News

Pretoria-skole blink uit by ATKV-Applous

Pretoria-skole het tydens ATKV-Applous 2025 uitstekend presteer. Hatfield Christian School, Die Hoërskool Menlopark en die Afrikaanse Hoër Seunskool is as wenners in hul onderskeie kategorieë aangewys. Die finaal is by Unisa aangebied met 36 finaliste uit 292 kore.

Drie Pretoria-skole het vanjaar hul stemme met indrukwekkende sukses laat hoor tydens die ATKV-Applous 2025-finaal wat van 30 Julie tot 2 Augustus in die ZK Matthews-saal by Unisa in Pretoria plaasgevind het.

Hierdie prestige-kompetisie, wat reeds vir die 48ste keer aangebied is, is die oudste en mees gesiene skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika.

Met meer as 20 000 leerlinge uit 292 kore van regoor Suid-Afrika en Namibië wat aan die streeksfeeste in Mei deelgeneem het, was die finaal die hoogtepunt van maande se harde werk en toewyding.

Die Hoërskool Menlopark-koor. Foto: Facebook/Die Hoërskool Menlopark

In totaal het 36 kore in 11 kategorieë aan die finaal deelgeneem, met Pretoria wat trots kan wees op sy uitstekende verteenwoordiging.

Op Vrydag, 1 Augustus het Hatfield Christian School die gehoor betower en is as wenners in die Hoërskool-meriete: Gemeng-kategorie aangewys, ’n bewys van hul tegniese vaardigheid en musikale interpretasie.

Die glansaand op Saterdag, 2 Augustus het nóg twee Pretoria-skole in die kollig geplaas.

In die Hoërskool-prestige: Gemeng-kategorie het Die Hoërskool Menlopark met ’n cum laude-prestasie die eerste plek behaal.

In die Hoërskool-prestige: Seuns-kategorie het die Afrikaanse Hoër Seunskool die trofee huis toe geneem en bewys waarom hulle jaar ná jaar as musikale leiers beskou word.

Die Hatfield Christian School-koor. Foto: Verskaf

Volgens Corneli Quinn, projekorganiseerder van ATKV-Applous, is die kompetisie nie net ’n platform vir musikale uitnemendheid nie, maar ook ’n geleentheid vir karaktervorming.

“’n Skoolkoorkompetisie soos ATKV-Applous is van sleutelbelang,” sê sy. “Dit inspireer hoë standaarde in klankuitvoering, musikaliteit en interpretasie. Kore word aangemoedig om hul tegniek te verfyn, met repertoire te eksperimenteer en saam te werk om gepoleerde optredes te lewer.”

Sy voeg by dat koorlede tydens die proses waardevolle lewensvaardighede aanleer: van dissipline en deursettingsvermoë tot spanwerk en verantwoordelikheid.

ATKV-Applous bevorder musikale uitnemendheid en belangrike lewensvaardighede.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button