News

‘Vergete’ buurte ly al hoe meer onder metro-verwaarlosing

Buurte soos Villieria, Gezina, Rietfontein en Capital Park ly onder misdaad, swak dienslewering en gebrekkige straatligte. Die donkerte snags bemoeilik patrollies, verhoog ongelukke en bevorder misdaad.

In woonbuurte in die Moot soos Gezina, Rietfontein, Villieria en Capital Park werk straatligte selde, dienslewering is gebrekkig, misdadigers maak gebruik van die donker om toe te slaan en kommunes verhoog die druk op die wankelende infrastruktuur.

Bejaardes en lae-inkomste-inwoners leef in voortdurende vrees, met min ondersteuning van die metro.

Hierdie gemeenskappe roep om hulp vir herstelde straatligte, veiligheid, en vir ’n stad wat sy verpligting teenoor ál sy inwoners ernstig opneem, maar dit blyk asof die areas Pretoria se vergete woonbuurte geword het.

Dit is die mening van raadslid Mari Joubert van die Vryheidsfront Plus.

“Ek dink een van die redes vir toenemende misdaad is dat bure nie meer op die uitkyk vir mekaar se beste belange is nie,” sê Joubert.

Sy glo hierdie verlies aan gemeenskapsamehorigheid maak dit vir misdadigers maklik om ongesiens toe te slaan.

Een van die mees uitstaande probleme in dié gebiede is egter die stukkende straatligte of eerder, die gebrek aan werkende straatligte.

Maar selfs toe inwoners van die Moot onlangs hul geld en moeite ingespan het om strate veiliger te maak en 14 sonkragligte in die gebied te installeer as ’n daad van gemeenskapsamewerking en hoop, is die nuwe straatligte gesteel.

“Die inwoners se hoop is gou gekniehalter toe booswigte in drie weke sewe van die straatligte gesteel het. Hierdie misdaad is nie net ’n finansiële terugslag nie, maar bedreig ook inwoners se veiligheid,” sê Joubert.

“In Capital Park is daar beslis meer ligte wat nie werk nie as wat wel werk,” sê Richard Jansen van Vuuren, woordvoerder van die sektorpolisiëringsforum van Subsektor Capital Park. “Die lig voor my eie huis was self vir vier jaar af.”

Hy wys daarop dat dit nie ’n uitsondering is nie, maar eerder die norm is in groot dele van die Moot.

Patrollies in die aande moet dikwels deur pikdonker strate beweeg, waar net drie of vier straatligte per straat dalk werk.

“In sulke donkerte is dit nie net moeilik om verdagtes raak te sien nie. Dit maak ook gewone padgebruikers kwesbaar. Slaggate, wat in sommige strate kniediep is, is snags onsigbaar. Inwoners vertel ons gereeld hoe hulle bande moes vervang ná voertuie in die donker ’n slaggat in die pad raakgery het,” vertel Jansen van Vuuren.

Die gebrek aan beligting beïnvloed ook ander noodsituasies ernstig. Wanneer daar padongelukke of mediese noodgevalle is, is dit byna onmoontlik vir nooddienste om vinnig en doeltreffend op te tree.

“As elke sekonde tel kan ’n straatlig wat skyn, die verskil beteken tussen lewe en dood,” glo Jansen van Vuuren.

Jacques Broodryk, woordvoerder van AfriForum oor veiligheid en buurtwagte, noem die nie-werkende straatligte ’n “groot bron van kommer” en wys daarop dat swak instandhouding en onverskilligheid van die metro ’n direkte bydrae lewer tot die toenemende misdaadsyfers.

“Wanneer patrolleerders en veiligheidsmaatskappye in die donker moet werk, raak hulle sigbaarheid en reaksievermoë beperk. Sigbare patrollies wat in die lig van die straatligte gesien kan word, is ’n goeie afskrikmiddel.”

Hy meld dat misdaad in die areas verskeie vorme aanneem: gewapende rooftogte, selfone en beursies wat in die strate gesteel word, motors wat oopgebreek word, hekmotors en watermeters wat in die nag verdwyn. Fietse en gasbottels word ook deur diewe geteiken sowel as bakkies by skoolgeleenthede,

“Ons probeer ons bes, maar dit is ’n stryd om veral muurspringers snags betyds raak te sien,” sê Broodryk.

Joubert glo die metro is ongeërg oor die probleme van hierdie woonbuurte. Volgens haar ontvang gebiede soos Queenswood infrastruktuur-bywerkings van die metro, maar word buurte in die omgewing daarvan eenvoudig geïgnoreer.

“Hierdie is Pretoria se vergete woonbuurte waar beter dienslewering selde ter sprake kom wanneer die metro besluite neem,” sê Joubert.

“Dit lyk asof mense wat nie die middele het om te verhuis nie, moet maar op hul eie klaarkom.”

’n Ander kommerwekkende faktor is die teenwoordigheid van herwinnaars. Alhoewel hulle volgens Joubert op die oog af op soek is na herwinbare materiaal, tree hulle soms as “verkenners” op vir misdadigers.

