News

Skole vang gees in aanloop tot Centurion Gemeenskapsfees

Die Centurion Gemeenskapsfees op 27 September steun nege Afrikaanse skole, bied vermaak en ’n fondsinsameling, en vestig ’n studiefonds vir rentevrye lenings aan plaaslike leerders.

Nagenoeg 3 500 leerders van Hoërskool Centurion en Hoërskool Zwartkop het begin om hul vere reg te skud vir die Centurion Gemeenskapsforum se eerste gemeenskapsfees wat in September plaasvind.

Die gemeenskapsforum bestaan uit plaaslike instellings wat hulle beywer om wedersydse ondersteuning te bewerkstellig, gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder en gesamentlike oorhoofse beplanning te doen om ’n sterk, selfstandige gemeenskap te vestig wat op ’n verskeidenheid terreine aktief tot voordeel van die gemeenskap werk.

In opbou tot vanjaar se fees, wat op Saterdag, 27 September by die Voortrekkermonument plaasvind, het dié forum saam met verskeie rolspelers besoek by Hoërskool Centurion en Hoërskool Zwartkop afgelê.

Bekende kunstenaars soos Kurt Darren, Ghapi en Leandri Martin het tydens die besoek aan Hoërskool Centurion vir ’n onvergeetlike atmosfeer gesorg, met honderde leerders wat saam gees gevang het vir ’n spesiale OntbytSake-insetsel met Pretoria FM wat regstreeks vanaf die skool uitgesaai het.

Sanger Ghapi het met ‘n afskopgeleentheid by Hoërskool Zwartkop die Centurion Gemeenskapsforum se eerste gemeenskapsfees wat in September plaasvind, geloods. Foto: Verskaf

“Dié gemeenskapsfees is ’n unieke inisiatief wat nege Afrikaanse skole in Centurion saambring. Dit gee ons die geleentheid om fondse in te samel om in ons skole, onderwysers en uiteindelik ons leerders te belê. Ons beoog om gebalanseerde jong volwassenes die wêreld in te stuur met sterk akademiese, sport- en kultuurblootstelling,” sê die skoolhoof, Lappie Labuschagne.

Dr. Dewald Strydom, hoof van Hoërskool Zwartkop, beaam dié sentiment: “Ons skole vervul vandag die sentrale rol wat kerke vroeër in gemeenskappe gespeel het. Deur saam te werk met ander skole, ondernemings en instansies in Centurion, bou ons nie net ’n sterker gemeenskap nie maar ons bou aan ons land se toekoms. Dat die opbrengs van die fees in ’n gemeenskapstudiefonds beland, wys dat hierdie projek werklik iets teruggee.”

Beide skole sal op die feesdag met talent spog.

Hoërskool Zwartkop se All Stars, Zwarimbas, Sêr-groep en soliste tree op, terwyl Hoërskool Centurion se leerders, insluitend die opkomende sangeres Jade van Huyssteen (wat reeds met ’n enkelsnit op Spotify spog), ook die verhoog sal deel.

Die Centurion Gemeenskapsfees sal ook iets vir elkeen bied: ’n boere- en tierlantyntjiesmark, skooltalent en ’n gemeenskapskombuis, tot ’n pretloop en bergfietswedren.

Die winste word ten volle aangewend vir die vestiging van die Centurion Skole-Studiefonds, wat beoog om plaaslike leerders deur rentevrye studielenings te ondersteun.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button