Pret, passie en persoonlike oorwinnings by toekennings
Onafhanklike kunstenaars het weer bewys hulle kan met passie, harde werk en egtheid, ’n impak maak. Van opkomende sterre tot gevestigde legendes, het die toekenningsaand hoop en talent versinnebeeld.
In ’n glansryke viering van onafhanklike musiek, het die Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaarstoekennings op 5 Augustus weereens gewys dat Suid-Afrikaanse talent sonder vaste verbintenisse met groot musiekmaatskappye helder skyn.
Die toekenningsgeleentheid, wat jare gelede in ’n kroeg afgeskop het, het nou gegroei tot een van die land se mees unieke musiekvieringe en vanjaar se byeenkoms was propvol sterre, emosie en inspirasie.
Met Rea le Roux, stigter van Rea Le Roux Musiek, aan die stuur, het die aand ’n feestelike en dankbare toon gehad.
“Toe ons begin het, het niemand geweet of dit ooit sou groei nie. En kyk nou, onafhanklike kunstenaars neem die musiekstroomdienste oor!” het sy trots gesê.
Van kontantpryse tot lewenslange erkenningtoekennings: vir elke musiekliefhebber was daar te kies en te keur onder die room van Suid-Afrikaanse talent.
Liesl Ahlers het die gehoor bekoor met haar ontvangs van ’n kontantprys vir “Soen my sag”, die temalied van die fliek, The Forest. Met trane in haar oë het sy die R20 000 prys as “’n spesiale geskenk van die Here” beskryf.

Rudi Claase, ’n gunstelingliedjieskrywer van talle kunstenaars, het ’n dubbele eer ontvang: vir sy Geestelike Enkelsnit van die Jaar, én ’n spesiale 25-jaar bydrae-toekenning vir sy ongelooflike werk as liedjieskrywer. “God is so groot,” het hy uitgeroep. ’n Ware voorbeeld van volharding, ondanks gesondheidsuitdagings.
Die legendes Valiant Swart en Amanda Strydom het lewenslange bydrae-toekennings ontvang met staande ovasies as legendes in die Afrikaanse musiekwêreld.

Die Franco Prinsloo-groep het drie toekennings ingepalm. Franco Prinsloo, Eugene Joubert, Chris Vale en Marilize Venter het Beste Klassieke Enkelsnit, Beste Klassieke Album en Beste Instrumentale Enkelsnit gewen.

Wynand Kotze, oftewel die kleurvolle drag-kunstenaar (fopdosser) Tollie Parton, het die gehoor laat skaterlag én laat dink toe hy twee pryse in die komediekategorie ontvang het. Sy toespraak het die 100-jarige bestaan van Afrikaans gevier.
“Afrikaans is meer as rugby en K-Way baadjies!” het hy skertsend maar betekenisvol opgemerk.
Cunning Brad, wenner van Beste Volwasse Kontemporêre Album, het op die belangrikheid van egtheid vir ’n onafhanklike kunstenaar gefokus. “Ek werk om anders en ’n onafhanklike kunstenaar te wees en te bly. Integriteit is my kompas.”

Die saamgestelde groep, The Dadness, bestaande uit vier pa’s uit die omgewing van Pretoria, het die kategorie vir Beste Nuwelinge gewen. Hulle is oorspronklik deur hul kinders genomineer vir ’n radioprojek om as groep saam te speel en tot hul eie grootste verbasing staan hulle toe met ’n toekenning in die hand.
Babette Labuschagne se storie het harte geroer. Na ’n stryd teen borskanker en ’n lewe van ander se opinies trotseer, het sy haar plek op die verhoog herwin na sewe jaar se afwesigheid. Haar duet met Mark Beling, “Crying in the Rain”, is as Beste Duo Enkelsnit bekroon. “Jy is nie wat ander mense sê jy is nie,” het sy ander musikante gemotiveer.

Elandré Schwartz, wat as Beste Manlike Kunstenaar aangewys is, het die gehoor herinner dat sukses nie net oor talent gaan nie, maar oor die mense wat jou ondersteun.
Janie Bay, wat met haar kenmerkende styl die Vroulike Kunstenaar van die Jaar gewen het, het hulde gebring aan die ontslape sanger Jan Bloukaas.

Meer hoogtepunte van die aand was Vernon Barnard, gesiggestremde kunstenaar, wat ’n tienjaar-eretoekenning ontvang het vir sy bydrae tot die bedryf. Sy weergawe van “Story of my Life” het die gehoor aangedaan gelaat. Hy is veral bekend vir hierdie liedjie se weergawe wat hy tydens die oudisie vir die TV-talentkompetisie, The Voice, in 2016 gesing het.

Die aanbieders, soos Gruben Parker en Francois van Rensburg, het ook toekennings oorhandig aan Jennifer Zamudio vir haar treffer Beste Enkelsnit, en aan Elme Churr en Leon Gropp vir hul weergawe van “Wees lief vir my in Afrikaans” vir beste duetpaar.

Die Laeveldse groep, Zondagkraal, het met twee pryse weggestap, waaronder Beste Southern Rock Album en groeplid Roelf Fritz is as Beste Manlike Liedjieskrywer aangewys.
Die tegniese meesterbrein Jean Marc Meyer is bekroon as Beste Musiekvervaardiger.
– Kliek hier om na Valiant Swart tydens die toekennings te kyk: https://www.facebook.com/ontbytsake/videos/1078804250525050
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
