Be-Atitudes Blessings Boutique bring hoop en hulp
Drie nuwe projekte wat ter voltooiing gekom het, wys twee kinderhuise gaan vasberade voort met ontwikkeling vir hul bewoners ten spyte van laer subsidies en 'n moeilike ekonomiese klimaat.
Met ’n naam soos Be-Atitudes Blessings Boutique kan mens kwalik iets anders as iets spesiaal verwag en dié boetiek stel beslis nie teleur nie.
Hierdie nuwe toevoeging tot die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis op die terrein van die Jakaranda-kinderhuis in East Lynne is nie net ’n stylvolle winkel vol glans skeppings nie, maar ’n simbool van hoop, liefde en betrokkenheid.

Angelique Coldron en haar twee dogters, Skye Coutinho en Meleri Coutinho, van die bekende ingenieursfirma, Rost Precision Engineering, is saam met die personeel van die kinderhuise die dryfkrag agter hierdie inisiatief.
Die ma en haar twee dogters is geen vreemdelinge by die kinderhuise nie. Reeds vir ’n wyle bederf hulle die meer as 300 kinders met kleurvolle, kreatief-toegedraaide Kerspakkies sowel as Paaseiers.
“Om te gee, het altyd ’n kringeffek,” sê Angelique met ’n glimlag. “As jy iets uit die hart aangee, dan is die kans goed iemand anders gaan ook inspring om te help. Geldelike ondersteuning aan hierdie boetiekprojek is ’n produk van ons gesin se dankbaarheid en ’n manier om die Here te dien.”


Be-Atitudes Blessings Boutique het sy ontstaan uit ’n hartswens van die kinderhuispersoneel gekry om hul kinderhuisbewoners met waardigheid ’n onvergeetlike ervaring te bied.
Wat as ’n eenvoudige wens begin het, het vinnig ontwikkel in ’n kleurryke sentrum om te sorg almal kan hulle beste voetjie voorsit deur self van die winkelrakke van die glansryke geskenkrokke en pakke te kies.
Daar is ook talle rakke vol blink gepoleerde skoene vir die seuns en hoëhakskoene vir die meisies sowel as bykomstighede soos juwele en dasse.
Die boetiek dien ook as ’n ruimte waar diegene wat matriekafskeid toe gaan, voorberei kan word vir hul spesiale matriekafskeid: van grimering tot haarstilering en selfs ’n gemaklike wagkamer waar hulle hul beurt kan afwag.
Sy moedig ook ouers van leerders (dogters en seuns) wat nie uitrustings vir matriekafskeidfunksies kan bekostig nie, om met die Jakaranda-kinderhuis in aanraking te kom om te sien of ’n plan nie moontlik gemaak kan word nie.
As deel van hul deurlopende ondersteuning het die gesin ook saam met die kinderhuise gewerk om geriewe by die Jakaranda-huiswerksentrum in te stel en die gebou op te knap.

Vir hul matriekafskeid sal bewoners van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis uit die talle skoene kan kies. Foto: Elize ParkerHierdie sentrum is nou ’n rustige ruimte waar leerders toegang het tot boeke, leerareas en sommer net ’n bietjie vrede.
Van die kamers is nou ingerig as terapiekamers, waar ’n spraakterapeut binnekort op gereelde basis met kinders sal werk.
Renéé Marchand is aangestel om leerondersteuning aan die kinders te bied, ’n welkome toevoeging tot die kinderhuise se metodes om hul bewoners tot akademiese sukses te lei.
Die subsidie van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aan organisasies sonder winsbejag is vanjaar nog verder gesny én laat uitbetaal, wat kinderhuise in ’n moeilike posisie geplaas het. Gelukkig het die gemeenskap opgestaan en gehelp.
“Ons sal nooit die gemeenskap genoeg kan bedank nie,” sê Charlene Grobler, uitvoerende bestuurder van die kinderhuise. “In die moeilike tyd vanjaar toe ons sonder inkomste was, het hulle ons staande gehou.”
Met ’n skenking van meubels deur ’n hotelgroep is daar ook by Jakaranda-kinderhuis ’n konferensielokaal ingerig wat nou verhuur kan word aan instansies.
Dis nog ’n manier waarop die kinderhuis poog om meer selfonderhoudend te wees. Die vertrek is reeds twee keer suksesvol uitverhuur.
Al hierdie projekte, van die boetiek tot die leer- en terapeutiese ruimtes, vertel ’n storie van hoop, van ’n gemeenskap in Pretoria wat nie wegkyk van die nood van weerlose kinders nie, sowel as van sterk en visioenêre leierskap.
“Ons wil hê die kinders moet trots wees op wie ons is en op wie húlle is,” sê Grobler. “En inderdaad, met die oop hande en harte van mense soos al ons skenkers in ons noodtyd vanjaar, is die toekoms van dié kinders soos die boetiek se naam sê, geseënd.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
