane of motors in handboeke te wys, kan onderwysers nou video’s speel om werklike prosesse in aksie te wys.

“Leerders hoef nie meer net te kyk en te luister nie. Ons kan wys en verduidelik en hul insette onmiddellik kry. Dit maak ’n verskil, want kinders leer visueel, ouditief, en deur ervaring. Dié interaktiewe borde spreek al drie hierdie leerstyle aan,” verduidelik Thompson.

Wat as ’n kind afwesig is?

“Geen probleem nie,” sê hy. “Ons laai die digitale lesse soos opgeneem op die WhatsApp-klasgroepe. Kinders kan eenvoudig ’n QR-kode skandeer en die les herhaal by die huis. Selfs ouers weet dan presies hoe dit verduidelik is.”

Die verandering is ook merkbaar in die personeelkamer. Onderwysers spandeer al hoe meer tyd aan die ontwikkeling van hul eie kreatiwiteit en interaksie.

“Sodra ’n les opgestel is, kan jy dit jaar op jaar aanpas, verbeter, en vinniger aanbied. Dit halveer jou beplanningstyd. Die programme is ook in lyn met leerplanne soos deur die Department van Onderwys voorgeskryf. Jy is dus altyd op koers.”

Ruard Pienaar, hoofseun van Laerskool Pierneef in die Moot, en Stefan Thompson, skoolhoof.

Daar is ook ’n groter beweging by die skool na meer gevorderde digitale vaardighede soos kodering en robotika.

Thompson sê: “Ons begin volgende jaar met robotika-leerplanne. Dis belangrik dat ons kinders voorberei vir ’n wêreld waarin KI (Kunsmatige Intelligensie) al hoe meer prominent raak. Laerskool is waar die boustene gelê word. Ons kinders moet gereed wees vir die grootmenswêreld.”

Jonelia Theron, voorsitter van die beheerliggaam, vertel: “Ek het nog nooit klasse so stil gesien nie. My seuntjie het op pad huis toe in die kar gister presies vertel wat in die klas tydens so ’n digitale leersessie gebeur het. Hy kon alles onthou. Die hele leerproses het deel van hul daaglikse wêreld geword.”

Theron sê verder: “Ons is ongelooflik opgewonde. Ons is ’n klein skool, maar ons wil die béste vir ons kinders bied.”

Alhoewel die nuwe tegnologie ’n groot sprong vorentoe is, bly die skool toegewyd aan sy waardes.

“Ons is en bly ’n selfoonvrye skool,” sê Thompson. “Kinders moet steeds leer fokus en gesels, maar ons bemagtig die onderwysers met die regte hulpmiddels. Die hele klas is skielik betrokke. Niemand bly agter nie.”

Hoofseun Ruard Pienaar getuig self van die verskil: “Onderwysers soos ons Wiskunde-onderwyser spandeer nie meer baie tyd om vorms te teken nie. Die bord maak als reg. Ek kan alles beter sien, en dit help my baie met wiskunde. Een van my vriende verstaan nou sommer Wiskunde baie beter. Dit help regtig.”

– Kliek hier om die bord in werking te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button