Skoolrevue vier taal met hart en siel
Afrikaans is veel meer as net ’n kommunikasie-instrument: dit is ’n draer van kultuur, emosie en identiteit. Hierop wys 'n revue by 'n skool in die Moot op ’n vrolike, dog betekenisvolle manier.
Met voete wat ritmies tik in die gehoor tydens twee opvoerings van ’n splinternuwe skoolrevue en harte wat warm klop van trots, het die Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma in die Moot onlangs hul eie besondere huldeblyk aan Afrikaans gelewer.
Hierdie jaar vier die taal sy honderdjarige bestaansjaar as ’n amptelike taal in Suid-Afrika.
Om dié mylpaal te vier, is ’n vrolike, kleurvolle en kreatiewe skoolrevue aangebied.

Die revue, getiteld My hartjie, my liefie – Afrikaansie is weg, het nie net gelag en musiek na die verhoog in die Doxa Deo-kerk in die Moot gebring nie, maar ook dieper vrae gestel oor hoe dié kosbare erfstuk beskerm kan word.
Vir skoolhoof Saskia Meijer was hierdie produksie veel meer as ’n skoolaktiwiteit.
“Dis vir ons ’n manier om te wys ons is toegewy aan die bewaring van ons taal, want ons beskou dit as ’n geskenk uit God se hand,” sê sy met opregte trots.

Die revue is ’n sprokie met ’n boodskap.
Dit vertel die verhaal van Dirk, ’n moderne prins in die land van Postmia, wat verlief raak. Soos in enige goeie sprokie, is daar ’n koningin met nare planne wat sy en sy geliefde se liefde én die voortbestaan van Afrikaans bedreig.
’n Wyse verteller, gespeel deur Elrike Buys, neem die gehoor saam op ’n reis waarin grotdwerge (vertolk deur personeel) en geheime spioene moet help om ’n koninklike te red.
Met liedjies van kunstenaars soos Refentse, Bobby van Jaarsveld, Jo Black en Kurt Darren se bekende “Hop, hop Spinnekop”, het die gehoor behoorlik saamgeleef.
Die choreografie was uitdagend, maar die leerders het dit met passie aangepak. Liedjies soos “Haar naam is Afrikaans” en “Tot my laaste uur” het nie net die verhoog laat lewe kry nie, maar ook die hartklop gewys van ’n taal wat springlewendig is.

Die span en revuespelers het die eerste helfte van die jaar aan die produksie gewerk en elke minuut van die harde werk het tot ’n afgeronde revue bygedra.
Isabel Vogel, personeellid en mede-organiseerder, het ook self opgetree. Sy het slim plaaslike verwysings en woordspel ingebou wat die Moot se unieke karakter weerspieël het.
Wiku van Rooyen, skrywer en choreograaf, sê dit was vir hom belangrik om te wys dat Afrikaans ’n voertaal én ’n verhoogtaal is. Hy waarsku egter dat Afrikaans, ondanks sy ryke geskiedenis, steeds bedreig word.
“Ek wou wys dat sosiale media nie noodwendig ’n vriend van Afrikaans is nie, en dat ons moet oppas vir die mengsel van Afrikaans en Engels wat die taal kan verwater. In die volgende 100 jaar moet ons waak teen sulke invloede,” verduidelik hy.

Vir Marius Visser, wat die hoofrol van Dirk gespeel het, was die ervaring onvergeetlik. “Aan die begin was ek baie senuweeagtig, maar later het ek dit net begin geniet. Dit bring die hele skool saam,” sê hy met ’n glimlag.
Buys glo die revue is ’n oulike storie met ’n les: “Ons moet oplettend wees vir wat sosiale media aan ons taal doen.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