“Uiteraard is nie almal in dié sektor betrokke by kriminele aktiwiteite nie. Daar is baie eerlike werkers vir wie dit ’n bestaan beteken. Maar die werklikheid is dat sommige van hul aktiwiteite verdag is, veral wanneer hulle in die buurte in spruite of oop gebiede slaap,” wys Joubert uit.

Wat van gemeenskapsinisiatiewe?

“In hierdie gebiede is daar WhatsApp-groepe met ’n groot ledetal om gevalle van misdaad en selfs brande te rapporteer. Veiligheidsmaatskappye lewer wél ’n groot bydrae, maar dit bly ’n voorreg van dié wat dit kan bekostig,” glo sy.

Joubert sê vir die meeste inwoners in die buurte is sulke dienste ’n luukse wat buite hul bereik is.

Die gevolglike leemte word gevul deur sektorpolisiëring en gemeenskapslede. Maar sonder die nodige ondersteuning van die metro om ligte te vervang en te herstel wanneer dit nie werk nie, glo sy is die geveg deur misdadigers gewen nog voor dit werklik begin het.

“Ons vra dat die stadsraad moet luister na ons pleidooie. Dele van Villieria, Rietfontein, Gezina en Capital Park is saans pikdonker,” sê Joubert. “Gaan staan op Tom Jenkins-rylaan op die heuwel en as jy noord kyk, sal jy sien hoe donker dit na links lyk waar hierdie buurte is, maar hoe belig die oostekant van Pretoria is.”

Sy glo daar is ook ’n dringende behoefte by inwoners dat die metro-polisiëringspanne hul verantwoordelikhede meer ernstig moet opneem. Sy wys daarop dat klagtes dikwels geïgnoreer word en dat opvolgwerk ontbreek.

“Die stad het ’n plig teenoor ál sy inwoners, ook dié in die vergete buurte. Die voortdurende verval van infrastruktuur, onwettige kommunes wat die stelsels oorlaai, en die afwesigheid van wetstoepassing is kwessies waaraan die metro kan en moet werk. Pretoria kán nie bekostig om hierdie dele van die stad langer te ignoreer nie.”

Marinda Austin, polisie-woordvoerder van Villieria, sê in die Moot-gebied het die polisie ’n duidelike verband tussen swak straatbeligting en verhoogde misdaad opgemerk.

“Misdadigers saboteer dikwels ligte deur kabels te sny of koper te stroop, en hou areas doelbewus donker om makliker misdaad te pleeg. Goed-beligte strate is bekend daarvoor dat hulle opportunistiese misdade afskrik deur sigbaarheid en gemeenskapsveiligheid te verbeter. Behoorlike straatbeligting kan misdaad drasties verminder.”

Sy verduidelik die herstel en beskerming van straatbeligting in gebiede gaan nie net oor funksionele infrastruktuur nie.

“Dit gaan oor veiligheid, waardigheid en die reg van elke inwoner om veilig in hul eie gemeenskap te voel. ’n Goed-beligte straat is ’n veiliger straat. Dit ontmoedig misdaad, ondersteun effektiewe polisiëring en moedig openbare teenwoordigheid na donker aan. Deur in behoorlike beligting te belê en die sabotasie daarvan te voorkom, kan die metro ’n belangrike stap neem in die rigting van die terugwinning van ons openbare ruimtes en die bou van ’n veiliger toekoms vir almal.”

Volgens die metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, is die kragonderbrekings te wyte aan ’n kombinasie van sabotasie, diefstal, tegniese foute en onwettige konneksies.

Die metro het bevestig dat talle diensklagtes deur inwoners aangemeld is. Tydens die 2024/25-boekjaar het die metro 1 753 diensversoeke in die omgewing ontvang, waarvan slegs 709 afgehandel is, met 1 043 wat steeds uitstaande is: ’n voltooiingskoers van 40%.

Die situasie het vererger in die 2025/26-boekjaar, met ’n prestasiekoers van minder as 10% tot dusver.

Mashigo het beklemtoon dat die metro aktief besig is met ’n plan om die foute aan te spreek. “Ons instandhoudingspan sal die betrokke areas tussen 7 en 21 Augustus aandag gee,” het hy bevestig.

Vordering word egter verhinder deur infrastruktuur- en begrotingsbeperkings.

“Sporadiese sabotasie veroorsaak dat daar oor lang afstande nuwe kabels gespan moet word, wat ’n onbeplande toekenning van hulpbronne van ons reeds oorbelaste spanne verg,” het Mashigo verduidelik.

Om inwoners by te staan, bied die metro verskeie klagkanale aan, insluitend die oproepsentrum, WhatsApp-portale en eskalasies via raadslede.

Mashigo het bygevoeg: “Bywerkings en maandelikse verslae word via aangewese portale beskikbaar gestel om die publiek op hoogte te hou.”

As deel van die poging om herstelwerk te versnel, is daar sedert Maart twee hyskraan-voertuie vir ’n tydperk van drie dae in die streek ontplooi, wat bygedra het tot herstelwerk in verskeie gebiede.

Ten spyte van hierdie stappe bly die agterstand beduidend, en inwoners word aangemoedig om foute aan te meld terwyl die metro sy pogings verskerp om betroubare straatligte te herstel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button